Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock страница 28
“Marcel! Moet my nie wegjaag nie …”
“Ek jaag jou nie weg nie. Ek konstateer net ’n feit – jy hóórt nie hier nie!”
“Waarom nie? Alles hier is nie so danig behoorlik nie, laat ék jou vertel!”
“Dis jý wat nie verstaan nie, Lilette. Hierdie mense behoort aan mekaar. Ek is die buitestander en is van plan om dit te bly. Ek wil geensins betrokke raak nie. Ek kan dit nie bekostig nie. Ek wil ook nie hê dat jy allerhande los flirtasietjies moet aanknoop nie, want wanneer die tyd so ver aangestap het soos hier op Damplaas, dan lol ’n mens nie met die horlosie nie …”
“Jy’s nie dalk jaloers nie?” Tergend en ’n bietjie pleitend.
“My liewe kind … ek het jou reeds gesê ek staan buite hierdie dinge!”
“Jy verbeel jou, Marcel Hoffman. Jy is ’n man. Jy was nog altyd een. ’n Baie eerbare man, maar tog. Eendag gaan jy nog agterkom dat jy regtig nie meer ’n vrou het nie. Christine is lankal dood!”
Daar is ’n kort stilte waarin Maryn die slae van haar eie hart kan hoor, en toe die luide intrek van Marcel se asem.
“Nee! Nee, sy is nie vir my dood nie! Sy mag ook nie wees nie. Jy weet net so goed soos ek dat ek direk vir haar dood verantwoordelik was, en moenie dit vir my ooit weer nodig maak om jou daaraan te herinner nie! En die hemel weet wat jy hier soek. Vat jou goed en gaan reis om die wêreld. Jy kan bekostig om dit sewe maal te doen!” Hy draai om om weg te stap.
“Marcel!” roep sy gesmoord. “Ek is ’n genooide gas!”
“’n Selfgenooide een!” roep hy oor sy skouer terug.
“Ek bly nietemin!”
Hy gaan staan, sê sonder om om te kyk: “Doen wat jy wil, maar laat my met rus.”
Toe loop hy met lang hale die nag in.
Maryn wag totdat Lilette ook na binne is voordat sy haar bewende bene in beweging bring. Sy sluip na haar kamer toe en gaan lê in die donker op haar bed. Sy sluit haar kop doelbewus vir enige gedagtes, want sy voel soos een wat ’n ingewikkelde teaterstuk bygewoon het en tyd nodig het om die gegewe te verteer. Oomblikke later hoor sy Elsje in die gang na haar roep, en net voordat sy opstaan om na haar toe te gaan, weet sy in een helder oomblik: die dag toe sy vir die eerste maal Christine en die kind se foto gesien het, en gedink het dat hulle Marcel se mense van gister wás, was die laaste dag wat aan haar prille jeug behoort het. Want sonder dat sy dit geweet het, het dié vreemde smart van gister aan haar kom kleef. Die droewe tragedie daarvan begin nou eers vir haar voelbaar word. Marcel se woorde vanaand het vir haar een wete bevestig: haar hart is verpand aan ’n man van gister …
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.