Tryna du Toit-omnibus 7. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 7 - Tryna du Toit страница 3

Tryna du Toit-omnibus 7 - Tryna du Toit

Скачать книгу

staan op, gaan na haar ma toe en soen haar op die wang. “Ek is jammer. Ek weet Mamma het baie hard gewerk om alles te reël en is seker baie teleurgesteld, maar liewer nou as later. En moenie oor my bekommerd wees nie. Ek is seker ek doen die regte ding. As Mamma wil, sal ek later saam na die Louws toe gaan. Ek hoop net nie hulle is kwaad vir my nie.”

      Met ’n ligte tred en heelwat ligter hart stap Cathy ’n paar minute later by die eetkamer uit. Sy was verniet so bang. Die gevreesde gesprek met haar ouers het makliker verloop as wat sy verwag het. Dis die gaafste van ’n mens se ouers, dink sy. Hulle kan soms so moeilik en onbegrypend wees, maar in tye van nood kan jy altyd op hulle staatmaak.

      In die eetkamer, waar haar ouers alleen agterbly, heers daar ’n swaar stilte. Daar is ’n bekommerde, ongelukkige uitdrukking op Elsabé Joubert se mooi gesig.

      “Wel!” sê sy en daar is ’n wêreld se gevoel in die enkele woordjie. “Dis hoe min ’n mens weet van wat werklik in jou kinders se harte omgaan. Ek het opgemerk Cathy is die afgelope tyd ’n bietjie stiller en meer afgetrokke, maar ek het gedink dis maar net bekommernis oor die eksamen en al die voorbereidings vir die troue. Wat haar verhouding met Andries betref, was ek houtgerus! Ek het gedink – soos almal wat hulle ken – dat hulle doodverlief en doodgelukkig is.”

      “Ons het die laaste maande maar min van Andries gesien,” merk haar man op.

      “Ek weet,” sê sy vrou en daar is ’n fronsie tussen haar gladde wenkbroue. “Dit was ’n moeilike jaar vir hom en daar was nie baie tyd vir Cathy nie.”

      “Dink jy dit is die moeilikheid? Dat sy afgeskeep en verwaarloos gevoel het, en elders troos gesoek en gekry het?”

      “Ek hoop nie so nie. Ek hoop sy is meer volwasse as dit. Maar ek voel baie ongelukkig. Ek sou ons dogter met ’n geruste hart by Andries agtergelaat het, maar ek sou nie graag wou sien dat sy met ’n man soos Jos de Lange trou nie.”

      “Jos de Lange? Jy dink tog nie regtig daar is so ’n moontlikheid nie?”

      “Sy het die afgelope tyd taamlik baie van hom gesien. Hulle stel albei belang in drama en musiek en het die afgelope jaar in dieselfde komitees gedien. Hulle is ook albei in die re-daksie van die jaarblad. Ek het nie baie van die vriendskap gehou nie, maar ek het nie regtig enige gevaar daarin gesien nie. Andries was al die jare haar held en die troudatum was vasgestel, haar trourok in wording. Hoe kon ek droom dat daar sulke dinge aan die broei is?”

      “Dit help nie om jouself nou te blameer nie. Cathy is mondig en seker oud genoeg om haar eie vriende te kies.”

      “Cathy is nog ’n kind en as haar ma is dit my plig om haar te waarsku. Ek kan mos nie toekyk hoe sy dinge doen wat ek weet haar diep ongelukkig sal maak nie.”

      “Dink jy sy sal na jou luister? Nee, Elsabé, ek is bevrees ons kan niks aan die situasie doen nie. As jy nou haar vriendskap met Jos de Lange teenstaan, dryf jy haar miskien net in sy arms. Laat haar begaan. Sy is ’n verstandige kind, ten spyte van haar dromerigheid, en ek is seker sy kan na haarself kyk.”

      Hy staan op, soen sy vrou en lê sy hand ’n oomblik vertroostend op haar skouer. Dan verdwyn hy in sy studeerkamer waar hy die res van die oggend met eksamenvraestelle besig sal wees. Ek moet ook opstaan, dink Elsabé, daar is werk om te doen. Maar sy is lamgeslaan, dit voel of haar hande afgekap is. Wat ’n skok en bittere teleurstelling. Al haar mooi planne en drome is in ’n oogwink vernietig. Wat kon gebeur het? Sy onthou nog so goed hoe gelukkig Cathy aan die begin van die jaar was toe sy en Andries verloof geraak het.

