Uit die binneland. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die binneland - Dana Snyman страница 4

Uit die binneland - Dana Snyman

Скачать книгу

Hoender het oor die radio gekraai en op Landbouradio het ’n stem gesê: “Ons roep die landman.”

      Dit was aand en dit was môre, die vierde dag ná doktor Verwoerd se dood.

      10 September 1966.

      Van die rit stad toe onthou ek nie veel nie. Naby Brandfort, weet ek, het Pa langs die pad stilgehou, regoor ’n bordjie met ’n plaasnaam: De Aap. Dit was staatspresident C.R. Swart en sy vrou Nellie se plaas.

      Ons het altyd op pad see toe daar stilgehou om padkos te eet. Dan het Oupa altyd gemaak asof hy deur ’n verkyker na die opstal tussen die bloekombome kyk en goed gesê soos: “Kan jy glo, ou Blackie en ou Nellie is nog in hul gowns. Allamintig! Die ou lady het nog krullers in haar hare!” Of: “Ou Blackie-hulle eet vanmôre net pap en longe. Dalk moet ons hulle oornooi vir ’n ordintlike brekfis.”

      Maar daardie oggend het Oupa niks gesê nie. Ons het net daar langs die pad gestaan en ons padkos geëet. In die mandjie op die Fairline se dakrak het Oupa se duiwe geraas en hulle vlerke geklap. Oupa se favourite duif se naam was Kaptein, as ek reg onthou. En was daar nie een met die naam Jopie Fourie ook nie?

      Naby Pretoria het Oupa “Nader, my God, by U” begin fluit terwyl die waaiertjie op die Fairline se dashboard heen en weer gedraai het. (Oupa het altyd “Nader, my God, by U” gefluit wanneer ons naby die stad kom.)

      Ons is eers na oom Ys en antie Baba in Capital Park toe om ons kerkklere te gaan aantrek want die hele Pretoria was daardie dag ’n kerk. Niemand het hul karre hard ge-rev nie en ek moes skoene dra en oral teen die lamppale was luidsprekers waaroor die begrafnisdiens in die Uniegebou se amfiteater uitgesaai is.

      “Ek weet nie wat gaan nou van ons word nie, ou suster,” het oom Ys gesê en Ouma omhels. Antie Baba het swaar van die hortjiesbank op die stoep orent gekom. Sy was nie so vet van te veel eet nie. Dit was haar kliere.

      Die grootmense het ingegaan kombuis toe en oom Ys het vir hom en Pa en Oupa elkeen ’n tot whisky by hulle koffie gegooi. Of wag: Het oom Ys nie die whisky in hul koffie gegooi die keer toe die nuus oor die radio gekom het dat die resiesperd Sea Cottage geskiet is nie? Ek is meteens nie seker nie.

      Ek wens ek kan meer van daardie dag onthou.

      Ek wens ek kan meer van my hele verlede onthou. (Hoewel, soms wens ek ook ek kan alles vergeet.)

      Ons het tussen ’n klomp mense op ’n sypaadjie in Pretoria se middestad gaan wag vir die lykstoet om verby te kom. Ouma het die hele tyd my hand vasgehou en antie Baba het ’n swart hoed op gehad met ’n swart net wat oor haar gesig hang. Laag oor die geboue het drie Spitfires gevlieg gekom.

      Of eintlik onthou ek dit nie heeltemal só nie. Ek het net sulke vae beelde in my kop. Ouma se sterk hand. Swart nette oor vroue se gesigte. Geraas bo in die lug. ’n Man plat op sy boude op die sypaadjie met ’n sakdoek in die hand. ’n Spietkop met kamaste en sweetkolle onder sy arms. lemand wat vra: “Ek wonder wat gaan nou van Doktor se bulldog word, van ou Punch?” En iemand wat antwoord: “Hulle sal die ou dier seker maar uitsit.”

      Heel voor in die stoet het ’n kanonwa met doktor Verwoerd se kis daarop gery. Tant Betsie was agter ’n swart motor se donker ruite. En oral het soldate se stewels op die teer gestamp terwyl Ouma my hand al hoe stywer vasvat en Oupa die duiwemandjie op die Fairline se dakrak oopmaak en antie Baba ’n sakdoekie onder die swart net indruk en oor haar wange vee.

      Was ek ook hartseer? Of bekommerd? Of spyt?

      Ek weet nie, ek was vyf jaar oud. Ek het jare later eers verstaan.

