Jong Doktor Serfontein #1. Theunis Krogh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Jong Doktor Serfontein #1 - Theunis Krogh страница 5

Jong Doktor Serfontein #1 - Theunis Krogh Keurboslaan

Скачать книгу

kantoortjie ingaan en hy haar begin uitvra.

      Die vertrek is wit geverf. Die meubels bestaan net uit ’n groot tafel en twee stoele. Daar is nie eens ’n mat op die vloer nie. Maar daar is ’n groot venster met ’n pragtige uitsig oor die berge en vallei. Die nuweling kyk eers uit buitentoe voor hy vir Ria ’n stoel aanbied en self ook gaan sit.

      Hy luister aandagtig terwyl sy praat, en vra net af en toe ’n vraag.

      Toe doktor Serfontein alles wat nodig is van die skool se bedrywighede af weet, gaan hy bad en aantrek. Hy maak eers tydens aandete sy verskyning voor die skoliere.

      Die eetsaal is groot. Aan ses lang tafels sit sestig seuns van alle ouderdomme, van heel kleintjies tot kêrels van sestien of sewentien. Ria Mostert en die onderwysers sit elkeen aan die kop van ’n tafel.

      Vanaand is die eetsaal stiller as gewoonlik omdat almal die nuwe onderwyser so nuuskierig aankyk.

      “Jy’s reg!” sê Rossouw vir Wienand. “Hy het ’n gesig soos ’n Griekse god!”

      Wienand is besonder nors en antwoord nie. ’n Mens moet natuurlik met ’n nuwe onderwyser gek skeer. Dit is tradisie. Maar met hierdie een kan dit dalk gevaarlik raak, soos om met die leeu se snor te speel.

      Bokhorst, ’n twaalfjarige met wakker oë en bruin hare wat agter op sy kop in ’n onbeheerbare kroontjie regop staan, sit aan doktor Serfontein se tafel. Hy loer onderlangs na die nuwe meneer, wat so afgetrokke sit en ’n stuk brood tussen sy vingers frommel terwyl hy by die venster uitkyk.

      ’n Bord dik groentesop word voor elkeen neergesit. Doktor Serfontein kry syne natuurlik eerste. Nog steeds ingedagte sit hy sy lepel in sy sop.

      “Kyk, ouens!” sê Bokhorst skielik. ’n Grillerige dooie voorwerp lê op die rand van sy bord. “Daar was ’n wurm in my sop!”

      “Ag, dis niks!” sê klein Gerritson, een van Bokhorst se maats. “Hier sit hulle altyd wurms in die sop! Dis om vleis te spaar.”

      “Wat’s ’n wurm tussen vriende!” sê Willemse, nog ’n twaalfjarige met ’n bril en ’n intelligente gesig. “By die huis eet my klein boetie hulle vir poeding!”

      “Hou op met julle nonsens!” beveel Lategan, wat al vyftien is en soms probeer om oor die jongeres baas te speel.

      Maar die nuwe onderwyser reageer nie. Sy lepel bly in die bord lê, en sy sop word koud voordat dit saam met die leë borde weggevat word.

      Bokhorst het nog wurms in sy sak en hy probeer weer, maar die swart oë staar afwesig by die venster uit.

      Doktor Serfontein sien niks wat om hom gebeur nie. Hy is vasgevang in ’n diep depressie. Dit pak hom soms beet, en dan moet hy uithou totdat iets gebeur wat dit weer vir ’n rukkie laat verdwyn.

      Hy kom eers tot sy sinne nadat Lategan hom drie keer geroep het.

      “Meneer moet asseblief dank in meneer Schoonbee se plek. Almal wag.”

      Dis iets wat die nuweling nie verwag het nie. Om nou hier voor almal op te staan en hardop te praat, is byna meer as waarvoor hy kans sien. Maar hy staan op, meer as ’n kop langer as al die ander in die saal, en sê met sy sagte stem die dankgebed op wat sy pa altyd gebruik.

