Uur van die Sewester. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Uur van die Sewester - Helene de Kock страница 1
Helene de Kock
Uur van die Sewester
Human & Rousseau
1
Clara Coetzer bly staan teen die steil berghelling en draai om. Haar asem hyg branderig deur haar keel, en sy skud haar vlaswit hare terug. Dis die hoogste wat sy nog geklim het vandat sy berge toe gekom het.
’n Klein, selfvoldane glimlag roer om haar mond en die spanning van die dag gly uit haar. Onder haar in die vallei strek die skadu’s swart en puntig ooswaarts, en hier en daar is daar roeringe soos die een misvuur ná die ander aangesteek word. Die vaalwit rook maak lui krulle in die helder herfsskemer. So was die vallei altyd maar, dink sy loom, soos ’n lewende, roerende ding wat hom soggens oopmaak vir die dag en saans weer toevou teen die nag. Heel onder in die kom van die vallei, waar die donker al diep opgedam het, sal die dorpsligte netnou een vir een aangaan soos kersies op ’n koek. En een nag, dink Clara met ’n skielike, makabere voorgevoel, sal daar nog ’n magtige wind opkom en dit soos ’n groot asem uitblaas sodat net die swart rokies bly draai …
Sy ril. Dis ’n aardige idee, ’n oordeelsdaggedagte dat daar van ’n plek net rook en as kan oorbly. Verskrikking voel immers ver van hier. Die wêreld is dié tyd van die jaar net te mooi vir angste en voorwetens. So saam met die goud en geel van die herfs het die kosmos oral pienk en wit opgeslaan. Want waar die mens ook al sy baie paaie trap, kom dié blomspoortjies agterna. Selfs hier waar sy staan, hoog teen die berg op, groei die kosmos korterig, maar dig, en kan sy maar net buk en hande vol pluk soos wat sy elke dag nou maak, arms vol vir die blompotte in haar kamer en voorkamer en ateljee …
Nee, die wêreld is mooi. Hierdie wêreld en die groter een daar ver ook, dink sy ietwat verbete. Die léwe is mooi. Dit móét net wees. En om die nare vreesgevoel van netnou te besweer, laat Clara haar gedagtes doelbewus op ou paaie loop asof sy so ’n verklaring vir haar skielike kwelling kan vind.
Haar oë dwaal oor die bekende vergesig. Die koel, fris bergwêreld van die Oos-Vrystaat soos wat sy hom agtergelaat het toe sy weg is universiteit toe en daarna Italië toe. Byna sewe jaar lank was sy weg. Jare waarin sy haar as’t ware probeer wegwerk het van die vae hartseer, die knaende onvergenoegdheid van haar kinderjare in die sandsteenhuis aan die voet van die berg. O, daar was lekker tye ook. Soggens se stappery skool toe was amper die lekkerste. Die teruglopery ook. Maar dan was sy warm en moeg en altyd die jongste wat ver agtergeraak het sodat sy moes bly staan en hees skreeu: “Wag vir my! Haai, wááág vir my!”
Dan het die groot Minnaar-seuns van agter die berg ’n rukkie bly staan en teruggekoggel: “Kóm dan, Sneeuwitjie! Roer jou litjie!”
En soms het Janus Minnaar, die oudste van die seuns, sy wysvingers by sy mondhoeke ingehaak om sy tande te ontbloot en in ’n hol stem geroep: “Kom, of kom óm! Want as dit eers donker is, kom al die Brollokse uit die klowe!”
Van omkom het Clara nie tóé geweet nie, maar vir Brolloks, die storiemonster, was sy bitter bang, en Janus se gesigtrekkery en sy bangmaakwoorde wat dof van die ronde sandsteenrotse af geëggo en weerklink het, het haar nuwe wind gegee sodat haar beentjies haar blitsig gedra het. En as sy hulle brandasem inhaal, het Janus sy growwe hoërskoolvinger onder haar neus gedruk en gesmaal: “Dis ’n baie spesiale gunsie dat jy kan saamloop, hoor! Jy moet jou bleek beentjies van nou af roer!”
Dan het hy vinnig, altyd net te vinnig voordat sy sy hand kon gryp, haar wit vlegsel ’n pluk gegee.
“Ai, Janus, jy maak lélik,” het Simon baiekeer gesê. Hy was hul swart maat wat smiddae van die swart skool naby die grootpad gekom het en hulle daar naby die draai van die berghang ontmoet het, om verder saam met die seuns na sy huis op die Minnaars se plaas te loop.
