Ware verhale van vergifnis. Helana Olivier

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier

Скачать книгу

om te besef ons is kanonvoer vir die apartheidsregering se sinlose oorlog. Ek weet nie hoe om dit anders te stel nie, maar ek het erg opgemors uit die weermag gekom.

      My eerste werk was by ’n finansieringsmaatskappy. Ek het hard gewerk, gedryf deur ’n obsessie om so gou moontlik baie geld te maak. Ek het my beloning gekry. Teen my twee en twintigste verjaardag is ek reeds verskeie kere bevorder. Ek het ’n mooi motor besit en ’n huis gekoop. Ek en Shayne is toe ook getroud. Ons het begin uitgaan toe ons sestien was en gelukkig het sy nie daaraan gedink om my af te sê nie. Sy is steeds die liefde van my lewe.

      Maar dit was nie lank nie of ons lewe saam het begin uitrafel. Ek is aangevuur deur gierigheid; ek was immoreel en gewetenloos. Ek het Shayne se lewe in ellende gedompel. Wanneer ek terugkyk na daardie tyd, besef ek my optrede het waarskynlik daartoe bygedra dat sy ’n miskraam gehad het. Ek het ’n skuiwergat ontdek in die samestelling van die maatskappy waar ek gewerk het en begin geld verduister. ’n Hele ruk lank het ek dit reggekry sonder om gevang te word. Hoe dit ook al sy, uiteindelik het alles in duie gestort. Dit het sleg gegaan met ons huwelik, so sleg dat Shayne my eendag min of meer so gekonfronteer het: “Jy het ’n aaklige mens geword,” het sy gesê. “Ek hou nie van die mens in wie jy verander het nie. Jy is nie die een wat ek gedink het jy is nie.”

      Tipies man, het ek geweier om enige skuld te aanvaar. Ek het woedend ’n tas gegryp, ’n paar kledingstukke ingegooi, in my kar geklim en met skreeuende bande weggejaag. Ek is reguit na die Johannesburgse middestad, waar ek vir my ’n kamer in die New Library-hotel gekry het. Een van my gunstelingdrinkneste was immers in die New Library.

      Ek onthou ek het op die bed gaan sit met my tas voor my op die vloer en was oorweldig deur die besef dat ek by ’n kruispad gekom het. Op ’n manier het ek tot die slotsom gekom dat my volgende stap die rigting sou aandui vir die res van my lewe. Ek onthou hoe angs my oorweldig het in daardie stil hotelkamer. Ek was op die punt om iemand te verloor wat vir my kosbaar is.

      Met daardie dreigende gevoel van verlies soos ’n swaard oor my kop, het ek opgestaan, my tas gevat en uitgeteken. Ek is reguit na die naaste polisiekantoor, waar ek ’n verklaring afgelê en ’n skulderkenning geteken het. Ewe naïef het ek verwag dat die polisie iets sou sê soos: “Jy’s ’n oulike jong man, dis mooi van jou om ons te kom vertel wat jy gedoen het. Gaan nou huis toe, ons sal later alles uitsorteer.”

      In stede daarvan is ek onmiddellik in hegtenis geneem en in ’n polisiesel op John Vorster-plein opgesluit. Daarna is ek oorgeplaas na die destydse Fort-tronk. Weke later is ek aangekla, verhoor en vir drie en ’n half jaar tronk toe gestuur. Kan jy jou voorstel hoe verneder en geskok Shayne, my ouers, my werkgewers en my vriende was, hoe die skande hulle getref het?

      Ná die vonnisoplegging is ek na die Sentraal-gevangenis in Pretoria om my vonnis uit te dien.

      Laat ek jou vriendelik waarsku: Luister na die raad van iemand wat daar was. Moenie iets aanvang wat jou in die tronk sal laat beland nie – dit is nie ’n vakansie nie! Die tronklewe is hard en soms selfs wreed. Ek het daar tot op die randjie van my moed en uithouvermoë gekom. Ek was skaam en ek het gevoel soos ’n mislukking. Al wat my aan die gang gehou het, was my vrou se ongelooflike vergewensgesinde liefde. Ten spyte van die feit dat almal haar aangeraai het om van my ontslae te raak, het sy besluit om my te vergewe en my deur dik en dun by te staan. Haar buitengewone liefde het my aangespoor om my lewe te verander. Maar ek het nie geweet hoe om dit te doen nie.

      Kersfees was aan die nader kom. En toe, een dag, dink ek uit die bloute aan die Sondagskoollesse in meneer en mevrou Banks se klein kerkie. Ek het begin wonder of God regtig bestaan, soos ons geleer het. Sonder om te weet hoe, het ek snags begin bid, ’n eenvoudige gebedjie: Here, ek het hulp nodig. Ek weet nie wat om te doen nie. As U daar is, kan U my help?