      Oorspronklik was hulle nie van plan om te trou voor Andries met sy hospitaaljaar klaar was nie. Maar toe haar en Pieter se oorsese planne kom, het hulle almal gedink dis beter dat die twee aan die einde van die jaar trou. Hulle kon ’n klein woonstelletjie huur naby die Volkshospitaal waar Andries ’n aanstelling gekry het, en Cathy sou natuurlik ook gaan werk. Sy en Pieter kon gerus weggaan in die wete dat hulle dogter in goeie hande is.

      Wat sal die Louws sê? Wynand Louw, Andries se stiefpa, is ’n vooraanstaande boer wat sy vrou ’n aantal jare gelede in ’n motorongeluk verloor het. Hulle was almal baie lief vir Wynand en bly toe hy met Magda de Wet, ’n weduwee, getrou het. Sy was ’n knap, hardwerkende vrou wat hom in alles ondersteun het en sy was lief en goed vir haar drie stiefkinders. Van sy kant af het Wynand ook vir Andries as sy eie seun aanvaar.

      Hulle was goeie vriende sowel as bure. Hulle het oor en weer gekuier en dikwels saam op Hermanus vakansie gehou. Andries was byna vyf jaar ouer as Cathy en hy het aanvanklik nie veel notisie van haar geneem nie, maar hy was van die begin af haar held. Met vakansies het Cathy en sy twee stiefsussies hom soos ’n skaduwee agtervolg, dikwels tot groot ergernis van Andries en sy maats, wie se planne nie altyd drie lastige langbeendogters ingesluit het nie. Later het hy en Cathy egter goeie maats geraak en Cathy se ouers het die groeiende vriendskap tussen die twee goedkeurend gadegeslaan. Andries was Cathy se eerste en enigste kêrel. Vir Cathy was daar nooit iemand anders as Andries nie en die twee het perfek by mekaar gepas.

      Sy kan maar nie glo dat dit nie net ’n klein misverstand is wat maklik uit die weg geruim kan word nie. As Cathy net nie so beslis oor die saak was nie! By haar is daar blykbaar geen twyfel nie. Maar voor sy iets doen, sal sy wag totdat sy met Andries gepraat en sy kant van die saak gehoor het.

      Dit is omtrent twaalfuur toe Andries se swart motortjie by Mon Désir se hek indraai en vinnig met die eikelaning na die huis aangery kom. Cathy sit en studeer in die somerhuisie en sy wonder of Andries direk na haar ouers toe sal gaan of eers met haar sal kom praat.

      Hoe voel hy vanoggend? wonder sy effens onrustig. Hy het gisteraand nie veel gesê nie, maar stilswyend geluister terwyl sy vertel van haar groeiende vertwyfeling en onsekerheid.

      “As jy onseker voel, wag ons liewer ’n rukkie,” het hy dadelik gerusstellend gesê. Ook hy het blykbaar gedink dis net senuwees en spanning. Hy was so gaaf dat sy byna nie die moed gehad het om vir hom te sê dat dit nie net ’n kwessie van uitstel was nie, maar dat sy ’n einde aan hulle verlowing wou maak. Selfs toe het hy nie veel gesê nie en slegs voorgestel dat hy die volgende dag met haar en haar ouers kom gesels.

      “Dit sal nie help om verder te gesels nie, ek sal nie van plan verander nie,” het sy gewaarsku.

      “Ek gaan jou nie dwing nie, Cathy,” het hy kalm gesê. “As jy nie met my wil trou nie, is dit die einde van die saak. As jy heeltemal seker is jy het my nie lief nie, sal ek jou help sover ek kan.”

      Ten spyte van sy gerusstelling het sy die nag maar min geslaap. Wat sal haar ma se reaksie wees? En haar pa s’n? Sal hulle haar nie probeer ompraat om maar met die troue voort te gaan nie?

      Andries parkeer sy motortjie langs die huis en kom dan na die somerhuisie toe waar hulle in die verlede so dikwels gekuier, gesels, geargumenteer en later planne vir die toekoms gemaak het. Hy het sy goeie pak aan, natuurlik ter ere van die onderhoud met die professor.

      Hy is ’n aantreklike jong man, skraal en tog sterk gebou, met donker hare en helderbruin oë. Eers toe hy nader kom, sien sy effens skuldig dat hy moeg en bleek lyk – asof hy die nag ook maar min geslaap het. Dit was seker nie baie bedagsaam van haar om hom op die vooraand van ’n belangrike eksamen met sulke dinge te konfronteer nie. Maar toe sy eers besluit het, moes sy dadelik met Andries praat.

      “Goed gegaan?” vra sy dadelik toe hy by haar kom.

      “Ek hoop so, dankie.” Meer sal sy nie uit hom kry nie, dit weet sy al. Hy kom sit langs haar en sy is bewus van sy ondersoekende blik.

      Sy glimlag effens verleë. “Wel?”

Скачать книгу