Op 'n galop na Buckingham-paleis. Naas Steenkamp

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op 'n galop na Buckingham-paleis - Naas Steenkamp страница

Op 'n galop na Buckingham-paleis - Naas Steenkamp

Скачать книгу

      Op ’n gallop na Buckingham-paleis

      Naas Steenkamp

      Human & Rousseau

      Vir Paula

      Chi scrive, non ha memoria

      Giovanni Tartiano (1642 )

      (Wie skryf, het nie geheue nie)

      Hoekom en vanwaar …

      Ek was lank gelede ’n junior diplomaat in die Suid-Afrikaanse buitelandse diens, eers aan hoofkantoor in die Uniegebou en toe in Suid-Afrika Huis, Londen. Die herinnering aan wat ek in dié paar jaar beleef het, wil maar net nie ophou om flikkeringe in my gemoed te maak nie, en wíl vertel word – dalk ook omdat dit beslissend was vir wat verder aan met my sou gebeur.

      Maar wat volg, is nie memoires nie. Dis vertellings. Stories. Sommige van die gebeure was nogal groot momente in ons politiek, maar ek probeer nie tot die geskiedskrywing daaroor bydra nie. Dit sou onverantwoordelik wees. Ek weet alte goed niemand se werklikheid bevat nie ook versinsel nie, niemand verwring nie sy onthou van gister met sy kyk van vandag nie.

      Dis eers toe ek op Tartiano se enigmatiese woorde afkom dat ek besef ek onthou dinge wat glad nie gebeur het nie baie beter as dinge wat wel gebeur het. Maar, soos ander al voor my gesê het: Dit kon dalk so gewees het.

      Hier dan die vertellings van ’n verloopte diplomaat.

      Alhamdulillah

      “Wat dink jy van die kommunisme?”

      “Ek dink dis die beste uitvindsel sedert roomys.”

      Die man van die veiligheidspolisie kyk my uitdrukkingloos aan. Hy is nie geamuseerd nie. “Meneer, ek sal jou aanraai om nie ligsinnig te wees nie. Dis ’n ernstige saak hierdie. Wil jy nou werklik hê ek moet ’n negatiewe verslag instuur?”

      Ek skrik effe. “Nee, ek het net gedink … dis eintlik ’n erg onnodige vraag om te vra, want watter mens met enige verstand sal dink kommunisme is ’n goeie ding?”

      Strakgesig kyk my ’n ruk aan. “Jy sal jou verbaas hoe hulle in jongmense soos jy se breine kan inkruip. Hulle het metodes wat deur die duiwel self ontwikkel is. Dis my werk om seker te maak jy’s nie een van daai breinbesoedelde gevalle nie.”

      Ek bedink my.

      “Meneer, die kommunisme is ’n bose ideologie, en een wat nie kan werk nie. Ek dink ook hulle wil Suid-Afrika ondermyn en dis ons almal se plig om hulle te keer.”

      Die man maak ’n lang aantekening. “Dankie. Ek wil net sê, jy kan bly wees jy’t nie jou grappie met party van my kollegas probeer maak nie. Hulle sou jou gat gou toegestop het. Baai-baai diplomaat-wees. Vinnig agterin die kar, sentrum toe vir ’n láng middag se ondervraging. Vir ’n man wat een van die dae ’n regsgraad gaan hê, het jy darem wragtag swak oordeel.”

      Ek probeer onverskillig voel, want ek weet mos ek is klaar gekeur en moet nog net my brief van die departement af kry. Maar dié kêrel wat so dwarsdeur ’n mens kyk, maak my ongemaklik. Hy’t my juis onkant gevang deur sommerso op die kampus aan te kom, my op te spoor, en sy vrae te begin vra.

      “Hoekom wil jy ’n diplomaat word?”

      Ek besluit om dié keer verstandig te wees. “Eintlik het ek daardie vraag al klaar begin antwoord, Meneer. Ek het sekere talente, soos ’n aanleg vir taal. Ek dink ons land is in gevaar, en ons moet almal ons talente aanwend om die nasionale belang te help verdedig. Ek dink ek kan dit die beste doen in die buitelandse diens.”

      Ek kan sien hy is baie tevrede met die antwoord. Hy maak weer ’n aantekening. Dan kyk hy op en hou sy oë stip op my terwyl hy praat. Dis nogal ontsenuend.

      “Sal jy ons landsbeleid met oortuiging kan verkondig?”