      Dit het gehelp om te bid – selfs daardie onafgeronde gebedjie. Dit het my daaglikse bron van krag geword en dit het my nuwe hoop gegee. Maar ek was nog nie oortuig God bestaan nie. Dit het ’n wonderwerk gekos om my sover te bring om te glo. Nou, byna 30 jaar later, kan ek daardie nag wat my lewe drasties verander het, steeds goed onthou.

      In ’n eensame enkelsel lê ek op my rug op die bed en staar na die naakte gloeilamp teen die plafon hoog bokant my kop. Die lig bly die hele nag brand, seker sodat die wagte deur die loergaatjies in die swaar metaaldeure wat op die D-blok se reghoekige gang oopswaai, kan sien wat in die selle aangaan.

      Ek dink dié nag aan God en wonder of daar werklik ’n almagtige skepper is wat vir my ’n bron van krag kan wees en of dit net een of ander kopspeletjie is, ’n geestelike kruk waarop ek leun ter wille van oorlewing.

      Toe gebeur alles so vinnig, een gedagte ná die ander vlieg deur my kop: As God bestaan, kan Hy Hom tog sekerlik aan my openbaar. Hoe? Hoe kan Hy my laat weet Hy is eg? Hy kan die lig afsit. En die laaste gedagte is skaars uit my kop uit of die hele blok D word in totale duisternis gehul!

      Maar dit was toe nie die antwoord nie. Dit kon verklaar word as een van daardie toevallighede wat soms net gebeur. Nee, dit was veel meer as dit; baie, baie meer.

      Die oomblik toe die tronk in donkerte gehul is, is ek soos ’n baba in ’n warm kombersie toegevou in ’n tasbare, regte, egte, omhelsende, allesoortreffende gewaarwording van aanvaarding, vergifnis en uitsonderlike liefde.

      Ek het uitasem bly lê, toegevou in die teer omhelsing van ’n onsienlike teenwoordigheid. Ek was nie in staat om te dink, te beweeg of ten volle te verstaan nie. Tog het ek geweet my vrae is beantwoord. Diep in die siel van my menswees, diep in die bewussyn wat ek tot dusver nie geken het nie, is ek finaal oortuig.

      My lewe het in daardie oomblik vir altyd verander. Elke greintjie twyfel is weggeneem en vervang met die wete dat my lewe intrinsieke waarde het. Ek was blind en nou kan ek sien.

      Ek het die genade ontvang wat John Newton as onbeskryflik groot ervaar het.

      In daardie stadium van my vonnis is ek een halfuur lange besoek per maand deur een persoon toegelaat. Shayne het my altyd kom besoek. Ons het deur ’n dik glasvenstertjie na mekaar gekyk en gesels deur ’n draadrooster oor ’n afskorting wat ons ’n meter van mekaar af weggehou het.

      Die eerste keer dat sy my ná my oomblik met God besoek het, het ek haar gevra om vir my ’n Bybel te bring. Sy het my vraend aangekyk, maar die volgende keer het sy die Bybel saamgebring. Dit was ’n King James-weergawe en ek kon skaars die taal verstaan.

      Maar ek het dit vandag nog, my tronknommer staan aan die binnekant van die buiteblad geskryf: 1631/77.

      Daar is ook oral kort boodskappies van liefde en aanmoediging wat Shayne in groen ink geskryf het.

      Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek begin werk soek. Ek was vasbeslote om altyd die volle waarheid oor my verlede te vertel. Vir sewe maande het ek die een afjak ná die ander gekry. Eindelik het die plaaslike munisipaliteit my aangestel as ’n meterleser. Gewapen met ’n groot boek en ’n potlood het ek deur die strate van ons dorp geloop, water- en elektrisiteitsmeters gelees en besonderhede van verbruik neergeskryf. Party mense sal sê dis nie veel van ’n werk nie, maar ek het dit met vreugde gedoen. ’n Jaar later is ek na die finansiële departement verskuif. Dit was asof ek die sirkel van herstel voltooi het. Dit was asof die Here vir my gesê het: “Jy was ’n dief, maar nou kan jy weer met geld vertrou word.”

      Wie sou kon droom dat ek jare later ’n aanstelling sou kry as die algemene tesourier van die Metodistekerk van Suider-Afrika, een van die talle verantwoordelikhede wat deel is van my werk as die algemene sekretaris. My lewe is ’n reis wat verandering in baie opsigte insluit, die aanleer van nuwe waardes en ’n dieper geestelike

Скачать книгу