      Die seuns storm ordeloos buitentoe. Die eerste ontmoeting is verby.

      Meneer Dames, ’n man van so om en by veertig, nooi hom om in die personeelkamer te kom koffie drink.

      Doktor Serfontein bedank hom met ’n kopknik en stap saam na die ruim, taamlik gerieflike vertrek waar die personeel ontspan, kaart speel en af en toe huiswerk nasien.

      Die atmosfeer is nie juis gesellig nie.

      Die dorpie Keurboslaan is baie klein en bied maar min afleiding vir ’n ongetroude man. Die onderwysers is te veel van mekaar se geselskap afhanklik en irriteer mekaar duidelik.

      Doktor Serfontein wend ’n poging aan om sy nuwe kollegas te leer ken. Volgens mevrou Mostert is hulle almal mense wat weens gebrek aan geld en om verskeie ander redes nie hulle studies kon voltooi nie, en gevolglik net hier kon werk kry.

      Meneer Dames en ’n baie jong onderwyser, meneer Lambrecht, is die beste onder die ses. Dames is intelligent en opgevoed, maar effens depressief. Die skraal, donker Lambrecht lyk ook maar moedeloos.

      Menere Beunk en Meyer lyk te oud om nog onderwys te gee. Hulle lyk vanaand ook bang, asof hulle wonder wat hierdie nuweling se teenwoordigheid gaan beteken.

      Die laaste twee onderwysers, menere Van As en Austin, maak nie ’n goeie indruk nie. Hulle is jonk, deel allerhande grappe met mekaar, gee aan alles wat die ander sê ’n lelike kinkel en skater dan van die lag daaroor. Dames en Lambrecht kyk verleë na die visehoof, skaam oor hulle kollegas se kinderagtige gedrag.

      Doktor Serfontein praat min gedurende die lang aand. Hy luister net, terwyl hy die ander deur sy sigaretrook bestudeer.

      Maar teen halfelf vra hy skielik: “Hoe laat gaan die seuns slaap?”

      “Party agtuur, party sewe-uur,” sê meneer Dames.

      “Wie was vanaand op diens?”

      “O . . .” kom dit taamlik vaag, “Ria jaag hulle maar boontoe.”

      “Sewe- en agtuur is baie vroeg vir seuns van twaalf tot sestien.”

      “Ons doen dit maar so om hulle uit die pad te kry.”

      “Raak hulle dan so vroeg aan die slaap?”

      “Seker maar. Hulle woel natuurlik ’n bietjie, maar dan gaan klop Ria ’n paar keer aan die deure om stilte te kry.”

      “Is ’n vrou die enigste persoon in hierdie skool wat haar oor dissipline bekommer?” vra die sagte stem, met iets onder die sagtheid wat die geselsery in die vertrek soos ’n kraan toedraai.

      “Ja, sy is,” sê meneer Lambrecht bitter. Hy was self in ’n goeie skool en weet hoe dinge behoort te wees.

      Doktor Serfontein tik die as aan sy sigaret stadig met sy pinkie af. Soos hy nou frons, vorm sy wenkbroue ’n reguit lyn.

      Die seuns het ’n swaar aandete gehad. Daar was dik groentesop, bredie met aartappels en rys, en ’n ryk poeding. Byna onmiddellik daarna het die jonger kinders gaan slaap. Hulle kry deur die loop van die dag geen oefening en neem nie aan georganiseerde sport deel nie. Belangstelling in studies is maar min en hier is nie ’n biblioteek nie. Die enkele boeke wat ’n mens sien, kom van die seuns se huise af, maar nie een is eintlik ’n leser nie. Ria het hom dit alles vertel.

      Wat probeer hierdie skool dan eintlik bereik?

      Doktor Serfontein staan so skielik op dat sy nuwe kollegas skrik.

      “Goeienag,” sê hy en verlaat die vertrek.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте

Скачать книгу