Die bleek man op my hakke. Harriet Christou

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou страница

Die bleek man op my hakke - Harriet Christou

Скачать книгу

ction>

      

      Die bleek man op my hakke

      My lewe met skisofrenie

      Harriet Christou

      Tafelberg

      VOORWOORD

      Harriet Christou se boek is ’n merkwaardige beskrywing van ’n skisofrenie-pasiënt se belewing van haar siekte. Ek het dit met groot aandag gelees en dit was een van die aangrypendste ervarings wat ek in ’n lang tyd gehad het.

      Hierdie teks is om ’n paar redes belangrik. Die eerste is dat dit die binnewêreld van ’n pasiënt met skisofrenie op ’n besonderse wyse belig en die pyn en lyding wat gekoppel is aan hierdie verskriklike siekte baie duidelik illustreer. Dis belangrik dat mense sal verstaan dat skisofrenie ’n geestesiekte is, ’n siekte van die brein, maar ook dat dit ’n siekte is wat goed op behandeling kan reageer as dit reg hanteer word.

      Tweedens is dit belangrik dat die stigma van geestesiektes getakel en uit die weg geruim word. Harriet se verhaal illustreer op ’n onteenseglike wyse dat sy nie die siekte deur haar eie toedoen opgedoen het nie. Dit is ook duidelik dat dit ’n siekte is wat nie genees kan word deur bloot godsdienstige toewyding of sosiale ondersteuning nie. Dit is ’n siekte wat gespesialiseerde psigiatriese behandeling en baie intensiewe psigoterapie verg om die pasiënt tot ’n vlak van aanvaarbare aanpassing te kry.

      Die derde rede waarom hierdie teks so aangrypend is, is dat dit die rol van ekstreme trauma in die verloop van psigiatriese pasiënte se lewe illustreer. As ’n mens kyk na al die verskriklike aanslae, soos verkragting, fisieke aanvalle en mislukte verhoudings wat in dié pasiënt se lewe gebeur het, kan ’n mens verstaan dat hierdie trauma erg verswarend inwerk op die verloop van ’n psigiatriese siekte.

      Dit verg moed om jou storie te vertel op die eerlike en blootstellende manier waarop Harriet dit doen. Mense wat hierdie teks lees, moet groot respek hê vir die waagmoed wat deur hierdie jong vrou aan die dag gelê is om haarself so bloot te stel en dit alles ten behoewe van ander se begrip vir enigeen met die siekte.

      Laastens dink ek ’n mens moet sê dat dit ’n baie terapeutiese proses is om jou storie op hierdie manier te vertel – terapeuties vir die pasiënt self deurdat dit dien as ’n soort katarsis waarin die pyn en lyding op papier uitgestort word, maar ook terapeuties vir baie ander mense wat dalk self aan skisofrenie ly of familielede met skisofrenie het. Kom ons hoop dat al die lesers hierdie teks sal aanvaar en waardeer op die eerlike en openhartige manier waarop dit hier aangebied word.

      Franco Colin, psigiater

      April 2013

      HOOFSTUK 1

      Wanneer bloed by badkrane uitkom, weet ek dis sulke tyd. Dit help ook nie juis om my oë toe te druk nie. Dis hoekom ek maar van my bed opgestaan het en my psigiater gebel het; vir haar gesê het ek het selfmoordgedagtes en dat ek my weer begin sny het. Sy het gesê ek moet dadelik hos­pitaal toe kom, sy sal reël en of daar iemand is wat my kan vat.

      Gysbert het my Oranjehospitaal toe gebring. Ek is met my kar Checkers toe waar hy werk, en in sy etenstyd het ons gou gery.

      “Jy moet ’n week in die hospitaal gaan rus,” het die psigiater by ontvangs gesê. Dis die eerste keer dat ek hom daar gesien het, so ’n vet dokter met ’n blink kop. “Rus,” het hy gesê, asof ek nie weet wat dit beteken nie.

      Gysbert het onder een van die lae boompies voor die hospitaal stilgehou. Hoe goed ken ek nie al die stowwerige gebou met sy rooi bakstene nie. Ek het net my handsak by my; die dokter het gesê ek hoef nie klere te vat nie, daar is klere. Ons moet na Blok C toe gaan.

      By die ingang is ’n man met die groen oorbaadjie en swart langbroek wat dié hospitaal se verpleërs dra. Ek groet vir Gysbert. Hy en my ma sal gou weer kom kuier, sê hy. Die verpleër sê ek moet saamkom na die vrouesaal, en ek loop agter hom in ’n lang gang af. By die ingang sien ek teen die muur ’n houer waarop daar staan: Free condoms. Ek bly omkyk daarna; ek kan dit nie glo nie.

