Herinneringe aan Parys. André P. Brink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Herinneringe aan Parys - André P. Brink страница 3
Die motoris het saam met die gendarme by die motor aangekom, ingewip asof hy van g’n sout of water wis nie, en aanstalte gemaak om pad te gee; maar ’n Franse geregsdienaar skud jy nie só maklik af nie.
“Haai!” beveel hy streng. “Bly daar.”
Die motoris klim onmiddellik uit. Hy’s meer inskiklik as óns in Suid-Afrika, dink ek stilweg. Maar toe vra hy skielik bruusk: “Praat jy met mý?”
“Ek praat met jou, ja,” antwoord die konstabel. “Jy mag nie daar parkeer nie.”
“Ek parkeer nie meer nie. Ek is op pad om te ry.”
“Jy hét daar parkeer. En jy gaan boete betaal daarvoor.”
“Luister, my liewe vriend,” sê die motorbestuurder. “Wie betaal jou salaris?”
Die konstabel lyk ’n oomblik verbaas. “Die Regering, natuurlik,” sê hy dan kortaf. “Maar dit het niks met jóú te doen nie.”
“Nié? En waar dink jy kry die Regering sy geld? Dink jy nie dis ék as belastingbetaler wat jou help onderhou nie? En dan het jy die vermetelheid om mý te wil beboet!”
Die gendarme begin skryf. “Praat jy maar soos jy lekker kry,” sê hy bot. “Jy het g’n reg gehad om daar te parkeer nie.”
“En wáárom miskien nie?”
“Is jy blind? Kan jy nie sien dis vir parlementslede gereserveer nie?”
“Ja?” jou die bestuurder. “En is die parlement nie die simbool van ’n demokratiese land nie? Ek sê vir jou ek het die volste reg om hier te staan. Vryheid, gelykheid en broederskap!”
En daar het die argument toe eintlik eers begin. Dit het later te vinnig geword om te volg. Maar dié sin het ek onthou – die vryheid, gelykheid en broederskap. En ek het begin ontdek dat dit op baie verskillende manier geïnterpreteer word – veral in die verkeerswêreld. Hoofsaaklik beteken dit dat jy die volste reg het om enige ander mens so sleg te sê dat geen see ’n kans het om hom skoon te was nie. Aanvanklik ontstel dit ’n mens, hierdie bandelose uitskellery oor nietighede. Tot jy skielik op ’n dag ontdek dat daar nie werklik kwade gevoelens mee gepaard gaan nie. (Net af en toe: dan gebeur dit ook, soos onlangs, dat ’n motoris hom so vererg vir ’n voetganger wat hom amper in ’n ander motor laat vasry het, dat hy ’n rewolwer uitpluk en die voetganger doodskiet …)
Op ’n dag het ek naamlik in die omgewing van Montmartre (die “berg van martelare” waar die Impressioniste-skilders gaan woon het) twee motors heel liggies teen mekaar sien skraap. Op sigself was dit niks ongewoons nie, want hier sien jy aldag ongelukke voor jou gebeur, maar ’n taxibestuurder het my onlangs verseker: dis alles onbeduidend solank motors net opgefrommel en enkele mense vermink word – eers as dit “skouspelagtig” is, dán is dit ernstig.
Hoe dit ook sy, die twee het liggies teen mekaar geskraap, maar toe ewe rustig voortgery en eers tydsaam teen die randsteen gaan parkeer. Toe het die deure skielik oopgevlie en die bestuurders het uitgeklim. Hulle het geen skade probeer vasstel nie, maar reguit na mekaar gestap asof hulle ou vriende was wat mekaar onverwags herken het. Maar toe hulle bý mekaar kom, het die gesprek begin; en in soverre dit weergeebaar is, het dit ongeveer só verloop:
A: “Jou lae skurk! Is jy blind?”
B: “Skobbejak! Waarom vee jy nie jou oë ’n slag uit nie?”
A: “Idioot!”
B: “Moroon!”
