Ware verhale van vergifnis. Helana Olivier

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier

Скачать книгу

stilblyleuen is die fluistering van een van die dodelikste slange in die tuin, maar dit klink soet aan my binnekant. Ek wil met die stilblyleuen saamstem – dis beter as niemand ooit weet nie. Maar hoe gaan ek verduidelik dat ek by die traumakliniek moet uitkom? Ek moet hom dus vertel. Die woorde kom krom en skeef uit: “Jy moet hier vir die polisie wag. Ek moet hospitaal toe gaan. Die ou wat by my moes bly, het my verkrag. Maar hy was bang en onervare en ek het nie seergekry nie. Moet asseblief nie kwaad wees nie.” Hy is kalm en sê: “Ek sal dalk later anders voel, maar nou gaan ek net kalm bly sodat ons die regte ding kan doen.” Ek prys die Here stilweg vir ’n man met selfbeheersing. In my afwesigheid word die huis gefynkam vir leidrade. Louis bel my ouers wakker om ons drie kindertjies Bosveld toe te neem sodat hulle die toeloop en ontsteltenis wat nou ongetwyfeld gaan losbreek nie hoef te beleef nie.

      Alles het vandag verander. Vandag het ek lief met liefde wat nie uit my kom nie. Vandag se vrede is ook nie my eie nie. Die afwesigheid van woede, selfs al is baie van ons eiendom gesteel, is ook nie uit myself nie.

      Ná die doktersondersoeke en gesprekke met beraders, kan ek huis toe gaan. Die dokter vra of ek nie eers wil stort nie. Ek gaan in die aangrensende badkamertjie in en kyk na myself in die spieël. Nie te onaardig nie, maar ek moet darem my hare was. Ek klim in die stort en begin hare was. Hare? Is dit vuil hare wat my pla? Ek behoort te voel asof ek die velle van my lyf af wil skrop.

      Dan was Ek julle met skoon water, en julle sal skoon wees ... Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas ...

      – Esegiël 36:25; 16:9 (NLV)

      Dis dan waarom ek nie vuil voel nie, besef ek. So lyk God se vingerafdrukke dan. Dit los nie blou kolle op my skouers nie, maar ’n soort vrede en ligtheid wat nie menslik is nie. Dit trek my skoon aan.

      Baie verkeerde verslaggewing steek kop uit. Vir weke lank braak mense gal in die koerante. Daar’s briewe van mense met goeie bedoelings, maar ook van diegene wat nie net weier om met geestelike oë te kyk nie, maar wat die geestelike werklikheid haat. Is dit nie snaaks dat as die mure om iemand reeds platgeslaan en iemand weerloos is, mense juis hul kans waarneem om te begin aanval nie? Ek het besef ek sal my toespits op die geskenk van die Here se stralende teenwoordigheid in my en dat dit nie wys gaan wees om in pengevegte betrokke te raak nie. In ’n stadium lees ek vir Louis ’n uittreksel uit die dagstukkies van Charles Spurgeon:

      ’n Christen moet ’n toonbeeld wees van Christus se vrymoedigheid. Moet nooit skaam wees vir jou geloof nie. Jou belydenis (van jou geloof in Christus) sal jou nooit tot skande maak nie; maak seker dat jy nie jou geloof beskaam nie. Wees soos Jesus, baie manmoedig vir jou God ... Die beste van alles sal wees as jy probeer om, soos Jesus, jou vyande te vergewe. Dit sal Hom ten beste vertoon. Laat die verhewe woorde van jou Meester altyd in jou ore weerklink: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34.) Vergewe soos jy hoop om vergewe te word.

      In Psalm 18:7–16 is dit duidelik dat God baie kwaad word wanneer sy kinders so deur die vyand aangeval word. Die aarde bewe. Rook, vuur, blitse en haelstene kom uit God se mond en neus. Dis ’n kwaai beeld. God skeur die onderaarde oop. Hy is woedend. Ek glo vas daar sal baie siele by Satan afgeneem word in ruil vir wat hy aan my en Louis gedoen het. Seuns en dogters van God wat ver van Hom af weggevoer is, sal ook terugkom. Omdat ek Jesus se Naam bely, is my verkragting, die doodsdreigemente en Louis se ontvoering nie verniet en gratis nie. Die Here eis iets van die Satan daarvoor, bloot omdat ons sy kinders is. Ons sal nooit menslike lyding verstaan, met al die bloederigheid daarvan, as ons weier om na die onsigbare wins daarvan te kyk nie.

