Verstevlei. Jaco Fouché

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verstevlei - Jaco Fouché страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Verstevlei - Jaco Fouché

Скачать книгу

stort in louwarm water, maar dis ’n somersdag en dit maak nie saak nie. Langs die stort skyn lig deur die halfdeursigtige glas. Ek trek aan (denimbroek en ’n bont hemp wat ek volhou ’n Afrika-hemp is, maar Michelle sê dis eerder ’n Hawaii-hemp) en wonder of ek moet skeer. Die suster kla as ek twee dae oorslaan en wys my op die huisreëls, wat bepaal dat ’n mens tussen sewe soggens en tien saans betaamlik moet wees en gereed om besoekers te ontvang en die naam van die tehuis hoog te hou.

      Ek smeer dus my gesig seep en haal die lemmetjie uit om dit oor my vel te trek. My ken los ek, soos ek nou al ’n week lank maak. Dis tyd vir ’n baardjie, soos die mode deesdae van so een uit 24 mans vereis. ’n Mens ontkom nie aan die mode nie. Elke kledingstuk wat jy dra, elke nerfaf skoen, elke stukkie baard of ongeknipte haar op jou kop sê iets oor jou.

      “Meneer Proot!” praat die suster anderkant die badkamerdeur.

      “Ja?”

      “Ek wil jou nou dadelik sien.”

      “Ek is besig om te …” Ek is sterk in die versoeking om ’n banale liggaamsfunksie te noem, maar my geïndoktrineerde ordentlikheid verplig my om te sê: “… skeer.”

      Ek maak klaar en stap met handdoek, skeergoed en seep gang toe. Die suster staan daar, kort maar solied soos ’n Bybel. Haar arms is dik en pofferig en haar regterhand is in haar sy gedruk. Haar linkerhand hou ’n manuskripboek vas. Ek kan Renier Proot op die buiteblad lees.

      “Dis my eiendom daardie,” sê ek.

      “Kom kantoor toe.”

      Inwoners loer by hulle kamers en die sitkamer uit terwyl ons met die lang gang langs stap. In die kantoor maak sy die deur agter my toe. Teen die mure is rakke met potplante en boeke. Ek kan een oor noodhulp uitmaak voor die suster my aandag opeis.

      “Ek het al voorheen hieroor gepraat.”

      “Dis myne.”

      “Wat is dit?”

      “Dis myne! Dis wat dit is.”

      “Dis selfmoordnotas.”

      “Dis skeppende skryfwerk.”

      Sy lees: “ ‘Stilte in die huis ondraaglik. Dink aan lemmetjies en bier. Sny myself toe ek negentien was en proe aan die bloed.’ En hierdie: ‘Is daar lewe ná Vereeniging? Sal iemand Proot by ’n poort ontvang en welkom heet?’”

      “Dis ’n woordspeling – poort en Proot. Dis ’n digterlike gier.” Dit sê ek floutjies. Ek voel baie verleë.

      “Dis nie al nie. ‘Ek onthou negentien. Sit in ’n weermagkamp en smag na die burgerlike lewe. Ek onthou twintig. Ek klaar uit en werp my in die burgerlike lewe en verlang terug na die weermag. Sit nou in ’n tehuis wat my na enige ander plek op aarde laat verlang.’ Is jy nie gelukkig hier nie?”

      “Ek is nêrens gelukkig nie. Ek is hoogstens soms gemaklik.”

      “Hoe kan jy dit sê? Ons leer julle van die genade en dat die genade groot is. Jy, meneer Proot, wil jou net nie onderwerp aan die Here se almag nie.”

      “Ek doen dit gereeld. Ek gaan in ’n beswyming op my kamervloer en praat in tale.” Ek begin: “Erbland vlyf syrg …” Maar dis ’n flou poging, moontlik omdat ek nie op die vloer inmekaar sak nie.

      “Daai kan jy maar los, dit beïndruk my nie. Van vanaand af doen jy Bybelstudie saam met Karen-hulle.”

      “Ek durf nie, suster.”

      “Jy durf.”

      “Hulle glo in die Pok Restitium, suster.”

      “Die wát?”

      “Suster moet hulle vra. Dinge is nie lekker daar nie. Ek kan sweer hulle het een aand ’n watergees opgeroep. Die plas het die volgende oggend op die vloer gelê.”

      Sy is ’n bietjie van stryk gebring, maar gaan voort: “Wat beoog jy met jou verblyf hier? Jy’s nie juis siek nie, jy’s net eksentriek.”

      “Ek wil net veilig wees.”

      “Wanneer kom Michelle terug?”

      “Oor twee weke.”

      “Dis hoekom jy so omgeëllie is. Michelle sal sin in jou kop inpraat. Hoekom gaan jy nie ook ’n bietjie soontoe nie?”

      “Sy bly by familie.”

      “En?”

      “Ek is bang vir familie.”

      “Dis die mense wat die belangrikste in ons lewens is. Ek mis nooit ’n familiebyeenkoms nie. Nooit.”

      “Hulle het my geken toe ek ’n kind met potensiaal was. Mense het gepraat oor my moontlikhede. Wat moet hulle vandag oor my sê? Ek sien nie kans vir al die aanmerkings nie.”

      “Familie is die dierbaarste vriende wat jy ooit sal hê.”

      “Die dierbaarste vriende wat jy nie kan afsê nie.”

      Die suster se liggaamshouding verander meteens. Haar groot, ronde self leun vooroor en dis asof sy moed verloor het, maar in werklikheid buk sy net oor die lessenaar om iets neer te skryf. Ek kyk deur die venster na die toegegroeide groentetuin. Hier was lanklaas ’n inwoner wat geesdriftig oor tuinmaak is.

      “Hier.” Sy hou ’n vel papier uit.

      “Wat is dit?” Ek lees: Permissie om te vertrek vir twee weke. Get. Irma Kloppers (RN).

      “Dis ’n pas. Gaan iewers heen en gun my siel rus.”

      “Maar waarheen?”

      “Enige plek. Jy het die verandering net so nodig soos ek.”

      II

      My hande is koud van die lug wat by die oop balkondeur instoot. Dit bring die geluid van die stad na my soos nuus van ’n oorlog. Ek hoor verkeer steun, ’n motorfiets waarvan die suiers kloppend in die silinders slaan. In die woonstel langsaan is die televisie hard aan – ek kan hoor hoe skel die gasheer van ’n bruuske geselsprogram waarna ek ook soms kyk op een van sy gaste.

      Oor my radio sing iemand, maar ek snap nie meer popmusiek nie en kan nie meer dans nie. Die style, die gebreklike melodieë, die abrupte onderbrekings net voor ’n deuntjie ’n lekker aanvang neem – dit pla net my ore. Popmusiek was vriendeliker toe ek jonk was, die lirieke meer ballade-agtig. Of was dit regtig? Onlangs hoor ek dat popmusiek besonder eenvoudig is. Miskien het ek net uiteindelik agtergekom hoe eenvoudig. Maar vir wie sê ek dit wat nie vir my gaan sê ek hou my net verwaand nie?

      Wat anders is daar om te luister? Nuusprogramme dra swaar aan aktuele sake wat oor drie weke min sal beteken. En buitendien verg dit inspanning om op die hoogte te bly, want die rolspelers en die gebeure verander so vinnig. As jy my sou vra wat tans nuuswaardig is, kan ek sê dat die president beter vertoon as ses maande terug, want hy wil die staatsdiens doeltreffender maak en hy reik uit na die verskillende groepe in die land. Oor ses maande sal hy waarskynlik dieselfde te sê hê, sonder dat iets intussen

Скачать книгу