Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie страница 14

Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

kan hou tot vanaand. Maar dit brand met sataniese genot op hulle neer en staan behoorlik stil op die wit seile van die vier waens wat stadig deur die verlate veld kruip.

      Soos sy uit Hermaans se praat verstaan, behoort hulle oor drie dae op Otjimbingwe te wees. Die veld het intussen sedert hulle uit Swakopmund weg is baie ruier geword.

      Die plantegroei is nog mooi vir hierdie tyd van die jaar. Die gras is geel, maar staan hoog en ruig. Die bome maak groen kolle op die geel vlaktes en gooi groot skaduwees oor die wuiwende gras. Kort-kort sien hulle troppe wild in die veld en Elsa kan haar verkyk aan die sierlikheid van die aristokratiese diere se bewegings.

      Sy kyk om haar rond en laat haar gedagtes ver wegdwaal sodat sy nie aan die pyn in haar bene of die gloed op haar teer vel dink nie.

      In haar hart verwens sy die bygelowige Kao. Sy kyk na Hermaans wat heerlik agteroor op sy wa sit. Sy is oortuig daarvan dat een van die Herero’s hierdie werk kan doen en dat Hermaans haar net wil straf. Hy was darem heeloggend op sy perd en het eers so pas op die wa geklim, maar dit verander niks aan haar verontwaardiging nie.

      Die vaal stofpad strek eindeloos voor haar uit. Die voorste wa trek onder ’n groot koelteboom in en Filemon beduie vir haar dat sy langs sy wa moet intrek.

      “Ons rus altyd so ’n bietjie hier. Ons span nie uit nie, want ons gaan vanmiddag vroeg uitspan.”

      Die ander twee waens trek onder ’n ander boom in en Filemon gooi solank ’n paar takkies op mekaar om ’n vuurtjie aan te steek.

      Elsa sak moeg en dankbaar in die skaduwee van die wa neer net toe Hermaans om die wa kom. Hy gryns in haar rigting en Elsa kan die lekkerkry in sy houding en op sy gesig sien.

      Hy kan maklik lag. Hy het heelmôre op sy perd gery, so ’n agterbakse barbaar!

      Die Herero’s is almal om die vuurtjie en hulle lag en gesels asof hulle vandag nog nie twee tree gestap het nie. Elsa staar hulle bewonderend aan.

      Sy staan egter stram op en stap na Hermaans se wa om die ketel en pot te gaan haal toe sy sien dat hy nie van plan is om dit te doen nie.

      “Bring net die ketel, ons maak net koffie en eet beskuit.”

      Sy stem is hard en alles behalwe vriendelik.

      Vinnig tap sy van die louwarm water uit die balie en stap na die vuur.

      Hermaans trek vinnig haar hoed van haar kop af toe sy by hom verbykom en sê binnensmonds: “Maak jou hare los dat hulle kan sien.”

      Elsa gehoorsaam gedwee en haal die knippie bo-op haar kop uit sodat die vlegsel agter haar rug afhang.

      Die Herero’s merk dit nie dadelik op nie, want sy staan met haar gesig na hulle toe.

      Hermaans hou hulle onderlangs dop. Filemon kyk verbaas na die dik vlegsel agter Elsa se rug, beduie daarna en sê iets aan die ander Herero’s.

      Hulle vra iets vir Hermaans en hy antwoord hulle in hul eie taal. Hy kom staan langs haar, tel die vlegsel op en hou dit in sy hand terwyl hy laggend iets aan hulle sê.

      Elsa staar hom onbegrypend aan en kyk dan na die Herero’s se verbaasde gesigte wat stadig in breë glimlagte vertrek. Hulle lag en beduie en Elsa kan sien dat hulle heeltemal tevrede is met wat Hermaans verduidelik het. Aan hulle verbaasde gesigte kan sy ook sien dat Kao nie met hulle gepraat het vanoggend nie, en sy hoop vuriglik dat hy vanaand weer by die kamp sal opdaag.

      “Wat het jy nou vir hulle gesê?”

      “Ek dink nie jy sal baie daarvan hou as jy weet nie, so kom ons laat dit liewer daar.”