      Ons loop verby ’n sitkamertjie met ’n TV wat in ’n hok van yster en glas is. Dis ’n platskerm-TV, sien ek. Aitsa, die staat upgrade ook deesdae. Hulle kan nou al flat­screens bekostig.

      Die verpleër sê ek moet kom, en ek stap maar agter hom aan tot waar ’n paar verpleegsters by ’n toonbank sit. Een met ’n groot bos krulhare wat You sit en lees, kyk verbaas op toe ons aankom. Sy kyk my op en af. “Die dame hoort nie hier nie,” sê sy. Langs haar is ’n TV-skerm waarop sy kan sien wat in verskillende vertrekke in die hospitaal aangaan. Wat het ons hier, ’n tronk?

      Ek verstaan nie juis hoekom sy dit sê nie, maar dit voel goed om ’n dame genoem te word. Een van die ander susters beveel my om te sit. Ek het nog geen idee waar ek is nie; al wat ek weet, is dat ek hulp gaan kry.

      Die susters is besig om vir hulle koffie te maak, sien ek. As ek ook maar ’n beker koffie kan kry, maar dit lyk of hulle klaar van my vergeet het.

      Toe sien ek dit, regs van my: ’n traliehek! Is ek dan nou regtig in ’n tronk? Ek staan op en nou sien ek ook die mense anderkant die hek. Een vir een kom hulle nader, die voorste een so wragtig waar bostukloos, net met ’n bruin romp aan. “Haai, kyk,” skreeu sy hard. “Ons het ’n nuwe maatjie bygekry!” Sy het net twee tande in haar mond.

      Ek hoort nie hier nie, dink ek, en voel hoe my moed soos ’n verlepte blom op die blink teëlvloer voor my val. Ek staar na die vrou met die kaal bolyf. Haar hare is bo kort, half gebraid, half ingesit. Sy is seker so vyf-en-veertig.

      Ek draai om na die verpleegsters. Ek het nie eens klere nie, dink ek. “Kan ek vir my klere gaan haal?” vra ek.

      “Nee, hier is klere vir almal,” sê die verpleegster met die krullebos.

      Wat? Klere vir almal, maar een van die pasiënte loop dan byna kaal rond?

      “Kom,” sê krullebos. “Ons sal jou later uitsort. Kyk maar ’n rukkie TV totdat die pasiënte se slaaptyd verby is, van halfeen tot drie is dit slaaptyd.” Sy wys vir my waar die rookarea is.

      “Thank the Lord!” sê ek kliphard. Daar is tien pakkies sigarette in my handsak en ek begin dadelik om die een sigaret na die ander te rook. Ek het geen benul van tyd nie, want my horlosie het die gees gegee. Pakkie nommer twee maak egter baie gou sy verskyning.

      Deur ’n hoë venster sien ek ’n tortelduif op ’n muur. Gelukkige voël, dink ek, hy kan vlieg waar hy wil. Ek steek nog ’n sigaret aan en dink aan wat gebeur het.

      Ek het vir Carel weer gesien, dis wat gebeur het. Carel van Tonder. En natuurlik het hy my onthou, ons het dan op skool ’n ding aangehad. As ek en Gysbert ook nie so aan en af was nie, het dit nie gebeur nie, maar nadat ek en Carel so ’n bietjie op Facebook gesels het, bel hy my, vra of ek die naweek wil kom braai. Op Brandfort. Sy werk hou daar ’n paartie.

      Nou ja, Brandfort is nie ver nie. As dit maar verder was, was ek nie nou in hierdie gemors nie. Maar daar sit ek toe saam met Carel by die paartie. Versigtig vir die drinkery, want ek is op medikasie en als. Twaalfuur het die mans nog gebraai, toe gaan die vroue hotel toe vir cocktails. Toe die mans later daar aankom, sê Carel ek moet nog ’n dop vat. Hy het so aangehou. Toe vat ek maar. Daarvandaan onthou ek niks. Die volgende oggend word ek wakker in Carel se bed. Ek skrik, want ek weet iets het gebeur, spring in my kar en jaag terug.

      Drie weke later sê ek vir Jessica wat saam met my werk ek het oorgeslaan. Sy kyk my so. “Jy is swanger, Harriet,” sê sy vir my.

Скачать книгу