Om joune te wees. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Om joune te wees - Schalkie van Wyk страница 7

Om joune te wees - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

      “Aangesien jy so slim was om eiers by ’n slaghuis te gaan koop en boonop daarvoor te betaal … Hoe kan ek weier?” vra sy en lag saam met hom, bly om nog ’n tydjie in sy geselskap te kan deurbring, maar terselfdertyd bang vir die onbekende emosies wat sy teenwoordigheid in haar binneste laat ontwaak.

      Kayla gaan die ontbytkamer binne en glimlag liefies vir Annelize wat haar wantrouig betrag.

      “Jy het my wakker gemaak toe jy hier weg is, Kayla,” verwyt Annelize en proe-proe aan haar koffie. Sy hou haar koppie na Trynie uit en versoek sonder om na Trynie te kyk: “ ’n Bietjie koue melk, asseblief, Trynie. Dankie.” Sy proe weer aan haar koffie en hervat haar gesprek met Kayla: “Hoe is dit moontlik dat jou rit na Baumann se restaurant meer as twee uur geduur het, Kayla? Of het jou motor gaan staan? Dit sal my glad nie verbaas nie. Dat jou skatryk ouers kan toelaat dat jy met so ’n rammelkas jou lewe daagliks in die stadsverkeer waag, gaan my verstand te bowe.”

      “Kayla se skatryk tante is net so vrek suinig soos haar ouers, professortjie,” merk Trynie bedees op.

      “Moenie lol nie, Trynie. Jy weet my naam is nie ‘professortjie’ nie, jy was teenwoordig in die kerk toe ek gedoop is. Daar lê ’n lang en besige dag vir my voor. Moenie skoor soek op my nugter maag nie.”

      “O, ek is nie goed genoeg om jou ‘professortjie’ te noem nie, maar jou duisende studente mag? Sien jy op my neer omdat ek net ’n dommerige en ongeletterde huishoudster is, professortjie?” vra Trynie kamma gekrenk.

      “My studente spreek my uit respek vir my posisie as ‘professor’ aan, Trynie, maar jy doen dit om my te treiter. Jy het talle diplomakursusse in huishoudkundige vakke voltooi, so ons weet jy is allesbehalwe dom of ongeletterd,” antwoord Annelize ongeduldig en kyk weer na Kayla, wat intussen aan die tafel gaan sit het. “Meer as twee uur, Kayla. Waar het jy oral rondgejakker? Hoeveel brandstof het jy gemors? Om ’n besigheid winsgewend te bedryf, moet jy sorg dat jou oorhoofse kostes altyd –”

      “Ek het ’n man omgery,” val Kayla haar in die rede en glimlag stralend.

      Annelize snak met ’n mondvol koffie na haar asem en verstik. Sy hoes onbedaarlik in haar servet, selfs nadat Trynie ’n paar ongenadige houe tussen haar skouerblaaie geplant het.

      “Jy het ’n erger hoes as ’n ou roker, Annelize,” sê Trynie met oordrewe besorgdheid en hou ’n glas water na haar uit. “Onthou om volgende winter ’n griep­inspuiting te kry, anders kry jy weer bromkatjies.”

      Annelize drink ’n paar slukkies water en beveel met ’n hees stem: “Bly om liefdeswil stil, Trynie!” Sy staar die glimlaggende Kayla ’n paar oomblikke swyend aan en vra huiwerig: “Het jy … het jy gesê jy het ’n man omgery, my kind?”

      “Wie ken nou nie haar respekte nie?” vra Trynie vinnig. “Kayla is mondig en sy is nie meer ’n student nie. Moenie haar as ‘kind’ aanspreek nie, jy is g’n haar ma nie, professortjie.”

      “Trynie, besef jy nie die erns van Kayla se oortreding nie? Sy kan van manslag of … of moord aangekla word. Haar hele toekoms is geruïneer!” bars Annelize ontsteld uit, haar gelaat strak van kommer. Sy klem die glas water so styf vas dat haar kneukels wit vertoon.

      “Foei, ja … en dit alles oor ’n spul hoendereiers,” beaam Trynie met ’n weemoedige stemmetjie. Dan sug sy en vervolg: “Gebruik tog jou oë as jou verstand gaan staan het, professortjie. As Kayla werklik iemand doodgery het, het sy nie nou hier gesit en glimlag asof sy ’n splinternuwe motor van haar suinige tannie present gekry het nie!”