Op daardie stadium het A se vrou begin uitpeul. Sy sit nog halfpad in die deur vas, toe sê sy, nie alte verfynd nie: “Domoor! Esel! Vir wat foeter jy in ons motor in?”
En B se vroulike passasier (jonger en welskapener) swiep óók toe uit en skree terug: “Toe jy, jou bepelsde gifbol! Jy was so toegeswerm onder jou kinders daar in die motor dat jy niks gesien het nie!”
Mevrou A: “En jý’t so aan jou rampsalige ventjie se nek gehang dat hy in ons vasgery het!”
Teen dié tyd het ’n kring omstanders van so ’n vyftig, sestig ook al vergader – en begin saampraat.
“Haai, leuenaar!” skree een vir A. “Moenie vir hóm beskuldig as jý te vrot is om agter ’n wiel te sit nie!”
En die volgende toeskouer roep vir die een wat pas gepraat het: “Jy’s sommer ’n bogsnuiter. Jy kyk in jou eie oogvelle vas!”
Binne tien minute dreun die hele omgewing. Dit skree en beduie en swaai arms. Ou mans met swart berets en lang brode, vroue met toutjiesakke met groente en melkbottels, jong mans met baarde en koerante, meisietjies met hare en suèdebaadjies, kinders, selfs ’n paar honde.
Eindelik kom ’n konstabel – wat die hele affêre rustig van oorkant die straat af staan en aanskou het – op sy dooie gemak nader.
“Konstabel!” skree mevrou A. “Stop hierdie skurke in die tronk. Dis húlle skuld!”
“Dis A se eie onbeholpenheid, die gans!” skree B.
“Ek het alles gesien,” verseker ’n toeskouer wat pas opgedaag het en nog half uitasem is. “Dit was beslis A.” Die konstabel steur hom aan geen mens nie. Hy haal sy boekie uit, skryf die name op, klap die boekie toe, en sê:
“Nou toe. Ry nou maar weer.”
A klim in sy motor. B klim in sy motor. Die omstanders raak weg. Die winkeliers loop terug in hul winkeltjies in. Die koppe verdwyn uit die vensters. Almal is doodgelukkig. Hulle het kans gehad om hul oortollige lewenskrag te gebruik. En niemand voel beledig nie.
Maar neem nou net hierdie “vryheid, gelykheid en broederskap” – hierdie reg om te skel – van die Fransman af, dan loop alles deurmekaar. Toe my vriend Naas ons oor Kersfees uit Londen besoek en sy motor saamgebring het, het ons die stad platgery; maar vir mense wat nog links wil swenk as daar regs gehou moet word, is bestuur in Parys soms só ’n rasende prosedure dat jy nie altyd betyds gewaar as ’n robot vir jou knipoog nie. En dié môre beland ons toe by ’n baie groot kruispunt net oorkant die brug van die Place de la Concorde af, téén die rooi lig in die pad van die dwarsverkeer. Die konstabel op diens skril sy fluitjie. Ons steek vierwiel vas.
Hy storm mantelswaaiend op ons af: “Onnosele gekke!”
“Jammer,” betuig ons in Engels. “Ons verstaan nie.”
Hy kyk in skielike wanhoop na ons, begin dan in ’n stortvloed woorde raas en skree en beduie, maar ons haal ons skouers sereen op en verstaan geen woord nie.
“Maar hemel! As julle nie verstaan nie, kan julle tog die rooi lig sien!”
“Ekskuus?”
Intussen wil die ander motors ry. Dit toet alkant. En die konstabel is verward omdat sy grootste wapen, die vryheid van slegsê, hom ontneem is. Wat help dit om te praat as niemand verstaan nie? En nou kan hy niks doen nie – ook nie die verkeer reël nie. Hy hol terug na sy beheerpunt, blaas sy fluitjie, probeer ’n paar motors verbybeduie, maar almal het nou vir almal vasgekeer. Hy hardloop besete heen en weer, blaas sy fluitjie, swaai sy vuis in ons rigting. Maar ons verstaan niks. Eindelik, woedend, laat hy ons ry, en skree nog agterna: