Verstevlei. Jaco Fouché

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verstevlei - Jaco Fouché страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Verstevlei - Jaco Fouché

Скачать книгу

tion>

      Verstevlei

      Jaco Fouché

      Human & Rousseau

      Vir my vrou, Lorraine, en die Retiefs van Welvanpas in die Bovlei

      “Even if it’s only for six months that might be six months of happiness and anyway it’s six months of life got through.”

      Poor Cow: Nell Dunn

      In die begin was daar niks nie. Of ten minste, daar was baie min – net ’n bries en ’n kraai wat tande gewissel het, en die kraai het gehoes en ’n melktand het uitgekom en is in die bries weggewaai. En die tand het my heelal geword.

      Vroeër drome was daar ook, veral van moord en water. Ek sou saam met my ouers in die motor ry en ons sou oor ’n brug oor ’n vol rivier ry, en dan glip die motor van die brug af en ons is onder water. Dan het ek my asem opgehou en opgehou tot ek nie meer kon nie. En dan het ek ontdek ek kan onder die water asemhaal en ek het so veilig en gekoester gevoel terwyl ek opkyk na die oppervlak bo my.

      Ander kere het ons met ’n pad langs gery, al nader aan ’n groot dam of die see, en dan het die water oor die pad begin loop en ons kon nie omdraai nie.

      Party nagte het ek uit ’n aardige droom wakker geword: ons huis is aangeval en mans het ons in die sitkamer aangehou. Hulle was op die punt om ons dood te skiet. Ek het my solank dood gehou in die hoop om die werklike dood vry te spring, maar ek het altyd wakker geword voor ek kon uitvind of my plan werk.

      Ek het ook gedroom ek val van ’n krans of gebou af, en dan word ek wakker net voor ek die grond tref. By die kleuterskool waar ek bedags was, het ons vir mekaar gesê as jy droom jy gaan dood, gaan jy regtig dood.

      Die lewe was onseker. Ons het getrek, nie ver nie, net van Bronkhorstspruit af Vereeniging toe, maar in Vereeniging was die lorrie met ons meubels nie by die nuwe huis nie. Toe maak Ma vir ons beddens met komberse en klere in die sitkamer, en ons het viennas en tjips geëet, ek en Pa en Ma en my suster oor wie ek hartseer voel.

      Drie Riviere, Vereeniging: dit was ons nuwe adres. Ek onthou nie meer waar ons in Bronkhorstspruit gewoon het nie, net dat dit op die hoek van twee strate was. Eendag het ’n vrou met drie bene in die straat verbygekom, dit het ek vir lank gesweer, maar Ma het gesê dis onmoontlik.

      Wat ook op Bronkhorstspruit gebeur het, is dat ek my suster met ’n klip teen die kop gegooi het. Dit het gebloei en Ma moes van haar hare wegsny om die seerplek te dokter. Ek het in die vuilgoeddrom gaan wegkruip, bang vir Pa, en bang vir my eie woede wat maak dat ek sulke dinge doen. Pa het my daar gekry en net gesê ek moet inkom huis toe. Ek het nie pak gekry nie.

      Die huis in Drie Riviere het ’n okkerneutboom agter die motorhuis gehad. Ek het die okkerneute met ’n gesukkel gepluk en met ’n stukkie baksteen oopgeslaan. Die neute was in wit dons gehul, skimmel wat gegroei het in elke vrug wat ek oopgemaak het. ’n Mens moes dit seker nie geëet het nie, maar ek het. Ek onthou nog die smaak; dit was houterig.

      Langs die okkerneutboom was ’n komposgat wat Pa gegrawe het. Wanneer hy gras gesny het, het ek en my suster in die warm, soet gras gespeel. Tot Pa kom sê het ons moet pasop vir slange.

      Pa was ’n beheerbeampte in ’n staatsdepartement. Ek onthou die gebou waar hy gewerk het: rye mense in donker gange voor kantore met houtmeubels en liggroen blindings voor die vensters. Terwyl die stemme van amptenare uit die kantore dryf, kyk die wagtende mense na my en praat soms met my. Ek, die verskrikte maar nuuskierige wit kind wat nie die swartmense se taal verstaan nie.

      I

      Ek ontmoet Pamela vir ontbyt in ’n braairestaurant. Ons voer ons vriendskap nie in eleganter plekke nie.

      Pamela is ’n bejaarde vrou wat na sigaretrook en motballetjies ruik en vir almal kans sien. Nader jy haar, skreef sy haar oë agter haar bril en wuif vrolik terwyl sy iets sê, of roep as jy nog nie naby genoeg is nie.

      “Hello, Renier!”

      Sy kom met ’n ligte waggel nader, ’n swaai van die een been wat deur ’n dik skoensool verleng word. Sy dra ’n uitgewaste moulose rok met ’n blompatroon, en haar handsak is onder haar boarm vasgeklem. Haar gesig is breër as wat dit lank is.

      “Jy’s al weer vroeg,” sê sy toe sy kom sit.

      Die kelnerin is gou by. Ons bestel koffie.

      “En jy tel gewig op. Een van die dae gaan die meisies nie meer lank na jou kyk nie.”

      “Dankie vir die waarskuwing. Maar ek is in my veertigs, dit sal seker gebeur.”

      “Hoe gaan dit met Michelle?”

      “Goed. Ek het haar lanklaas gesien.”

      “Jy moet rigting kry,” sê Pamela vriendelik. “Die tyd staan nie stil nie.”

      Daarop reageer ek nie. Ek gebruik net die naam Michelle wanneer ek voel my heteroseksualiteit word bevraagteken.

      Ons drink ons koffie, eet broodjies met kaas en aarbeikonfyt. Die kelnerin doen van tyd tot tyd by ons aan en ons stuur haar sagkens weg.

      Pamela is uit die Boland. Sy het my een aand in ’n soortgelyke restaurant haar verhaal vertel. Sy het grootgeword in ’n huis met ’n slaweklok in die tuin, en daar was eekhorings in die ou akkerbome. Dit was op die dorp, maar hulle het gereeld op ’n plaas gaan kuier, Verstevlei. Ek onthou die naam, want dit wek ’n mooi prentjie.

      Ek sit en luister hoe sy praat met ’n stem wat aan ’n aktrise s’n herinner, so dra dit wanneer sy ernstig raak. ’n Mens gee nie om om in haar geselskap te sit nie. Haar aksent is ’n bietjie Engels en ek raak weer lief vir haar, sy wat dertig jaar ouer is as ek.

      Ek is ook bevriend, of praat ten minste, met mense wat sou neersien op hierdie vrou, oor die reuk van sigarette en motballetjies, oor die taaierige hare, oor haar algemene onaansienlikheid. Ek sou sekerlik self min van haar gedink het as ek meer gereeld in daardie mense se geselskap was en hulle menings vir my belangriker was. Maar ek is nie meer so nie.

      My skooldae het my op niks meer voorberei as die gedagte dat ek altyd lojaal teenoor my skoolvriende moet bly nie, en dat ek sekere soorte mense moet vermy. Dekades later verstaan ek egter die wêreld beter, meen ek. Die wêreld, my wêreld, elkeen van ons se wêreld, is nie ’n hoofroete nie, maar ’n systasie soos die een waar Pa die nag op die trein na Klerksdorp gewag het. Vandat ek losgekom het van die bande met my skoolvriende, besef ek dis nie waar dat ons só by ons medemens moet inskakel dat ons elke liewe idee en vooroordeel moet deel nie.

      Pa werk ná skool in die Kaap, ek dink drie jaar lank. Hy vang vis en swem en speel rugby. Hy is jonk. Hy het vriende met dik arms en een wat ’n dominee is. Die dominee is bekend onder die ander rugbyspelers omdat hy eendag ’n speler van ’n besoekende span van sy voete af geklap het. Dis ’n spesiale ding vir ’n dominee om te doen en die storie is lank daarna nog oorvertel.

      Toe word Pa verplaas en moet hy met die trein Transvaal toe gaan. Hy reis eers na ’n klein stasie, ek dink per bus, of miskien laai iemand hom daar af, waar die trein hom drie-uur die nag moet kry. Intussen sit hy op sy bagasie voor die kaartjieskantoor en dit raak donker en hy kry koud en loop later op en af op die perron. In daardie nag kom iemand na hom toe, ’n bruin man wat met hom oor die einde van die wêreld begin gesels. Die man sê dit sal uit die water kom en die vorm van ’n slang aanneem, ’n slang met ’n juweel voor sy kop. En die slang sal begin rol en die wêreld in hom oprol en dit sal goed wees, want dan

Скачать книгу