Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk страница 17

Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

moet net nie dink sy kan my aan ’n lyntjie hou nie – nie sy of een van die Van Vollenhovens nie, want ek sal weet hoe om hard terug te slaan,” sê hy, draai om en stap weg na sy motorfiets toe sonder om te groet.

      “Gaan die oom vir Karen seermaak?” vra Jackie wat met haar arms styf om Erika roerloos na haar en Kallie se gesprek geluister het.

      “Ek dink Kallie praat maar net groot, my poplap,” antwoord Erika terwyl sy Kallie se motorfiets agternastaar, maar sy kan ’n gevoel van tobbende onrus in haar binneste nie volkome ignoreer nie.

      “Oom Wilhelm sê sy boetie, oom Riaan, het maskers aan sy hande. Is dit waar, Tannie?” vra Jackie langs haar.

      Erika glimlag en gee haar ’n speelse drukkie.

      “Ek dink ’n mens kan so sê, want sy hande is in gips. Maar ek wou jou nog iets gesê het: as jy weer in die nag na jou mamma verlang, kan jy na my toe kom. Ek wil nie hê jy moet hartseer en alleen wees nie.”

      “Ek kan nie, want ek haal my masker af en dan . . . dan . . . Het tant Sophia vir Tannie vertel hoe vreeslik lelik ek is? Eers was my kop so groot en vet opgeswel, maar nou lyk dit al beter . . . Tant Sophia sê so. Sy sê ek is mooi vir haar, maar dalk kan sy nie so goed sien nie, want haar hare is al amper wit,” vertel Jackie, maar verlange om werklik weer mooi te wees, maak haar stemmetjie yl.

      “As dit donker is, sal ek jou nie mooi kan sien nie en ek sal onthou om nie my lig aan te skakel nie,” beloof Erika.

      “Sowaar, Tannie?” Jackie se blou oë blink deur die loergaatjies van haar masker. “Dan sal ek kom, want Bartel se stories maak my baie bang.”

      “Bartel hou maar net van grillerige stories omdat hy ’n seun is,” sê sy paaiend en stap saam met Jackie weer die huis binne. Sy wens dat Sophia daar was sodat sy haar kon uitvra wat werklik op die Brinks se plaas gebeur het, maar sy hoop terselfdertyd dat Sophia en Wilhelm nie gou sal terugkeer van Kaapstad af nie, want dalk kom Riaan vandag saam terug huis toe.

      Erika het waterblommetjiebredie vir aandete gekook, net ingeval Riaan wel huis toe kom, want Sophia het haar laat verstaan dis sy geliefkoosde dis. Erika sit langs die groot kombuistafel en haal geduldig elke skerp beentjie en stukkie kraakbeen uit die skaaprib wat sy vooraf gaargemaak het, gooi dit in ’n leë bak, en roer die vleis opnuut deur om verdere bene te ontbloot.

      “Flukse meisie,” prys ’n aangename manstem haar uit die agterdeur, en sy kyk op in Morné Venter se glimlaggende gelaat. “Mag ek binnekom, of laat die etiketreëls dit nie toe dat ek ’n huishoudster in haar kombuis besoek nie?”

      “Ek is dol oor geselskap, wanneer ek ure lank beentjies moet soek. Kom binne,” nooi sy laggend.

      Sy hou van Morné, van sy warm glimlag en aantreklike uiterlike. Hoe oud is hy? Sy skat hom in sy vroeë dertigs . . . Dalk is hy dieselfde ouderdom as Wilhelm. Het hy dalk ook op Bergvallei grootgeword? wonder sy.

      “Dankie,” sê hy, stoot die onderdeur van die kombuis oop en kom die ruim vertrek binne. Hy neem aan die punt van die tafel skuins langs haar plaas en hou haar bedrywige hande dop. “Wat eet ons vanaand? Boontjiebredie?” raai hy.

      “Waterblommetjiebredie,” antwoord sy en sit die knyper waarmee sy die bene uit die warm vleis haal, ’n oomblik lank neer.

      “Dis een dis wat my ma altyd gemaak het, selfs nadat ons getrek het. Sal ek vir ons koffie maak?”

      “Nie nou dadelik nie, dankie. Dis seker voorbarig van my om ongenooi weer te kom kuier, maar ek ken jou langer as wat jy dink. Jou pa was mos oom Henk Marais wat jare gelede die apteek hier op Bergvallei gehad het?” vra hy.