      Jesus se offer aan die kruis – vir die verkragter se vergifnis en vir my genesing – was op gelyke basis vir ons twee gebroke mense beskikbaar. God het Hom nog nooit laat afsit deur enige mens se vuilheid nie en was ook nog nooit beïndruk met enige mens se poging om vanself te probeer skoon word nie. Die verskil tussen my en die verkragter is dat ek dit wat Jesus na my toe uitgehou het – my verlossing en genesing – met groot dankbaarheid ontvang het, maar dat my verkragter waarskynlik steeds in dieselfde gebroke toestand is as wat hy was toe hy daardie nag halfbesope in my huis ingekom het. Hy is die een wat ons gebede die nodigste het.

      Moenie in my en Louis vaskyk nie. Moenie vra wie ons is, wat ons roeping of beroepe is, waar ons woon, in watter kerk ons is, of ons gedoop is, in tale praat, Skrifgedeeltes oor ons gesin uitgeroep het of nie. Dis die verkeerde vrae.

      Vra liewer: Wie is hierdie God wat ’n vrou soos ’n bruid laat voel op die nag van ’n verkragting? Wie is dit wat vergifnis in ’n man se hart kan sit teenoor die rower wat sy vrou probeer onteer het? Wat vertel dit van God wanneer Hy mense deur ’n vuuroond van trauma neem, maar nie toelaat dat hulle na rook ruik nie? Ja, vra die vrae wat ons nie mag vra nie. Vra hoe groot ’n God is wat ’n verkragting ten goede kan laat meewerk vir iemand wat Hom liefhet. Vra jou af wat in die Vader se hart is wanneer Hy besluit dat nie net ek en Louis nie, maar ook ons drie kinders nie ’n enkele simptoom van trauma sal toon van daardie dag tot nou nie. Vra saam met een van die spottende briefskrywers waarom die Here my nie lank genoeg voor die tyd gewaarsku het sodat ek kon wegkom nie? Waarom net ’n paar minute voor die tyd? Luister dan na die onwaarskynlike antwoord: Dalk omdat Hy nooit van plan was om my te laat wegkom nie, maar van plan was om by my te wees en iets veel beters van my lewe te maak as gevolg daarvan. Dalk omdat die voorreg om Hom te sien en te hoor groter is as die onreg om verkrag te word. Jubelskree dan saam met Paulus:

      Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie. Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink? Of wie sou as sy raadgewer kon optree? Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed? Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

      – Romeine 11:33–36 (NLV)

      Dit maak dus geen sin om te kyk na my en Louis, of na enige ander Christen met wie iets gebeur, en te dink ons gaan leidrade sien oor waarom dit gebeur en antwoorde kry oor waarom God hier iets keer en daar iets toelaat nie. Ons gaan ook nie oordele kan vel oor mense se getuienisse nie, want God is wie Hy is – onverklaarbaar. Hy sal doen wat Hy wil doen – onvoorspelbaar. Wat ons beleef het, was inderdaad onverklaarbaar en onvoorspelbaar. Niks in ons sou ons kon laat vermoed dat ons die voorreg van ’n wonderwerk sou beleef nie.

      Hiermee ontken ek nie dat die lang worsteling op pad na genesing vir baie Christene ’n werklikheid is nie. Dis selfs vir my ’n werklikheid.

      Vergifnis is ’n wonderlike ding. Dit maak dat ek nie vandag met ’n rower op my skouers rondloop nie.

      Verhaal 4: Om in genade te leef omdat jy vergewe is

      4

      Om in genade te leef omdat jy vergewe is

      Marie Enslin

      Aan God, my Vader en Beskermer, al die eer.

      Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.

      – Psalm 40:2–3

      Vir jou wat my verhaal lees: God hoor jou smeking, Hy antwoord jou na sy goeddunke. Wanneer jy in jou diepste nood na Hom roep, antwoord Hy jou nie net deur jou daar uit te haal nie, Hy plaas jou voete op vaste grond en Hy hou jou vas wanneer jy begin loop. Dit wat nou hier volg, is maar enkele voorbeelde van God se genade wat ek ondervind het in die bykans vyf jaar wat verby is. Daar is so baie om te vertel, maar mag hierdie enkele grepe jou versterk, bemoedig en nader aan Hom bring.

      My verhaal begin die oggend

Скачать книгу