Uit die binneland. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die binneland - Dana Snyman страница 6

Uit die binneland - Dana Snyman

Скачать книгу

kon nie meer nie. Ek het die goue pakkie oopgeskeur. Met bewende vingers.

      “Hy leun vorentoe met die begeerte wat warm in hom brand en plaas sy lippe op haar gul mond.”

      Ek dink dit was Stoffel wat gesê het ons moet op die huis se dak klim en met die gieter die Krêp de Tjaain vol water gooi – die eerste van baie dom, eienaardige dinge wat begeerte ons nog in ons lewe sou laat doen.

      Eers het ons die Krêp de Tjaain oor die gieter se bek getrek, toe die gieter stadig gekantel en die water in die Krêp de Tjaain laat inloop.

      Stil en verwonder het ons gekyk hoe dit swel en swel, tot dit later so groot soos ’n skaap se ingewande daar voor ons op die dak gelê het.

      “Haar asem is warm en innig en hy laat sy hand peristalties oor haar maag gly”.

      Toe het ons die Krêp de Tjaain toegeknoop en, sonder om ’n woord vir mekaar te sê, ons hande onder die ding ingewerk en dit versigtig opgelig.

      “Neem my,” het sy met ’n bewende stem in sy oor gefluister. “Neem my, my liefling.”

      Toe, met die Krêp de Tjaain in ons arms, het ons tot by die dak se rand gestap.

      Op die grasperk het ’n sproeier in die rondte gedraai.

      En toe neem hy haar.

      Ons het daardie Krêp de Tjaain gelos en gekyk hoe dit grond toe tuimel, af, af, af, gevolg deur ’n oerkreet diep uit ons binneste: “A-hoe-hoe-ha-haa!”

      Soms wens ek ek het daardie voos gevatte goue pakkie gehou. Ek sou dit laat raam en teen my muur gehang het. Retro-kuns.

      Sodat ek kan onthou hoe onskuldig ons eens op ’n tyd was.

      Die rooi haan

      Nou die middag ná werk ry ek uit Pretoria. Met die N1. Suid. By Bloemfontein verby, die Karoovlaktes in. Op pad Kaap toe.

      Later is dit middernag, en later ná middernag. Later kan ek nie meer my oë oophou nie.

      Een ding het ek al geleer: Dit help nie om agter ’n stuurwiel komplotte teen die slaap te sit en smee nie. Daarom begin ek dadelik uitkyk vir ’n stilhouplek. Nie ver nie, toe blink die wit sementtafeltjie onder ’n peperboom in die motor se ligte langs die pad. Ek hou stil, skakel als af, klim uit. Dit is pikdonker. En baie stil.

      Ek klim weer terug in die motor, laat sak die sitplek, en lê terug …

      Ligdag kraai ’n hoender my wakker. Hier is seker ’n plaasopstal naby, dink ek terwyl ek orent kom, die son skerp in my oë.

      Toe sien ek dit. ’n Ent van my kar af staan ’n donkiekarretjie en langs die karretjie ’n oompie onder ’n wyerandhoed. Hy buk by so ’n vaal donkie wat op die grond lê. ’n Ent verder staan ’n groter, donkerder donkie. Hulle moet ook hier oornag het, besef ek, en kyk na my verrimpelde gesig in die truspieëltjie.

      Die oompie moet gesien het ek is wakker want hy kom nader gestap. Die T-hemp onder sy voos baadjie moet hy êrens present gekry het want daarop staan in helder letters: MALDIVES 1989.

      “Môre, meneer,” groet hy en haal die hoed af. “Ek’s Kokkie. Kokkie Smeer.”

      Deur my oop venster skud ek sy hand.

      “Ek wil meneer ’n gunsietjie vra.”

      Hier kom dit, dink ek, hy gaan my nou eers ’n hard luck-storie vertel, dan gaan hy my vir geld vra. Dit is die gang van die Nuwe Suid-Afrika.