      ’n Glimlag verhelder haar gelaat.

      “Dan het jy hom geken?” vra sy verras.

      “Ja, my pa was ’n plaasbestuurder op een van die ou grondbaron se plase. Ek was al klaar met skool en besig met my studie aan die universiteit, maar ek onthou nog die skaam dogtertjie met die engelgesiggie wat soms by oom Henk gekuier het,” antwoord hy.

      “Bartel lyk soos ’n engeltjie, maar hy is ’n klein derduiwel. Hy lyk na sy pa, nie waar nie?” vra sy belangstellend, merk dan hoe sy uitdrukking ineens verstroef en wonder wat sy verkeerd gesê het.

      “Ja, hy lyk na die Kloppers.” Hy pers sy lippe saam en vra dan vinnig, half ongeduldig: “As jy een aand vry is, wil jy nie saam met my in Kaapstad gaan eet nie? Ek ken ’n oulike plekkie naby die hawe . . . of eet huishoudsters net hulle eie disse?”

      “O, ek sal graag saam met jou gaan eet, Morné, want ’n mens word beslis moeg vir jou eie brousels. Ek is Saterdag­aand vry, as dit jou dalk pas,” willig sy gretig in en weet dat sy op vlug geslaan het vir haar gevoel vir Wilhelm, maar wil nie daaroor dink nie.

      “Dan is dit afgespreek,” sê Morné ingenome.

      “Nee, Morné,” sê Wilhelm in die gangdeur, sy stem so koud en onverbiddelik soos sy gelaat. “Riaan en Erika raak Saterdagaand verloof, maar ons sal onthou om jou na die verlowingspartytjie uit te nooi.”

      6

      Erika kom vinnig orent langs die kombuistafel, skok en drif afwisselend op haar gelaat terwyl sy Wilhelm in verbysterde stilte aanstaar.

      “Jy en Riaan, Erika?” Morné klink verbaas. “Snaaks, hy het niks aan my gesê nie en ons sien mekaar nogal dikwels.”

      “Sommige dinge bespreek ’n man nie eens met sy beste vriende nie,” sê Wilhelm bruusk en draai sy kop na die gang toe hy stemme hoor. “Hier kom hulle nou . . . Riaan en tant Sophia,” waarsku hy gedemp, sy blik op Erika.

      Sy hoor Sophia se besorgde stem, luister na Riaan se helder lag en weifel nie langer nie.

      “Kom, Morné! Ek vergesel jou na jou motor,” sê sy gejaag, gryp sy hand en trek hom agter haar aan na die agterdeur terwyl sy dringend oor haar skouer fluister: “Maak net gou, man! Toe, hardloop, Morné!”

      Morné lag gedemp, klap die agterdeur agter hom dig en draf hand aan hand saam met Erika na waar sy geel bakkie onder ’n blaarlose eikeboom geparkeer staan. Hulle bereik die bakkie, hyg na hulle asem, kyk in mekaar se oë en skaterlag soos twee sorgelose kinders. Dan versober hulle en hy druk haar hand en los dit dan vinnig, asof hy bang is hy oortree.

      “Ons afspraak vir Saterdagaand: ’n ete in ’n hawekafeetjie, of ’n verlowingspartytjie op Drie Eike?” vra hy en kyk haar in die oë.

      “Ek wens ek kon sommer net ja gesê het,” antwoord sy en weet sy hardloop weer, vlug nog altyd van haar liefde vir die donker man in die huis agter haar.

      “Wie kan jou keer?” vra hy misnoeg, frons en kyk haar dringend aan. “Of is dit Riaan? Is dit waarom jy en Henno hierheen gekom het en Drie Eike gekoop het?”

      “Dan weet jy ons het die ou plek gekoop?” vra sy verwonderd.

      “Almal weet, want Riaan het dit nie geheim gehou nie. Dis waarom die hele dorp gis oor wat nou gaan gebeur, want die grondbaron het teruggekeer om te eis wat eintlik sy geboortereg is: die oorspronklike opstal op Drie Eike. Is julle bereid om aan hom te verkoop?”

      Sy glimlag bedroë.

      “Ons

Скачать книгу