As die wind kom draai. Hans du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis страница 4

As die wind kom draai - Hans du Plessis

Скачать книгу

het my eie geweer.” Hoe sal hy dan nou nie sy eie geweer hê nie? Hy is ’n man van vier en twintig, al sukkel hy nog om te weet of hy regtig ’n burger is. Niemand wil duidelik met hom daaroor praat nie. Selfs nie sy boesemvriend Lourens nie.

      Moet hy nou vir haar sê wat in sy kop maal? Sy kan hom dalk verkeerd verstaan en wegloop. Miskien gaan sy nie eens antwoord wat hy verwag nie. Hy probeer die gesprek in ’n ander rigting stuur: “Ek sou in elk geval gehelp skiet het.”

      Sy bly net vraend na hom kyk totdat hy ongemaklik sê: “Dis hulle wat Saartjie Danster by Liebenbergskoppie vermoor het.”

      “Hulle?”

      “Die Matebeles.”

      “Saartjie Danster?”

      “’n Vrou vir wie ek lief was.”

      “Jammer, ek praat ook altyd sonder om te dink. Ek moes nie gevra het nie.” Hy kyk af op die twee vingers wat sy op sy pols lê. “En nou woon óns aan die voet van daardie koppie,” sê sy.

      “Dit was agt jaar gelede,” troos hy.

      “Hoe oud was jy toe?”

      “Sestien.”

      “Dan is dit goed dat jy by Vegkop geveg het.”

      “Hoekom dink jy het jou ma so ’n vraag gevra?”

      “Dit was vir my eintlik ook ’n vreemde vraag, want Lourens was jonger as jy en sy het niks dáároor gesê nie.”

      “Hoekom nie?” vra hy, al weet hy uit ondervinding watter antwoord om te verwag.

      Sy antwoord afgemete, sag, asof sy weet die woorde kan seermaak: “My ma het gesê jy is nie een van ons nie.”

      Hy kyk nie weg nie, sê net: “Meester Roos het gesê ek moet die snaphaan vat.”

      “Ek sou ook as ek jy was.”

      “Meester het gesê ek sal moet help skiet, want ons is te min weerbare manne. Ons was net meer as dertig, en hulle was duisende.”

      “Dis hoekom ek jou onthou, jy het die hele tyd bly skiet. Nes die ander mans.”

      Hy verbeel hom seker, maar dis asof sy haar slank hand weer na hom toe uithou. Miskien wens hy dit net. Tog raak sy vlugtig aan sy arm. “Jy is dapper.” Hy sien dat sy amper swart oë het. “Nes die ander,” voeg sy by en kyk weer na die wild ver onder hulle.

      “En wat het jou pa toe gesê?” vra hy, en besef dat hy gespanne op haar antwoord wag.

      “My pa het gesê meester Roos het vir veldkornet Du Plessis gesê mens stry nie oor herkoms as die nasies op jou afstorm nie. Ek het dit toe nie verstaan nie, maar toe ek hom later eendag daarna vra, het hy weggekyk en gesê as ons elke keer eers wil uitvind wie iemand se voorgeslag is, sal ons in hierdie land dalk nooit met mekaar praat nie.” Weer huiwer sy effens, versit haar voete, vee die lang vlegsel terug oor haar skouer en vervolg: “My ma het gesê my pa praat deur sy nek, hy dink nie altyd voor hy praat nie.” Sy lag lig. “Ek het nog gewonder hoe dit lyk as iemand deur sy nek praat.”

      “En jy?” vra hy asof hy haar laaste opmerking nie gehoor het nie.

      “Wat maak dit saak waar mens vandaan kom? Jy is wat jy is. Ek het nie my ouma of my oupa gekies nie, en ek kan tog nie vir die Here kwaad wees oor ek is wat ek is nie.” Sy glimlag. “Seker ook nie vir my ma nie.”

      Hy lag effens verlig, sien hoe sy oor die vallei tuur, en hy kyk na haar asof hy nooit daarvan sal kan moeg word nie.