“Ja, lós die kind tog,” het Alfons Minnaar meer as een maal beaam. “Sy is al klaar so wit soos ’n spokie.”
Maar Janus het hom min aan die jongeres gesteur, net gelag. En eendag smalend opgemerk: “Hm … Spokie is die woord, hoor. Die kind het g’n bloed in haar are nie; net van die wit verf wat haar pa gebruik om sy kosmosprentjies mee te maak. Miskien moet ons oom Kas aanraai om bietjie pienk by te gooi. Dalk lyk sy dan minder wit.”
Clara onhou goed hoe haar gesig gepyn het soos wat haar mond vertrek het. Die huil het soos ’n groot skreeu uit haar gebars. Sy het gehuil totdat sy die klam, koel kol van haar trane op haar blou skoolrok se bors kon voel. En toe sy snuiwend ophou en die ergste nattigheid met die agterkant van haar hande afvee, kon sy die kring vaalgeskrikte gesigte om haar sien. Simon se oë het wit in sy kop gestaan, en die Minnaars het haar onkapabel aangegaap. Barry, die jongste van die twee Struwig-seuns van die plaas langs die Minnaars s’n, het verstom geuiter: “Heng, maar sy’t vir jou ’n stem, hè! Het julle gehoor hoe hard was die weerklank?”
“Ja,” het sy ouer broer Piet beaam, “skreeu, laat ons weer hoor, tóé!”
“Nee, stil tog!” het Janus geraas. “Sy huil al haar terpentyntrane uit, en waarmee sal haar pa dan sy kwaste skoonmaak!”
Die Struwigs het lawaaierig begin lag en hard deur hul tande gefluit om dan stil te bly en te luister na die eggo van die skril klanke. Janus het meegedoen. Clara en Alfons het agterna gedrentel met die steil paadjie wat al met die helling langs loop. Sy het van moegheid en bangheid dikwels weer begin huil, maar net saggies. Janus was ’n pes der peste, soos wat haar ma altyd sê van die rooikat wat die hoenders vreet. Naderhand het Alfons haar met boektas en al opgetel tot op sy nek, en fluit-fluit met haar aangestap tot by die geel sandsteenhuis met sy afgeskilferde rooi dak.
Dit was einde April, soos nou, en haar pa het met sy esel langs die ry goudgeel populiere gesit, ’n plaat sagte pienk kosmos rondom hom. Hy het skaars opgekyk toe die ry kinders verbykom.
“Mirrag, oom!” het hulle soos altyd geroep.
“Dag,” het hy bot gegroet. “Jou ma wag vir jou, Clara.”
Sy het van Alfons se rug afgegly, skamerig opgekyk na die lang, donker seun met die skerp bruin oë. Hy het skielik by haar gebuk, haastig gefluister: “Dis omdat jy so baie melk drink dat jou hare so wit is. Drink van nou af net swart koffie, dan sal jy sien hoe mooi word jy.”
“Sowáár?” het sy kliphard gevra, haar oë rond.
“Sowaar,” het Alfons beaam en vinnig ’n nat voorvinger in die lug gesteek, en toe sy nog oopmond na hom staar, sy oë gerol en met ’n skor stem gesê: “Mag ou Sielas van die salpetergrot my in ’n slak verander as dit nie so is nie!”
Haar pa het gesteurd opgekyk van sy esel, en Alfons het voet in die wind geslaan agter Janus en Simon aan, wat al na hom begin roep het.
’n Slak! Sy het haar siék gegril. Een van die nat, swart slakke wat onder die varings hoër op in die klowe hou … Ga! Dit móés net die waarheid wees, want wrágtie, nie eens die Minnaars of die Struwigs wou slakke wees nie. Al dink haar pa hulle is lae lakke. Sy’t gewonder of lakke en slakke dalk iets gemeen kon hê. Toe vra sy haar pa, net daar op die plek in die warm son met haar boektas nog in haar natgeswete hand: “Pa, is lakke en slakke … familie?”
Sy twee kwaai oë het bo die rand van die esel verskyn, en sy heel kwaaiste stem het in haar ore geklink.
“Watse twak praak jy, Clara? Die hemel weet, ek wil nie hê jy moet saam met dié gespuis skool toe loop nie. Hulle prop jou kop vol lelike goed! Die Minnaars en die Struwigs is te besig om ander mense se goed af te rokkel om hulle nog aan kinderopvoeding ook te steur. Nee wat, in hierdie lewe moet mens net op jouself