      “Ja … ja, natuurlik. Kayla, wat presies …” ’n Oorverdowende gedreun en geknal van motorfietse klink meteens op deur die oop vensters van die ontbytkamer. Annelize wip orent asof sy op ’n warm stoof gaan sit het. “Ek sal ’n petisie opstel en al die bure se handtekeninge kry! Ons sal nie agterbuurtbewoners in ons straat duld nie!” skree sy en smyt die skuifraamvensters die een ná die ander toe.

      “Ja, toe, my liewe professortjie, hoeveel bure woon in ons straat? Ons bly in ’n doodloopstraat met drie huise: Huis Kanferfoelie is in die middel, die hippies is in die huis regs van ons, en op linkerhand staan oorle mevrou De Nysschen se huis al ses maande lank leeg. Die hippies en hulle spul motorfietsmaniakke is ons enigste bure, en nie een van hulle sal jou petisie teken nie,” som Trynie die situasie onbewoë op.

      Annelize werp haar ’n vernietigende blik toe en sê dan hard en vinnig: “Ek gaan vroeg universiteit toe en ek weet nie wanneer ek terug sal wees nie. Moontlik kuier ek vanaand by vriende, Trynie, maar ek sal bel as ek nie tuis sal wees vir aandete nie. Kayla, moenie weer gaan eiers aflewer voordat ons die saak deeglik bespreek het nie.” Sy soen Kayla op die wang en verlaat haastig die ontbytkamer.

      Trynie kyk Annelize agterna en draai kopskuddend en tongklikkend na Kayla. “Die arme mens probeer so hard om te alle tye waardig en professioneel op te tree, maar as daar net ’n moontlikheid is dat jy sal seerkry, kloek sy soos ’n gebore moederhen. Dis ’n alte groot jammerte dat sy en hy nooit getroud is nie.”

      “Sy en hy? Wie is hy, ta Trynie? En wie is sy? Tannie Annelize het my jare gelede vertel sy het nooit ’n man liefgehad nie en dat sy van jongs af besef sy verkies die sekuriteit van ’n suksesvolle loopbaan bo die moontlikheid van ’n onstabiele huwelik.”

      Trynie knik haar kop herhaalde male. “Dis woord vir woord wat die arme siel vir my gesê het. Foei tog, sy gebruik altyd sulke groot woorde as sy nie haar ware gevoelens wil verraai nie. Maar jy moenie jou aan jou neus laat lei deur jou geleerde tannie nie, my liefietjie. As sy nie destyds daardie man liefgehad het nie, hoekom het sy my belet om ooit weer sy naam oor my lippe te laat kom? Dis waarom ek van ‘hom’ en ‘hy’ praat, want hy moet naamloos bly.”

      “Is die man getroud? Ken ek hom, ta Trynie? Is hy ook ’n professor?” vra Kayla nuuskierig.

      “Ek het hom voor jou geboorte laas gesien, sussietjie, daarom kan ek nie een van jou vrae beantwoord nie. Maar wat nou van die man wat jy omgery het? Het jy hom langs die straat laat lê om dood te bloei, of het jy ’n ambulans gekry om hom hospitaal toe te neem?”

      “Hy het nie gebloei of enigiets gebreek nie, tannie, en die ongeluk was sy eie skuld,” verdedig Kayla haarself.

      “Onsin! Die bestuurder is altyd skuldig, want ’n mens is veronderstel om ’n paar ekstra oë bokant jou ore te hê. Het die man voor jou motortjie ingehardloop?”

      “Nee, tannie. Hy het te na aan my motor verbygery op sy fiets en toe hy omkyk na my, het sy wiel aan my buffer vasgehaak. Hy het my verseker hy is nie beseer nie en ten spyte van die ongeluk, kon ek die eiers nog byna betyds by die restaurant aflaai.” Sy kyk verwytend na Trynie. “Maar kry ek nie koffie en ontbyt nie, ta Trynie?”

      “Ja, ja, ek skink, maar moenie dink jy gaan so maklik loskom nie, Kaylatjie. Jy is voor vyfuur vanoggend hier weg en jy was pas voor seweuur eers weer terug. Saam met wie het jy gekuier?” vra Trynie.

      Kayla loop met haar bord in haar hand na die buffet toe om vir haar hawermoutpap in te skep en keer terug na die tafel om met toe oë haar koppie koffie te drink. Toe wy sy haar aandag aan haar bord pap.

      Trynie blaas haar asem hoorbaar uit toe Kayla eindelik haar mond met haar servet klad.

      “Dankie vir die lekker ontbyt, ta Trynie. Hawermoutpap en gemaalde sade en rosyne is lekkerder as muesli,” sê Kayla met ’n sonnige glimlaggie.

      “Liefie, jy wag verniet dat ek op my knieë

Скачать книгу