      3

      Vryheid voel dat hy byna ongeskik lank na Magriet staan en staar. Daarom kyk hy ook ondertoe, asof hy dit vir die eerste keer aanskou. Die bergkom waarvoor hy nooit sal kan moeg word nie. Dit lê voor hulle voete soos die bakhand van ’n groot man, die blink spruit kronkel ’n lewenslyn oor die palm, die rante sit soos eelte, en die berge is veilige vingers óm hulle.

      “Nou verstaan ek eers hoekom hulle ons wyk die Berglandwyk noem,” sê sy ingedagte. “Soos ons gister van die dorp af getrek het, lê die hele wyk amper van Mooirivierdorp af tot anderkant Rietpoort hierdie kant soos ’n reus se sopkom in die grond.”

      Hy lag. “En die berge is stukke brood in die sopbord.”

      Die Berglandwyk met die Vaalrivier wat soos ’n sekel daardeur vloei. As hy reg onthou, het Lourens gesê hierdie wyk van hulle is groot, maklik ’n stuk of twaalf plase. Rietpoort, het Lourens gister gesê, is ook nog in die Berglandwyk, al is dit uit die berge uit. Lourens sal weet, want hy dink daaraan om hom verkiesbaar te stel noudat dié wyk se veldkornet oorlede is. Veldkornet Lourens van die wyk in die berge, dink Vryheid. Klink nogal belangrik.

      “Word mens nie bang tussen so baie berge nie?” dwing sy hom terug na ’n gesprek toe.

      “Hoe kan ’n mens bang word, die kom beskerm jou dan?”

      “Dit voel of dit my vasdruk,” erken sy, “jy kan nêrens heen vlug nie.”

      “Hier is honderde wegkruipklowe in die Bergland.” Hy lag. “Waarvoor sal jy wil vlug?”

      “Vir jou miskien.” Sy glimlag en spot met haar mooi oë. “Ons is nie meer kinders nie.”

      Hy is te verleë om aan ’n antwoord te dink. Die fyn meisiekind gooi hom skoon onderstebo. “In die Kango het ons tussen die berge grootgeword,” sê hy uiteindelik.

      “Ek onthou net die vlaktes van die Groot-Karoo – maar dis ook al lank terug.”

      “Sussie! Grieta!” Die stem breek van ongeduld.

      Dan sien Vryheid hom tussen die bome deur aankom, die lomp man met die hoed wat tot op sy groot ore getrek is, die slap rand wat soos ’n lap om sy gesig hang. “Ma sê jy moet dadelik wa toe kom.”

      Vryheid onthou hom nou. Haar jongste broer, maar hy moet heelwat ouer wees as sy, selfs ’n jaar of wat ouer as hy wat Vryheid is.

      “Ek kom, Boetie,” en onderlangs vir Vryheid: “Dis my jongste broer, Bennie.” En nog sagter: “Sien ek jou weer?”

      “Ek hoop so,” antwoord hy oorhaastig.

      Soos hulle van hom af wegstap, hoor hy Bennie Prinsloo se dik stem: “Vir wat staan jy weer met die volk en praat?”

      “Dis nie volk nie, dis Vryheid. Jy onthou hom mos?”

      “Hy’t nie eers ’n van nie. Ma sê hy’s nie een van ons nie,” brom hy, en hulle loop dieper die kloof in op, huis se kant toe waar hulle hulle wa onder die hoë witstinkhoutbome uitgespan het.

      Vryheid bly staan. Hy kan die woorde nie verder hoor nie, al hoor hy hulle nog praat. Vir Magriet Prinsloo, dink hy, sal hy nie maklik weer sien nie.

      Die elande het die newels in geloop. Kan dit sy oë wees?

      Die bekende gloed van opstand kom soos ’n naarheid in hom op. Hoe het sy nou weer gesê? Sy kan tog nie vir haar ouma kwaad wees nie.

      Is

Скачать книгу