As die wind kom draai. Hans du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis страница 3

As die wind kom draai - Hans du Plessis

Скачать книгу

tinskotteltjie. “Ek het die lewer gebring,” sê hy.

      “Hoe lyk die vleis, Jakob?” Petronel neem die skottel by die kort mannetjie met die yl korreltjiesbaard.

      “Dis mooi vleis, Nooi.” Hy vryf met sy regterhand oor sy gryse­rige hare.

      “Kan jy onthou hoe jy by Coenraad en Bellie gekom het, Jakob?” vra Lourens.

      “Ek is mos maar by oubaas Bekker gebore, my pa was een van sy slawe.”

      “Het jy jou pa geken?” vra Vryheid.

      “Natuurlik, hy het ons gevertel dat oubaas Coen hom op die markplein in die Kaap onder die slaweboom gekoop het toe hy nog ’n mannetjie was.”

      “En jou ma?” vra Vryheid.

      “Nee, dié het ek net so effentjies geken. Sy was mos uit een van die krale. Toe hulle nou sê die slawe is vry, het ek gebly. Ek het mos nie ’n ander huis gehad nie en Coenraad het ’n agterryer makeer.” Jakob kyk grond toe. “Toe los Bellie my hier by julle.”

      “Ek moet gaan kyk of die Prinsloos se kampplek reg is,” onthou Lourens skielik. “Het julle hout gebring, Jakob?”

      “Genoeg,” sê Jakob.

      “Is dit die nuwe mense op Rietpoort?” vra Vryheid. “Ek ken hulle nie eintlik nie.”

      “Hulle kom van Natal af.”

      “Kuier julle maar,” sê Vryheid. “Ek is nie lus vir vreemde mense nie.”

      “As ek reg onthou, is daar ’n Prinsloo-dogter,” spot Petronel.

      “En mooi daarby,” sê Lourens.

      2

      “Jou naam is mos Vryheid?”

      “Ek het dit sommer self uitgedink, ek kon nie mooi hoor wat die ou sê toe hy my doop nie,” mompel hy ongeërg en draai om. Hy het al aan haar sagte stem vermoed sy moet mooi wees, maar só ’n fyn meisiemens het hy nie agter hom verwag nie. Skielik is hy selfbewus oor sy antwoord. Sy sal dink hy is half simpel. Sy kyk egter reguit in sy oë in, byna asof sy hom uitdaag om aan haar te raak. Maar hy kan dit nie waag nie, want sy laat hom aan ’n porseleinpoppie dink, amper soos die roomkleurige enetjie wat Bellie Bekker die hele trek met haar saamgepiekel het, toegedraai in linne. Sy hande voel vir hom te groot, sy lyf enorm langs hierdie breekbare mensie. Hy kan haar maar net in stilte aanstaar.

      “Is dit altyd so mooi hier by julle?” vra sy en kyk dromerig oor die mistige vallei.

      “Dis mooier in die somer. Wintertyd is alles mos geel, veral nou hier in Augustus. Ons bid elke dag vir reën voordat die vuur die veld vat. Ons het Skuilhoek spesiaal uitgekies, ek en Lourens en Petronel.”

      Saam kyk hulle af op die dal wat noord en oos voor hulle tussen die berge lê. Die vroeë son maak dit nog geler, maar dit is ’n sagte geel. Die lang gras buig biddend in die effense wind. In die kloof agter hulle fluit ’n fisant.

      “Elande,” sê sy opgewonde en wys na die voet van die hoë kop regs onder hulle.

      “Hulle is mooi,” antwoord hy, maar hy bly na háár kyk. Ooglopend kom sy dit nie eens agter nie.

      “Ek het gister toe ons gekom het gesien hoe baie wild hier in die kom is.” Sy kyk ’n rukkie stil na ’n paar hartbeeste wat nader aan hulle wei, dan vra sy: “Hoekom wil mense hulle alewig skiet, hulle is dan só pragtig?”

      “Eet jy biltong?” vra hy spottend.

      “Natuurlik,” sê sy.

      Verbeel hy hom of is sy effens iesegrimmig? Dit moet dan die mooi Prinsloo wees waarvan Lourens gister gepraat het – hy het beslis nie gelieg nie! Lourens het gister mos gesê hy verwag oom Bêrend Prinsloo-hulle, die nuwe mense van Rietpoort, die buurplaas wydsbeen oor die Vaalrivier op die vlak. Hulle is op pad terug van Mooirivierdorp af. Hulle gaan net ’n aand of twee oorstaan, want oom Bêrend sê hy kan nie sy smidswinkel so lank laat toe staan nie. Daar is nie nog ’n grofsmid in hierdie distrik nie.

      Sover Vryheid weet, is dié nooi die jongste Prinsloo-kind. As hy reg onthou, is sy ’n laatlam, heelwat jonger as haar drie broers. Die mense sê haar oudste broer kon omtrent haar pa gewees het. Vryheid onthou die Prinsloos vaagweg van die trek af, maar hy is nie heeltemal seker hoe die gesin werk nie, want hulle het eers net voor Vegkop by die trek aangekom, toe is hulle eers Natal toe.

      Die derde broer, Bennie, sê die mense, is nie heeltemal reg in sy kop nie. Vryheid wens hy kan haar naam onthou. Iets soos Martha of Maria of iets.

      “Wat is jou naam?” vra hy omdat hy meteens bang is sy verdwyn, en hy wil na haar bly kyk.

      Sy antwoord spontaan: “My broers noem my Sussie.” Sy glimlag. “Ek hoop net nie jy wil my ook Sussie noem nie. My naam is eintlik Margaretha Heletjie Prinsloo.”

      “Aangename kennis, Margaretha Heletjie Prinsloo.” Hy steek sy hand uit. Hoe klein lyk haar handjie toe hy dit in sy vingers toevou.

      “Sommer Magriet, en ja, jy is Vryheid, weet ek al.”

      “Ek wou jou nog vra hoe jy my naam ken.”

      “Ek het jou by Vegkop gesien.”

      “Vegkop, toe die Matebeles ons amper teruggejaag het Kolonie toe? Dis al agt jaar gelede.”

      “Ja, ek weet, en ek was nog klein, skaars tien, maar ek onthou jou.”

      “Hoe sal jy my dan onthou? Ek onthou niemand nie; ek onthou net hoe bang ek was en hoe warm die gewere se lope geword het. Ek hoor nou nog partykeer in my drome die verskriklike geskree van die vyand.”

      “Jy het nie vir my bang gelyk nie, jy het dan bly skiet elke keer as die vrouens vir jou ’n geweer aangegee het.”

      “Mens dink nie terwyl jy veg nie.” Hy verkyk hom aan die glans van die oggendson wat op die lang, donker vlegsel oor haar skouer blink.

      “Ek vergeet nooit goed wat my bangmaak nie en ek onthou goed jy het langs meester Joachim Roos op die kant van sy blou wa gestaan met julle gewere voor julle oor die watent. Lourens Botha was anderkant Meester. Nie een van julle het ophou skiet nie.”

      “Gelukkig was almal toe al in die laer.”

      “Gelukkig? Weet jy hoe voel dit tussen die waens in die middel van ’n laer as jy nie buitetoe kan sien nie? Net die mans wat oor die watente buig – hulle rûe. Die vrouens wat oorhaastig laaistokke in lope afstamp. Mens se ore wil toeslaan van die lawaai. Ek onthou dit alles so helder soos gister.”

      “Hoe onthou jy dit so goed?” Hy lag.

      Sy antwoord nie dadelik nie, skerm die son met haar regterhand uit haar oë en konsentreer op die elande wat lyk of hulle deur die hoë gras in die leegte sweef. Hy kyk weer na die meisie: sy ís mooi, die hoë wangbene. Sy lyk skraal in die lang, wit rok wat tot op haar voete hang, net die punt van haar een velskoen steek onder die soom uit. Nekdoek van linne. Sy het haar kappie afgehaal en draai dit ingedagte om haar linkerwysvinger aan die lint in die rondte. Hy wens hy kon aan haar raak. Hy sal met sy twee hande reg om die middeltjie kan vat. ’n Mens

Скачать книгу