As die wind kom draai. Hans du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis страница 8

As die wind kom draai - Hans du Plessis

Скачать книгу

uit die tuit effens meer as gewoonlik bewe.

      Antonie loop onder die seil uit en buk by die kliphuisie se lae deur in om sy ma en suster te roep. Om die vuur is dit stil, net die ligte geknetter en die reën wat nou sag sif.

      Vryheid staan nader aan Jakob, weg van die vuur af.

      9

      Toe tant Rebekka en Magriet by die mans aansluit, praat niemand dadelik nie. Magriet kyk ook nie in Vryheid se rigting nie. Hulle neem in stilte die koffie by Petronel. Dit is asof Bennie verstyf toe hy sien Vryheid kry ook koffie. Hy loer onder die hoed uit na sy twee broers.

      Hulle drink koffie in ’n ongemaklike stilte. Die reën het opgehou, net ’n skraal windjie bly oor, en die geluid van Bennie wat sy koffie luidrugtig slurp.

      “Neef Lourens,” verbreek oom Bêrend die stilte, “kan ek en jy bietjie gesels?”

      “Natuurlik, oom Bêrend.”

      “Is daar nog iets?” vra Jakob. Klaarblyklik verstaan hy dat die koffiedrinkery verby is, en hy wil loop. Jakob Afrikaner ken die reëls so lank as wat hy homself ken. Hy was van altyd af in diens van die Bekkers in die Kango. Toe hoor hy hulle gaan trek, en hy en sy vrou en kinders moet saam. Hoe dan anders? Waarheen sal hy gaan? Sy pa was van Bengale, maar hy weet tog nie waar dit is nie. Saam met die Bekkers het hulle uit die Kango getrek en toe Bellie ná Coenraad se dood Natal toe is om weer te gaan trou, het sy gesê hy moet by Lourens en Petronel op Skuilhoek bly. Wat wil hy en sy mensein Natal gaan maak? Hier het hy sy eie huis anderkant die krale in die kloof.

      Vryheid bly egter staan.

      “Laat ek nou maar sê wat ek wou gekom sê het.” Oom Bêrend kyk in die vuur.

      “Wat is dit, Oom?” vra Lourens.

      “Dis oor die veldkornetskap. Ek was mos nou die laaste week in Mooirivierdorp.”

      Petronel en Lourens kyk vlugtig na mekaar.

      “Wat daarvan, Oom, wat van die veldkornet?” Lourens probeer hard om ongeërg te klink.

      “Jy weet veldkornet Buys is laas maand oorlede.”

      “Ek het so gehoor, Oom.”

      “Ek het kom verneem of jy jou verkiesbaar sal stel vir ons Berglandwyk?”

      “Hoe voel die ander burgers, oom Bêrend?”

      “Positief,” is al wat oom Bêrend sê.

      “Ek weet nie mooi nie, Oom, ons is nog besig om ons hier op Skuilhoek te probeer ingrawe.”

      “Ons is almal in hierdie binneland ons voete aan’t soek.”

      “Ek weet nie eintlik van die politiek iets af nie, oom Bêrend.”

      “Wie van ons weet iets daarvan af? Ons is agt jaar lank al aan die wegtrek van die politiek af, ou Neef.” Oom Bêrend glimlag en grawe in sy onderbaadjiesak. Hy haal ’n silwer snuifdosie uit, tik versigtig die donker poeier op die bokant van sy vuis uit. Hy bring die vuis na sy een neusgat toe, hou die kneukel van die wysvinger teen die ander en snuif. “Die Burgerraad in Mooirivierdorp se instruksies is goed genoeg, en verder moet jy maar net die vrede hier in ons wyk bewaar. Mens leer nie vir vrederegter nie, jy word daarmee gebore.”

      Oorkant die kloof roep tarentale.

      “Ek en Petronel sal eers daaroor moet gesels,” sê Lourens uiteindelik.

