Ware verhale van vergifnis. Helana Olivier

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier

Скачать книгу

van hulle bly saam met my in die slaapkamer agter. Hy sit op die bed en rits die tasse wat Louis vir sy musiektoer Doebai toe ingepak het, oop en toe. Ek lê halflyf onder die bed om so skadeloos moontlik te lyk – en ek bid. Ek is baie verlig dat die rower op die bed my klaarblyklik ignoreer en baie meer geïnteresseerd is in die bagasie as in my kaal bene wat onder my kort nagrokkie uitsteek. Maar die jong man sien my wel. Die tasse se ritssluiters word stil. Hy dink, of kyk, of iets. Dis toe dat ek helder in my gedagtes Jesus hoor sê: “Hettie, onthou jy is my bruid.” As ek al ooit nodig gehad het om aan sy liefde herinner te word, is dit nou. Dit is ’n vreemde botsing van beelde. Sy ’n bruid in wit satyn – ek nou al vol stof en als behalwe uitgedos. Sy ’n bruid geëerd en bewonder op haar spesiale dag – ek ’n stuk vleis wat nou verkeerd bekyk word. ’n Bruid dansend op ’n dansbaan – ek vasgebind op die koue vloer. Terwyl die inbreker om die bed na my kant toe stap, beleef ek dat die Here my belowe dat Hy my gees en siel sal vashou. Jesus kan by ons wees in siel en gees, al is ons liggame op hierdie aarde met al sy naarhede vasgevang.

      Hy kniel langs my, rol my om op my rug en sit sy hand om my lyf.

      “I want.”

      Die ware ek en jy is versteek in God, buite bereik van die een wat ons siele haat omdat hy Jesus haat. Die ware ek en jy is versteek in ’n stuk vleis – vet, maer, aantreklik, gewoon, met of sonder selluliet en spatare. Die ware ek en jy is nie sommerso op die oppervlak sigbaar en maklik om by te kom nie. Die aanvaller sal my liggaam kan bykom, maar dis al. Wat my liggaam dan daarvan sal oorkom, moet ek vanuit my vervulde gees en geredde siel kan oorwin.

      Anders as baie verkragters wat vroue uit haat en weerwraak verniel, is my aanvaller fluisterend, verskonend, baie haastig en bang om betrap te word. Hy is vol wellus, nie vol haat nie. Hy het geen respek nie, maar ook geen woede nie. Ek is steeds met my kop en bors onder die bed. Ek kan nie en wil nie sien of hy gewapen is nie. Soos hy, sal ek bly wees as niemand weet of sien nie. Kalmte, beleef ek, gaan die sleutel wees om nie seer te kry nie. Wie weet of hy dalk sy makkers sal roep om te kom help as ek nou terugveg?

      Hy druk sy kop onder die bed in, maar my oë is steeds toe en ek sien nie sy gesig nie. Hy soen my ’n paar keer op my mond. Hy ruik na bier en sweet. Dit maak hom steeds niks minder as ’n verkragter nie, maar ek is dankbaar dat my ergste nagmerrie van messteke en wrede geweld nie waar word nie.

      Ek draai my kop eenkant toe en kies om in Jesus se gesig te kyk. Dan beleef ek iets baie onverwags. Liefde. Nie van hierdie man af nie, maar van God af. Sy liefde is oorweldigend en amper tasbaar daar waar ek lê. Ek is nie net bewus van sy liefde vir my nie, maar ook van sy liefde vir hierdie verkragter wat met soveel boosheid, vrees en leegheid lewe.

      Ek wonder hoe hy grootgeword het en wat met hom gebeur het om hom tot sulke desperate keuses te bring. ’n Gedagte spoel deur my kop: “Ek wens jy’t die Liefde geken wat ek ken. Jy sou nie gedoen het wat jy doen as jy dit geken het nie.”

      Ek wens ek kon sy taal behoorlik praat of hy myne sodat ek dit vir hom kon sê. Hy ken so min liefde dat hy moet inbreek, vasbind en kaal stroop om ’n uiters onbevredigende namaaksel te soek. Ek ken ouerliefde, kinderliefde, manliefde, vriendskapliefde en bowenal Jesus-liefde. Hierdie liefdes is my preserveermiddels. Dis al rede waarom ek beter daaraan toe is as hy.

      Ek het beslis nog nooit so gekyk na enige ander misdadiger nie. Ek kan maar maklik met ’n veroordelende oog kyk. Dit kom baie natuurlik. Daarom glo ek vas die Here leen in hierdie nagtelike ure vir ’n paar oomblikke sy oë vir my. As ek nie kan sien wat Hy sien nie, sal ek nie kan vergewe nie. Dan sal ek hierdie jong man vrees as die een wat my kan vernietig, in plaas daarvan om hom te bejammer as die een wat self klaar vernietig is. Ek kan nie nou bekostig om twee lywe te sien nie. Ons onwettige fisieke eenwording is skreiend, maar dis nie die belangrike ding om hier raak te sien nie. Wat hier onwettig is, is dat my gees en sy gees een sou word. My gees en sy gees bots hier meer as wat taal, kultuur of liggame ooit kan bots. My gees is lewend; syne is dood. Myne is veilig en in Jesus opgesluit; syne is in gevaar.