      CV

      Ek dink Afrikaanse ouers wat hulle kinders na Engelse skole toe stuur, is verraaiers.

      Maar aan die ander kant wens ek soms ek kon op skool al goeie, aksentlose Engels leer praat het. Ek is skaam vir my lendelam Engels en wanneer ek Naas Botha of Marthinus van Schalkwyk op TV hoor Engels praat, kry ek namens hulle skaam vir hulle Engels.

      Dit beteken nie ek is nie besorg oor die voortbestaan van Afrikaans nie. Ek is. Maar ek is ook nie so besorg dat ek by die FAK, ATKV, Rapportryers, Praag, die Volkswag of die Groep van 63 sal aansluit nie. (Kan mens by die Groep van 63 aansluit of is daar vir net 63 mense plek?)

      Ek sal ook nie uit restaurante en winkels stap omdat hulle my nie in Afrikaans wil bedien nie, nes ek nie sal ophou Black Label drink omdat daar nie Afrikaans op die blikkies is nie.

      Jackie Nagtegaal se super cool Afrikaans en Dan Roodt se wit-warm drome laat my ewe ongemaklik voel. Ek sal dalk graag ’n Lamborghini soos Dan s’n wil hê maar ek wonder of ek ooit daarmee sal ry. Ek sal te bang wees ek trek motorkapers se aandag; deesdae is ek pal bang kapers skiet my.

      Allerhande dinge maak my deesdae bang.

      Ek is bang Nelson Mandela gaan dood.

      Ek is bang Jacob Zuma word die volgende staatspresident.

      Ek is bang ek gaan vir ’n griepinspuiting en word met die HIV-virus besmet of ’n verkeerspolisieman vang my in ’n spoedlokval en vra my vir omkoopgeld – en ek betaal dit! Of ek sê dinge wat my wit vriende sal laat dink ek is ’n rassis. (Om wit mense te oortuig ek is nie ’n rassis nie is deesdae vir my belangriker as om swart mense daarvan te oortuig.)

      Ek wil nie emigreer nie. Afrika klop in my are. Afrika is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. In Afrika sal ek tuis wees tot in lengte van dae.

      Maar soms wonder ek of ons met ons ligte velle nie maar net gaste hier in Afrika is nie – toenemend onwelkome gaste. En dan, byna dadelik, voel ek skuldig daaroor en wonder ek of ek nie ’n rassis is nie.

      In Orania voel ek net so ontuis as in die Silver Lakes Golf Estate tussen die Afrikaanse jappies.

      Daarom bly daar vir my net drie dinge oor: geloof, hoop en liefde – en die grootste hiervan is die 9 mm-parabellum wat ek onlangs gekoop het om my mee te beskerm.

      Soms betrap ek myself dat ek sê: “Wanneer gaan ons nou eendag ophou verskoning vra vir apartheid?” Dit terwyl ek nog niemand verskoning gevra het vir apartheid nie.

      Ná elf jaar in die nuwe Suid-Afrika het ek steeds ’n behoefte aan katarsis. Miskien sou dit gehelp het as P.W. Botha in 1995 biskop Tutu se uitnodiging aanvaar het om saam met hom hand aan hand deur George se strate te stap om voor die Waarheidskommissie te gaan getuig. Miskien sou daardie prentjie meer duidelikheid vir ons almal gebring het. Of miskien is dit maar net ’n bewys van my naïwiteit.

      Ek wil hê swart mense moet my erken as ’n mede-Afrikaan; een met ’n identiteitskrisis en opregte bedoelings. Ek wil myself ook vergewe omdat ek toegelaat het dat P.W. en die Broederbond, die Transvaalse Onderwysdepartement en die Suid-Afrikaanse Weermag my so lank mislei het.

      Ek wil vir niemand meer die bliksem in wees nie.

      Ek wil ook ophou om laat saans, ná die derde glas wyn, na Gé Korsten en die Briels en oom Chris Blignaut te luister en nostalgies te raak oor inryteaters, Haas Das, Griekse kafees, padkos, fotoboekies, vakansies op Hartenbos en ou Afrikaanse flieks. Asof alles toe beter was as nou. Asof daar nie ’n vals noot in elke herinnering is nie.

      Ek wil ophou wroeg oor die verlede. Maar ek weet nie hoe nie. Die Kerk sou my miskien kon help, maar ek kom nie eintlik meer in die kerk nie – al glo ek aan God en beskou ek myself as ’n Christen.

      Ek

Скачать книгу