      “Ja, sekerlik, Meneer. Ek … sal ons landsbeleid met oortuiging verkondig.” Sy oë is steeds stip op my, en ek wens hy wil nou end kry.

      “Dis al, dankie,” sê hy dan, en groet. Ek stap aan biblioteek toe. Ek dink aan my slim vriend John, wat ek in Johannesburg agtergelaat het toe ek Potch toe gekom het, universiteit toe. Ek wonder wat sou hy vir die veiligheidsman gesê het. Want ek is seker John en sy pa en ma was kommuniste, al het hulle gesê hulle behoort aan die Liberale Party. Dis seker maar net omdat mens nie aan ’n kommunistiese party mág behoort nie. John en sy ouers was permanent ontstoke oor al die onregte van apartheid. Ek kon self nie so emosioneel soos hulle raak nie. Maar hulle het my ten minste laat voel dat mens kommunistiese idees kan hê sonder dat dit van jou ’n monster maak.

      In die biblioteek soek ek vergeefs na goeie boeke oor diplomasie. Want ek het ’n probleem. Ek het my verbind om ’n diplomaat te word, maar ek weet nog nie mooi wat ’n diplomaat is of wat hy doen nie. Dis eintlik Ma se skuld.

      Toe ek klein was, het ons op ’n myntjie doer in die verre noorde van Suidwes, nou Namibië, gewoon. My pa was een of ander baas op die myn en ons buurman was ’n Italiaanse immigrant, ’n elektrisiën of iets. Sy seun se naam was Giancarlo, en ons het dik maats geword. Sy ma het ons gedurig gevoer, al pratende al kon sy nie ’n woord anders as Italiaans praat nie. Toe ek my kom kry, toe praat ek nogal saam met haar en met Giancarlo. Dis nou by wyse van spreke, want ek het jare later uitgevind dis ’n brabbeldialek wat mens in die werkerstand hoor en wat ek in elk geval baie geradbraak leer praat het.

      Suidwes kry besoek van ’n belangrike politikus uit die Unie, en dié hoor toe die Afrikaanse seuntjie praat Italiaans met sy maat. Ma is baie trots toe sy die belangrike man vertel haar seun het sommerso, sonder boeke, leer praat.

      “Maar dan moet hy eendag ’n diplomaat word,” sê die politikus. Ma kon dié opmerking nie vergeet nie, en in die jare daarna het dit so half en half aanvaar geraak dat Nasie eendag buitelandse diens toe sou gaan. Vir Ma was die groot wêreld daarbuite ’n eksotiese droom, en toe sy ’n halwe begrip kry van wat diplomate doen, was dit uitgemaak. Haar blink seuntjie sou ’n diplomaat word en konings en presidente en glansmense ontmoet, en eendag sal mense hom as Meneer die Ambassadeur aanspreek.

      In my laaste dae op universiteit krap ek in die biblioteek rond vir boeke en artikels oor diplomasie, maar daar is nie veel nie. Ek gaan praat toe met prof Swannie van die regsfakulteit, vriend en vertroueling van elke student. Hy lag. “Jy sal by jou senior kollegas hoor die taak van ’n Suid-Afrikaanse diplomaat is maar net om apartheid te verkoop en kommunistiese organisasies te bestry, want daar is ’n kommunistiese dolk op die hart van die Afrikanervolk gerig. Hier en daar sal jy ook ouens kry wat vir jou sê jou werk is om te help om onregte wat die Engelse ons aangedoen het, reg te stel.”

      Hy haal ’n boek uit sy rak. “Die ding van die kommunisme is baie meer subtiel, baie meer ingewikkeld. Jy moet verstaan hoekom dit is dat so baie mense in soveel lande, veral die armes, so passievol oor die kommunisme raak. So revolusionêr. Hoekom daar mense is wat so erg gekant is teen ons christelik-nasionale en kapitalistiese stelsel. Selfs van ons eie mense raak daarvan oortuig.” Hy gee die boek vir my. “Lees hierdie boek en kom gesels dan weer. En die tweede ding – onthou net die Boereoorlog is baie lankal verby.”

      Ek het die boek deeglik gelees, en van daardie dag af was ek verbaas hoe vlak ons koerante en ons politici oor iets soos die kommunisme praat. As mens jou in die skoene van die armes plaas, verstaan jy nogal hoekom die kommunisme vir sommiges so aantreklik lyk. Mense soos John en sy ouers, wat tog ordentlike mense is.

      Ek is terug na prof Swannie toe. “Professor gaan nog van my ’n kommunis maak,” sê

Скачать книгу