      “Nee, dis reg so, maar die tyd is min. Ek het self gesien hoe die Engelse laas Mei Natal sommer net vat. Hendrik Potgieter is reg, waar ’n Engelsman is, sal jy nooit vry wees nie. Ons moet ons afsluit van hulle af, vrykom van die Kolonie, onafhanklik bly. Ons kan dinge nie sommer net hulle gang laat gaan nie. Die mense anderkant die Drakensberg gaan terugstroom hierheen, sê hulle op die dorp. Ons moes nooit die Engelse vastrapplek noord van die Grootrivier gegee het nie.” Oom Bêrend haal eers weer ’n slag asem. “En jy sien self ook hoe die rondlopers meer word hier tussen ons vandat hulle seker is die Matebeles is oor die Limpopo.”

      “Veldkornet Lourens Botha,” sê Magriet, staan op en begin leë koffiebekers bymekaarmaak. “Dan ken ek ook nou ’n vername man.” Sy pak die bekers in die skottel, draai direk na Vryheid toe: “Sal jy vir my water bring, asseblief?”

      “Ek sal, Sussie.” Niklaas neem die skottel by haar.

      Vryheid draai om en loop onder die seil uit, weg van hulle af.

      “Jy los my suster uit,” sê Bennie agter hom aan.

      Vryheid steek vas en draai om. Hulle sien hom sluk. “Hoekom?”

      “Jy’s nie een van ons nie.”

      “Wag nou,” val Lourens ongeduldig in. “Vryheid is een van ons. Hy kom van die Kango af saam.”

      “Was sy ma dan nie ’n slavin nie?” Tant Rebekka kyk na niemand in die besonder nie.

      “Vrou,” maan oom Bêrend.

      “My ma wás ’n slavin.” Vryheid kyk die vrou reguit aan.

      “Dis nie waarvoor ek my kind grootgemaak het nie,” hou tant Rebekka vol.

      “Vryheid is een van ons.” Petronel kyk na tant Rebekka.

      “Los dit nou, Rebekka.” Oom Bêrend se stem is sag.

      “Ek gaan my viool haal, Pa,” sê Antonie. “Ons het musiek nodig.”

      “Ja, Boet, kom speel vir my. Dis mooi as jy speel.” Bennie gaan naby die vuur op ’n stomp sit en staar in die kole.

      Voordat hulle Antonie weer sien, hoor hulle die fyn musiek uit die viool van die Prinsloos se kamp af.

      Bennie haal sy slap hoed af, frommel dit in sy hande en ’n vreemde vrede daal oor sy gesig. Sy ma kom by hom staan en sit haar hand op sy kop. Toe staan hy op en loop agter die musiek aan kamp toe.

      “Kom, Ouboet,” roep hy vir Niklaas agter hom aan.

      10

      Van die Prinsloos se wa af vloei die klanke van die viool en vul die stil kloof. Die vyf mense onder die seil van die Bothas se kookskerm sit gefassineerd na die musiek en luister. Die onrus van die oggend vir die oomblik vergete.

      Oom Bêrend Prinsloo sug, soek weer na sy snuifdoos. Hy snuif en haal ’n groot, bruin sakdoek uit sy sak uit, steek byna sy hele gesig daaragter weg. Magriet speel met ’n stokkie in die vuur. Tant Rebekka kyk na haar dogter asof sy haar bewegings bestudeer. Lourens en Petronel kyk na mekaar.

      “Antonie speel mooi viool,” sê Petronel toe die viool ’n oomblik stil raak. “Ek weet nie wanneer laas ons op Skuilhoek musiek gehoor het nie.”

      “Ons stoei ook maar nog om ná jare se getrek orde om ons te skep,” voeg Lourens by.

      “Dit was harde jare vir ons almal, maar miskien kan ons nou in hierdie wildernis gevestig raak.” Oom Bêrend frommel die sakdoek op, prop dit terug in die klapbroek se sak en skuif sy voete voor hom uit,

Скачать книгу