Lewensblik. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 5

Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

agter met ’n donskombers bekruip, dit oor jou kop gooi en jou vaspen sodat jy nie kan sien of hoor of asemhaal nie.

      Ek moes leer dat my Vader se oorweldiging nie altyd ’n versmorende donskombers is nie: ’n Kaapse herfsmôre wanneer die lug helderder as kristal is en Tafelberg met donker lyne geteken staan. Wanneer die wingerd rooier en bruiner word as wat sêbaar is, die droë blare soggens onder my kaal voete knars. Wanneer die sterre saans teen die kouer hemel brand en die maan in die swembad dryf. Dán word ek oorweldig met die majesteit van Hom wat ek Abba mag noem.

      ’n Paar maande gelede verloor ’n vriend van my dogter sy jong vrou in ’n motorongeluk, bly agter met twee dogtertjies van vyf en twee.

      Onlangs kom ek by my dogter waar sy met die kleinste op haar skoot sit. Ontroer sien ek hoe die kind teen haar aankruip, armpie styf om die nek, met ’n vingertjie die kontoere van Lenska se gesig volg.

      Dit word vir my te veel om te hanteer.

      Maar dis nie net in die heel groot ellendes dat ek oorweldiging leer verstaan nie. Tydgrense storm op my af; dae met meer dinge om te doen as ure om dit te doen; dreigende familiekwellings, eindelose besluite – tot ek soos ’n wa waarvan die wiele afgeval het langs die pad lê.

      Ons Australiese dogter kuier by ons met die kleine Jake, twintig maande oud. Sy geskater klink deur die huis, sonlig blink in sy goue haartjies, groot bruin oë soos dennepitte praat met jou.

      “B-o-b!” roep hy in sy Australiese aksent agter sy oupa aan, sy mondjie vol druiwekorrels geprop. Vrolike kind. Maar as dinge te veel raak of as die groot vaakte hom bekruip, hoor jy sy kla-stemmetjie deur die gang dra: “Daddy! Daddy-y-y!”

      Dan wil hy sy ver weg pappa hê.

      As dinge vir ons te veel raak en ons wiele afval. As iets só kosbaar mooi is dat ons daardeur oorweldig word. As ontroering dreig om ons harte te breek. As tydgrense en kwellings en te min ure ons met ’n versmorende donskombers bekruip.

      Dit is dán dat Abba sê: “Kom, daar’s ’n Rots wat hoër as jy is. Dis die enigste Rots waarop jy veilig sal wees. Kyk, dit is Ek. Net Ek!”

      Nooit hoor ons Hom só goed soos in ’n oomblik van oorweldiging nie.

      Oomblik in die wind

      Die dag breek wondermooi oor Agulhas se see. My man roep my uit die bed om te kyk hoe die branderskuim eers rosig en toe goud word, die blou berg dynserig agter. Maar aan die ontbyttafel skud ons gasvrou haar kop: “Hier kom ’n storm aan, lelike wind.”

      Ons vat die grondpad tot by die kus en daarna langs die skilder­agtige Pearly Beach, Uilenkraalsmond, Franskraal, Gansbaai, Stanford. Verlustig ons aan die fynbos wat welig alkant van die pad groei.

      Maar die son het verflou, van die Kaap se kant af stapel die wolke en die wind dwarrel al hewiger deur die struike.

      By Hermanus haal honger ons in. Ons stop by die mooie waterfront. Toe ek my deur oopmaak, ruk die wind dit byna af en pluk my letterlik uit die motor.

      Ek staan bedroë in die woedende aanslag terwyl my man die motor sluit, klou aan my donkerbril en oopgewaaide skouertas. Ons strompel die naaste restaurantjie binne en val uitasem neer. ’n Kelner bring die spyskaart. Ek wil my dogter bel en sê ons is binne ’n uur op Kleinmond. Maar my selfoon is weg! Drie maal krap ek my tas uit. Maar hy is weg. Vrees slaan om my hart. My foon is skaars ’n maand gelede opgegradeer en is piepklein. Tel hom net op en steek hom in jou sak.