      Die koffiewater kook. Elsa maak gou koffie en gee vir Hermaans ’n beker vol aan waar hy rustig in die koelte sit en rook.

      Sy sien hoe die Herero’s haar en Hermaans met genoegdoening aankyk en sy sal haar voortande gee om te weet wat hy vir hulle gesê het.

      Die Herero’s drink net koffie en maak daarna die vuur dood. Elsa sluk nog ’n beker vol weg voordat sy die ketel leegmaak en dit weer aan die wa haak.

      Sy trek haar hoed diep oor haar oë en stap na die osse toe. “Ek sal hier oorvat, jy kan maar in die wa klim.”

      “Dis nie nodig nie, ek sal regkom, dankie!”

      “Moenie weer moeilikheid soek nie. Ek weet wat ek doen. Gaan klim in die wa.” Hy kners die laaste paar woorde uit en stap by haar verby.

      Dankbaar klim Elsa in haar wa en gaan lê op die smal bedjie.

      Ai! Kurt, waar is jy tog? Die versugting kom diep uit haar moeë liggaam. As ek net eers by jou kom, sal al my probleme opgelos wees, dink sy.

      Kort voor lank is sy vas aan die slaap van die wa se geskommel en gewieg. Dit voel vir haar of sy nou net gaan lê het toe sy Hermaans se bulderende stem hoor en die waens tot stilstand kom.

      Sy spring uit, heeltemal gewillig om haar deel van die uitspanpligte waar te neem.

      Sy staan verstom stil. Hulle uitspanplek vanaand is die mooiste wat sy nog gesien het. Groot bome vorm ’n dak oor ’n gladde, skoon stuk veld op die rivier se wal. ’n Entjie hoër op in die droë rivier sien sy die blink van water in ’n diep kuil.

      Nadat die osse uitgespan is, verdwyn Hermaans met die geweer oor sy skouer.

      Elsa pak haar wa ’n bietjie reg, want dit is nog te vroeg om met die kos te begin. Sy hoop dat Hermaans iets in die hande sal kry sodat hulle vars vleis het vir vanaand. Gewoonlik deel hulle die vleis met die Herero’s, want dit bly nie lank behoue in hierdie hitte nie.

      Sy stap uit onder die groot koeltebome en loop af na die kuil, wat haar blinkend en lokkend nader roep. Die pragtige stuk blink water is vir haar sprokiesmooi, asof dit allerhande geheimenisse inhou.

      Agter die rots sien sy die rede vir die skoon, helder water. ’n Fonteintjie stoot oor in die kuil en vloei verder af in ’n smal stroompie weg.

      Vinnig stap sy terug wa toe. Nou gaan sy bad, kom wat wil! Hermaans sal nie weer onverwags op haar afkom nie. Hy weet mos darem sy is daar. Sy sal haar handdoek oor die bos hang sodat hy dit van ver af kan sien.

      Sy was haar hare en staan lank in die heerlike koel water. Haar gesig is warm van die son en die koel water is soos lawende olie op haar seer vel.

      Sy trek ’n ligte pienk rokkie met fyn, wit blommetjies aan en gaan sit op die rots om haar hare te borsel. Die donkerbruin hare glim sag in die laatmiddagson en weerkaats rooi strepe toe dit begin droog word.

      Sy tel haar handdoek op en terwyl sy na haar wa toe terugstap, neurie sy ’n deuntjie. Die sagte materiaal van die rokkie vertroetel en streel haar vel na die harde, skurwe kakieklere wat sy die afgelope ruk moes dra.

      Sy smeer ’n bietjie room aan haar gesig en bind haar hare met ’n pienk strik agter haar nek vas.

      Kurt kon altyd haar hare so liefkoos. Hy het haar keer op keer laat belowe dat sy dit nooit sal afsny nie. Sy dink dit is ook maar die groot rede hoekom Herr Schultz haar so maklik kon oorreed om dit nie te doen nie.

      O, Kurt, ek het jou so lief. Ek wens ons is al bymekaar ... maar waar in hierdie grote land gaan ek begin soek na jou?

Скачать книгу