Saartjie Omnibus 2. Bettie Naudé
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé страница 1
Saartjie
Omnibus 2
Saartjie se donkie
Saartjie se nuwe maat
Saartjie se slim plan
Bettie Naudé
Human & Rousseau
Voorwoord
Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die kant van die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien.
Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg.
Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede.
Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt.
Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem.
Menige inwoners se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë:
“Dié Saartjie … Ai, dié Saartjie …”
1
Saartjie moet oefen
Saartjie is vies. Sy sit voor die klavier en staar by die venster uit. Sy is al siek en sat vir die stuk wat sy by die kunswedstryd moet speel! Die afgelope paar weke boer sy voor die klavier. En die ander kinders in Lynnekom? Hulle speel en geniet die heerlike, warm somerdae.
Sugtend staar die dertienjarige krulkopmeisie weer na die moeilike klavierstuk wat sy moet speel – dit word Drama van die Woud genoem. Sy kyk vir die soveelste keer na die ingewikkeldste deel se note. Sy begin met een vinger op die klavier tok-tok, dan met haar hele regterhand en uiteindelik met haar linkerhand ook. Saartjie speel nou vinnig en hard. Sy gaan probeer om die hele stuk perfek deur te speel voor sy vir haar musiekles gaan.
Skielik hou sy op. Sy byt op haar onderlip en kyk fronsend na die musiekboek voor haar. Sy het weer ’n fout gemaak! By hierdie spesifieke plek waar die bas laag moet grom wanneer dit die donderende onheil voorstel en dan blitsig moet omswaai in hoë trillings soos die woud se diertjies na hul skuilplekke toe wegskarrel, maak sy elke keer ’n fout.
Saartjie kyk moedeloos na die klawers. Sy wonder wat sal gebeur as sy die aand in die stadsaal voor al die mense ’n fout maak en dan net om hulle te wys sy kan goed klavier speel sommer na ’n opgewekte deuntjie oorslaan!
Sê nou maar – en Saartjie sit heerlik en droom – sy speel Hasie, hoekom is jou stert so kort? Sy sal lag en die gehoor nooi om saam te sing. Almal sal by die musiek inval en met hul voete op die vloer tik. Die sogenaamde kunsliefhebbers sal vergeet van stywenek wees en hartlik saamsing. Die vrolike deuntjie sal by die deure uittrek en mense sal dit in die strate hoor. Hulle sal begin hande klap en dansend en singend stadsaal toe stroom om Saartjie Baumann te hoor speel …
Nee wag, dink Saartjie, my verbeelding hardloop nou met my weg. Maar sy wonder nogtans wat daardie klomp grysbaarde met titels van doktore, professore en allerhande ander soorte “-ore” sal doen as sy sommer sou wegval en Suikerbossie begin speel.
Sy is seker hulle sal eers verstar sit en dan hul koppe skud en hul hande bak agter hul ore hou om seker te maak hulle hoor reg. En dan sal hulle van skok die een ná die ander begin omdop. Dood! So dood soos mossies! Hartversaking.
Sy wonder of dit enigsins ’n verlies vir die wêreld sal wees. Sê nou maar …
“Saartjie!”
“Ja, Mamma?” Die meisie kyk vinnig om.
“Waaroor sit jy so en droom, my kind?”
“Sommer niks, Mamma.”
“Jy moet oefen,” sê haar ma terwyl sy die teekoppies neersit. “Jy weet dit is ’n groot eer wat die Gautengse Musiekvereniging jou aangedoen het om jou te kies …”
“Ek weet, Mamma, maar hoekom het hulle vir my so ’n moeilike stuk gegee om te speel? Ek is seker al die ander deelnemers het baie makliker stukke. My stuk se komponis is al tagtig jaar gelede dood en kinders soos ek word nóú nog gemartel om …”
“Moenie so praat nie, Saartjie!” sê haar ma streng. Dan vervolg sy sagter: “Ek dink Drama van die Woud is ’n pragtige stuk.”
“Miskien,” sê Saartjie droogweg en sy neem ’n stuk roomkoek, “is dit pragtig as mens dit behoorlik kan speel …”
“Jy sal dit foutloos doen, my kind. Ek weet dit. Moet jou nie daaroor bekommer nie.”
Saartjie bekommer haar nie daaroor nie. Sy bekommer haar eintlik oor niks nie. Sy is heel gelukkig, want sy eet roomkoek.
Hierdie wedstryd – of liewer musiekfees – waarvoor Saartjie so hard oefen, is nie soos ’n gewone kunswedstryd nie. ’n Hele paar deelnemers van elke provinsie is op grond van hul prestasies in vorige kunswedstryde gekies om mee te ding. Daar sal dus groot kompetisie in Saartjie se afdeling wees. Die wenner van die afdeling kry ’n diploma en ’n pragtige goue medalje.
Ja-nee, dit is nogal ’n besondere eer dat Saartjie een van die vyf is wat gekies is om haar provinsie te verteenwoordig.
Op hierdie oomblik dink sy egter nie daaraan nie. Die stuk roomkoek is so pas na die regte plek gestuur. Sy lek vinnig ’n paar krummels van haar vingers af.
“Mamma bak die lekkerste koek in die hele, wye wêreld,” sê Saartjie. Haar helderblou oë kyk stip na die ander stukke roomkoek op die bord.
“Ek is bly jy dink so,” sê haar ma glimlaggend. “Kry gerus vir jou nog.”
“Dankie, Mamma.” Saartjie maak dadelik so.
Net toe sy haar hand na haar mond toe bring, hoor sy: “Haai!”
Haar boetie, Apie, staan in die deur. Sy vat eers ’n groot hap koek voor sy haar kop na hom toe draai.
Saartjie betrag Apie koel. Langs hom staan sy vriend, Bennie. Die twee agtjarige knapies is gedurig bymekaar.
Apie is ’n koddige sproetgesig. Hy het een middag sonder sy twee voortande hier by die huis aangekom en vertel dat hy uit ’n boom geval het. Ten spyte van sy ouers, Saartjie en hul ouer broer, Kris, se vrae het Apie gehou by wat hy gesê het. Hy het uit ’n boom geval. As hulle wil dink hy het baklei en ’n ou het sy voortande uitgeklits, dan moet hul maar.
Apie en Bennie het elkeen ’n sakdoek om hulle koppe gebind en ’n klomp hoendervere in die sakdoek gesteek.
“Was daardie ‘Haai’ miskien vir my bedoel?” vra Saartjie kil.