Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock страница 24
Maryn draai haar kop effens sodat haar lippe aan sy voorarm raak, en sê: “Ek het my netnou swak uitgedruk. Ek verknies my nie. Dis net, ek kan nie anders nie. Vandat ek jou die eerste maal ontmoet het …”
Marcel, wat verskeie oomblikke asof versteend bly sit het, neem sy arm vinnig weg, val haar streng in die rede: “Maryn! Jy maak dit vir my moeilik. Moenie!” En toe sy stil en half verslae swyg: “En moet nou ook nie weer seer voel nie! Ek … is bly jy hou van my, en dis al klaar ver meer as wat ek bereid is om vir jou oop te maak! Kom ons ry!”
“En Lilette?” vra Maryn haastig. “Wat van haar? Wat maak sy hier?”
“Dit behoort jou glad nie te skeel nie, maar aangesien jy nou op dreef is met jou vrae, kan ek jou maar net sowel sê. Lilette het so ’n groot behoefte aan sekuriteit dat sy seker nooit in haar lewe sal grootword nie. Sy dink nou, soos wat sy nog altyd gedink het, dat sy dit in my kan vind. Sy is, soos altyd, ver verkeerd. Dit was ook dom van haar om hierheen te kom, tensy sy hier dalk iemand anders kan vind wat vir haar ’n soort beskermheer kan wees: iemand wat kan mooipraat as sy treurig is, raas as sy stout is, rig en lei en liefhê en so aan.” Hy sug lank en diep. “Sy is nie ’n slegte kind nie. As ’n mens haar net eers sover kan kry om op te hou indruk maak en effek te soek, kom jy nogal op ’n heel interessante wese af …”
“Dit klink asof jy al het?” kan Maryn nie verhelp om te sê nie.
“Ag ja,” antwoord hy met ’n klein bietjie irritasie wat in sy andersins so bedaarde stem deurslaan. “Sy was ouerloos en rigtingloos en … my vrou het haar nie juis aan haar gesteur nie. Ek het my af en toe oor haar ontferm, haar oorreed om te gaan leer. En nou móét ons ry!”
Maryn gaan hom nie teë nie en hy trek weg. Op pad Damplaas toe praat hulle nie weer nie, en Maryn laat dit so. Sy het opeens ’n groot behoefte daaraan om eenkant en alleen te wees en elke woord van hierdie gesprek weer te hoor en te oordink.
Toe hulle voor die groot verligte opstal stilhou, kom oom Frederik, Peet en Eugene op die stoep uit. Maryn laat die kombers in die bakkie en klim uit. Peet is dadelik by en slaan sy arm om haar. Marcel maak ook terstond verskoning toe hulle die stoep opstap, beduie omslagtig waarom dit so gaaf was van Maryn om saam te ry, want anders was daar niemand by Pote agter op die bakkie nie. Almal vra vrae en gee hul weergawe van Elsje se tuiskoms met die ingeduikte motor, en praat en praat tot Maryn se kop eenvoudig wil bars. Sy merk nie dat Peet en Eugene bra stug met mekaar is, en dat daar ’n ongewone lyn van spanning om haar pa se mond is nie. Dis eers toe Marcel weg is met almal se wense op Pote se spoedige herstel, dat Maryn vra: “Waar is Elsje dan?”
Daar is ’n kort stilte voordat Eugene bot antwoord: “In haar kamer.”
“Tja …” sê oom Frederik toe niemand iets vind om te sê nie. “Jy moet ook maar gaan slaap, doggie. Jy lyk moeg.”
“Pa ook,” sê sy dadelik berouvol. “Ek is jammer ek het julle laat skrik, hoor. Maar ek dink tog ek gaan nou inkruip.”
Sy sê nag, maar dis haar pa en Eugene wat eerste na hul kamers gaan; Peet hou haar hand styf vas tot hulle weg is. Sy kyk op in sy gesig, merk dat hy ietwat verwilderd voorkom. Hy is bleek en sy oë lyk groot en byna beangs agter die dik glase.
“Is jy baie kwaad vir my?” vra sy sag. “Ek bedoel, oor die motor?”