      Jesus het aan die kruis na die Romeinse soldate gekyk en na die skare wat sy dood en Barabbas se vrylating geëis het en uitgeroep: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34).

      Vergifnis kan net plaasvind as ons reg kyk en reg hoor. Met ons oog op die wapens, reageer ons met vrees. Met ons oog op die selfvoldane gesigte van ons aanvallers, haat ons. Met ons oor op dreigemente, krimp ons harte ineen. Maar met ons oog op die gebrokenheid wat deur vernietiging in ons aanvallers se binnekant agtergelaat is, kan ons met God se hulp vergewe. Met ons oor teen God se mond kan ons, selfs in hierdie onwaarskynlike oomblikke, sy liefde beleef.

      Terwyl die man haastig my onderklere op my heup stukkend skeur, bid ek dat Louis onbewus is van wat gebeur. Ek weet dit sal verander as ek nou sou skreeu. Dit sal ook my kinders wakker maak. My jongste is tien treë van my af met geen deure tussen ons nie. Ek beleef nie dat ek iets anders kan doen as om te aanvaar wat gebeur nie.

      My gedagtes is uiteraard nie net geestelik nie, want ek is heeltemal voelbaar teenwoordig in my liggaam. Ek is geheel en al bewus van alle aspekte van die werklikheid. Ek besef ek word nou deel van Suid-Afrika se verkragtingstatistiek. Omdat ek nie veg nie, druk hy my nie vas nie en gebruik hy geen geweld nie. Ek is dankbaar dat dit kalm gebeur sodat ek nie kop verloor nie. As ek bang word, word ek maklik aanvallend – presies wat nie nou moet gebeur nie. Ek dink met kommer aan seksueel oordraagbare siektes en omdat ek nie vasgedruk word nie, kan ek my liggaam posisioneer om so min moontlik fisieke skade op te doen.

      In die halfdonker kan ek net sy broekspype en skoene sien, maar selfs sy manier van opstaan is verleë. Hy probeer om bewyse te verdoesel. Hy rol my weer terug op my maag en sit my netjies terug waar ek was en trek my nagrokkie so laag moontlik af. Hy los my daar en gaan met die trappe af om by die ander aan te sluit.

      Nie lank nie, of twee bendelede storm in die kamer in. Een lig my nagrokkie op, sien dat my onderklere weg is en bevoel my om vas te stel of ek verkrag is. Hy trek my klere weer reg. Hulle storm uit en los my alleen. Daar ry ’n kar. Dit is stil. Ek voel alleen. Ek praat met Jesus: “Laat my asseblief weet wanneer dit veilig is sodat ek hier kan opstaan.”

      Terwyl ek wag, kom ’n oorbekende vers by my op: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7, 1933-vertaling).

      Ek kan die woord “vreesagtig” links voor my in my gedagtes sien en regs die res: “krag, liefde en selfbeheersing”. Ek besef ek moet kies, ek mag kies. Ek kan my vrees onder hierdie bed los as ek wil. Ek hoef nie die res van my lewe daarmee te loop nie. In plaas daarvan kan ek krag, liefde en selfbeheersing kies, wat letterlik beteken konsekwente, helder gedagtes. Ek sê: Here, ek kies liefde.

      Dit is nogal onverwags om tydens so ’n rooftog en verkragting die mees oorweldigende bewustheid ooit van die Here se liefde te beleef. Geen verwoesting kan ons egter skei van die liefde van Jesus nie. Ek ervaar juis nou hoe lief die Here my het.

      Ek ervaar dat dit veilig is om nou onder die bed uit te kruip. Die veters kom baie maklik los. Voordat ek by die kamer uitgaan, versamel ek DNS op my nagrokkie, maar trek dit nie uit nie omdat ek vaagweg onthou ’n mens moenie. Ek trek net skoon onderklere aan en hoop dat dit sal help om die res van die DNS-bewyse te behou.

      My eerste stop is die drie kinderkamers. Die kinders is ongedeerd. Dankie, Jesus! Die belangrike telefoonnommers is op my gesteelde selfoon, nie in my kop nie. Op pad na die bure oorkant die straat sien ek Louis in die pad aangedraf kom. Ek lewe, hy lewe, die kinders lewe! My arms is om my man se lyf. Die res is irrelevant. Waarom moet hy weet? As mens oor hierdie dinge praat, kruip daar net weer drake uit die vleuels ... hulle kruip dalk tussen

Скачать книгу