      “Hy’t in die motor uitgeval, jong,” sê my man onbewoë agter sy koerant.

      Ek hardloop deur die brullende wind terug, bid asemloos: “Asseblief, Here, asseblief!”

      Foontjie is nie in die motor nie.

      Terug in die restaurant het ons kos aangekom, maar ek het geen erg aan eet nie.

      “Jy’t nie goed gekyk nie,” sê my gade en stap self deur die wind terug. Maar ek hét goed gekyk.

      My verstand het gevries. Hoe maak ’n mens nou weer?

      Ek skakel my seun. Hy sê wat ek moet bel om die foon te stop, dat ek dit by die polisie moet rapporteer vir die versekering. “Maar, luister,” sê hy nugter, “hy’t seker geval toe jy uitgeklim het, gaan kyk onder die motor.”

      Ek lê my derde tog deur die stormwind af. Ek sê kwaad vir die Here: “Is dit nou régtig nodig?”

      Daar lê niks onder die motor nie.

      Asem om te hardloop het ek nie meer nie. Ek loop terug en sê bitter: “Dis nie regverdig nie!” Ek dink aan my foontjie in sy trendy pienk leersakkie en die wind waai my selfjammer-trane in my gesig terug.

      Nors weier ek die aantreklike broodjies wat my man aanbied. Ek worstel om uit te maak wat oor sý foon geprewel word van hoe ek my verlore foon moet stop.

      Toe staan daar twee mans voor my. Een is ons kelner, die ander ’n sekuriteitswag.

      “Mevrou,” sê die kelner, “ek het sekuriteit van die selfoon laat weet.”

      Hy moes my paniek gehoor het.

      Die sekuriteitsman hou Pienkfoontjie na my uit. “Hy’t onner daai wit Tazz ingewaai, Mevrou. Ek het hom hoor lui toe ek verby­loop.” Sy tande lag wit in sy blinkende swart gesig.

      Ek soen hom sonder meer.

      In die motor op pad Kleinmond toe herstel ek mettertyd van my histerie. En toe ek my asem terugkry, hoor ek die geliefde stem, soos sy dissipels Hom in daardie ander windstorm gehoor het: “Waarom was jy so vervaard, kleingelowige?”

      Ek knyp my oë styf toe. “Abba,” fluister ek, “ek dag die wind waai my weg.”

      Die groot verlang

      Dis een van daardie onmoontlike mooi Bolandse dae. Die lug is so vars ’n mens kan daarin byt. Yslike golwe slaan skuim teen die helder hemel op. Meeue duik krysend oor ons.

      Kaalvoet sit ek in die sand, laatson teen my rug. Die groot hond druk styf teen my aan. Ek voel sy lyf liggies bewe. Nougeset hou hy elke beweging dop van die kinders wat oor die rotse klouter.

      Ek sit my arm om hom. Hy sug diep, maar sy blik weifel nie. Myne ook nie.

      My kinders wat vyf minute van ons af gewoon het, het weggetrek Kleinmond toe. Ek gaan nie meer smiddae die twee kleintjies by hul skool haal nie. In hul spesiale kamertjie sit die bere lusteloos op die bed. Die gordyne hang slap voor die rame. Geen stemmetjies kom uit die swembad nie en niemand lol om op my rekenaar te speel nie. Die pot lekkertjies op my lessenaar raak nie leeg nie en die koekieblik bly vol.

      Smiddae wag die honde vrugteloos op my dogter se motor waarin sy die kinders kom haal. Hulle spits hul ore en laat sak dit weer en kyk my beskuldigend aan.

      Die skielike leegte vang my onverhoeds. Eers dag ek: dis reg so, platteland is die plek om kinders groot te maak, ek’s mos ’n volwasse ma wat nie my kinders aan my vasbind nie.

      Ek’s ’n gelowige, die Here sal na hulle kyk.

      Maar toe vat die groot verlange my. Skielik identifiseer ek met die droefgeestige skrywer van Psalm 102. By tye voel ek, nes hy, so verlate

Скачать книгу