Sy ferm mond trek in ’n halwe laggie.
“Ek was baie kwaad, maar nie oor die motor nie – altans, nie so erg oor die motor nie. Elsje het hier aangekom sonder om heel eerste te sê waar jy dan is. Sy was ook maar seker deur die wind geskrik, want toe sy my gesig sien toe ek na die duik kyk, toe praat sy so deurmekaar van die hond wat voor die kar ingespring het en hoe ’n vreeslike ding dit was, sonder om te sê waar jy is. Wel, toe ek my kom kry, toe skud ek haar aan die skouers dat haar tande klap. Dis net toe dat Eugene op ons afkom en hom lelik vir my vererg omdat ek sy meisie so staan en skud.” Hy laat sy asem in ’n bitter laggie uit. “Hy het my kort en klaar gesê om my hande van Elsje af te hou.”
Maryn is stom van verbasing.
“Maar Peet, hy’s mos heeltemal verspot!”
Hy sug.
“Nee, nie so heeltemal nie. Toe … toe hy Elsje uit my greep het en wil troos, toe ruk sy weg en vra hom om haar uit te los …”
“Ag nee …”
“Ja, en nou’s hy natuurlik half seerderig en ook sommer doof vir enige apologie van my kant af!”
Maryn staan ’n rukkie en dink.
“Ag wat,” sê sy toe, “hy sal daaroor kom.”
“Jy dink so?”
“Ag, natuurlik, man,” sê sy en die ongeduld slaan so skerp in haar stem deur dat Peet verbaas na haar kyk. Sy staar ’n oomblik onverbloemd terug na hom, wens met haar hele wese dat sy ver weg was, los van al hierdie dinge – onverbonde, behalwe aan hierdie nuwe roep van haar hart. Toe kom sy tot haar sinne, staan op haar tone en piksoen hom op die mond. “Nag,” sê sy bedees.
“Maryn,” hou Peet haar terug, “ek het vroeër vandag ’n brief aan professor De Beer geskryf. Ek wil vroeër Leiden toe vertrek.”
Sy moet haarself met ’n innerlike pluk na hom terugbring, en kan om die dood nie dink wat om te antwoord nie.
“Wel, as jy moet, dan moet jy,” sê sy uiteindelik.
“Dis reg. Ek móét.”
Maar dis asof die volle betekenis van sy woorde haar heeltemal verbygaan, want sy knik net en draai om om te gaan slaap. En toe sy in die donker in haar bed lê, dink sy lankal nie meer aan enigiets wat Peet nog ooit gesê het nie.
7
Die dag ná die ongeluk met Pote ry Maryn saam met Peet in dorp toe om die duik uit die BMW te laat klop, en ook om te gaan kyk hoe dit met Pote in die hospitaal gaan. Nadat hulle die motor aan die paneelklopper afgegee het, stap hulle sommer deur die breë stofstrate na die veeartseny-kliniek, wat op die rand van die dorp lê. Hulle kom heelwat bekendes teë, staan en gesels lang rukke, verkyk hulle aan ou skoolmaats wat reeds met krosies rondstap.
“Wanneer,” vra ’n klasmaat van Peet wat hulle by die dorpskafee raakloop, “is júlle groot dag dan?” En die man kyk trots en betekenisvol af op die blonde bolwangseuntjie wat hy op sy arm dra.
“Een van die dae,” antwoord Peet gemaklik, toe Maryn met ’n mond vol tande staan, en voeg by toe hy sien sy wil-wil ergerlik lyk: “Nes my prof laat weet presies wanneer ek in Leiden moet wees.”
Hulle gesels nog ’n bietjie, groet en loop verder. Nie een van hulle twee verwys met ’n enkele woord na dié gesprek nie. Hulle praat glad nie. Tog is hulle skerp van mekaar bewus, elkeen soos van ’n vreemdeling wat in die poort sy ongeleë verskyning gemaak het. Maar dis Maryn wat, toe sy tersluiks na Peet opkyk en die bedruktheid om die mooi gevormde mond sien, eerste jammer kry en haar hand deur sy arm steek. Dit vang hom onkant, maar dis met blydskap dat sy voel hoe hy haar