      Oom Kokkie vertel my sy hard luck-storie: dat hy ’n skaapskeerder met ’n vrou en ’n kind is, dat hulle Christenmense is, dat hy vanoggend by ’n boer moet inval maar dat hy nou hier langs die pad gestrand sit want sy een donkie is ellendig siek. Maar toe hy by die gedeelte kom waar hy geld moet vra, doen hy dit nie.

      Hy vryf net met een hand oor sy wange, en sê: “Meneer ka’ seker lees, nè?”

      “Natuurlik kan ek lees, ja.”

      “Nou maar wil meneer nie vi’ ons ’n stukkietjie ko’ lees nie? Met al die gerondtrek het ons mos nooit tot geleer lese geko’ nie.”

      Dit klink te goed om waar te wees. Ek haal diep asem, klim uit die motor en stap agter hom aan.

      Tóé eers sien ek die vrou met die baba in haar arms op ’n paraffienblik langs die donkiekarretjie.

      “Kry vi’ jou reg, Ma,” beduie oom Kokkie vir haar. “Die meneer sê hy sal vi’ ons lees.”

      Net tóé kraai daardie hoender van vroeër weer. My oog vang die twee henne en die rooi haan in die draadhok agterop die karretjie en ek weet sommer dis daardie haan wat so kraai.

      Oom Kokkie leun vorentoe en tel so ’n blou tassie van die karretjie af. Eens op ’n tyd kon dit ’n vrou se vanity case gewees het. Hy knip dit oop. Binne-in is allerhande goed: ’n pakkie Disprins en ’n haarkruller, ’n Okapi-knipmes, ’n botteltjie lewensessens, ’n tolletjie gare en twee flitsbatterye.

      En onder al daardie goed haal oom Kokkie ’n boek uit, ’n Bybel, oorgetrek met bruinpapier wat al deurgeskif is.

      “Ek het hom by oo’lie pa geërwe,” sê hy en gee die Bybel vir my aan. “Mens kry darem altyd hier en daar en so aan iemand met bereidwilligheid om vi’ jou ’n stukkietjie te lees.”

      Dit is ’n Afrikaanse Bybel – Ou Vertaling.

      “Nou wat wil oom hê moet ek lees?” Ek maak die Bybel oop en blaai. Party van die bladsye is al los. Van êrens af kry ek die reuk van motbolle.

      Oompie Kokkie trek my eenkant toe, na waar die donkie lê, dié maer en skynbaar te gedaan om die vlieë om sy ore weg te waai. “Iets van donkies,” sê hy. “Lees vi’ ons iets van donkies, asseblief, meneer.”

      Die vrou het van êrens af ’n hoed gekry, ’n regte kerkhoed soos my ouma Swannie s’n, met ’n pienk blom hier voor. Dié hoed is nou op haar kop. Sy kom staan by ons met die baba in haar arms.

      Ek probeer dink: donkies, donkies. In die Sondagskool, lank gelede, onthou ek, het ons geleer van Bíleam wat op ’n donkie gery het toe die Here aan hom verskyn het. Levitikus. Of is dit nou Númeri? Ek blaai rond. Númeri 22.

      “Toe antwoord Bíleam die Engel van die Here: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan.”

      Ek lees die hele hoofstuk, en gee die Bybel vir oompie Kokkie terug.

      “Nou wat nou?” vra hy. “Bly meneer nie vi’ die gebed nie?”

      Ek kyk na die oubaas en sy tante en die vaal donkie op die grond wat nie eens meer die moeite doen om die vlieë en brommers op sy ore te verjaag nie.

      “Ek’s laat, my oom,” sê ek. “Ek moet ry. Jammer.”

      Ek groet, stap terug motor toe, klim in en ry stadig terug N1 toe, my ruit afgedraai. In die truspieëltjie kan ek oompie Kokkie sien, al biddend, sy een hand in die lug, soos ’n predikant

Скачать книгу