Die bleek man op my hakke. Harriet Christou

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou страница 4

Die bleek man op my hakke - Harriet Christou

Скачать книгу

Sy sê my pa-hulle gaan eers laat kom, want om die stock af te laai en te tel vat lank, jy moet na die geld en die strokies kyk en alles. My pa was streng daarop. Hy sê nie alle Grieke is skelm nie. My pa is lief vir die kafee en die mense hou van hom. Hulle lag en groet hom met harde stemme as hulle inkom en hy staan daar altyd met ’n kortbroek en rugbykouse met ’n swart kam in sy een kous.

      Die water is warm en ek klim stadig in die bad. Boetie sê as jy te lank in die water lê, word jy ’n vis. Ek lê in die warm water en kyk na my tone. Ek wil nie dat my voete ’n visstert word nie. Ek tel my hande op en toe sien ek dit: die vel is so dik en wit en gekreukel. Ek word ’n vis!

      Ek spring dadelik uit die bad en gryp na die handdoek op die tafeltjie langs die bad, maar ek het vergeet dat die handdoek oor Mamma se porseleinvoëltjies gelê het, en daar val een van hulle op die harde vloer. Een vlerk af. Mamma gaan raas, sy gaan raas, sy gaan raas … Sy is so lief vir hierdie voëltjies. Sy sê dit pas perfek by die grys teëls en babapienk gordyne. Ek buk om dit op te tel, maar toe ek daaraan raak, begin die duif koer en ek skrik, kyk vervaard rond. Ek moes my verbeel het. Ek tel dit weer op … en weer: koer-koer, koer-koer! Kliphard koer die duif en kyk my kwaai aan met sy gaatjiesoë.

      Ek gryp die handdoek drafstap na my kamer. Met ’n half afgedroogde lyfie spring ek in my slaapklere, loop na Maria en probeer maak asof niks gebeur het nie. Maar Maria moes gesien het iets is verkeerd. “Nonna, jy lyk soos ’n spook,” sê sy. “O lokile?”

      Natuurlik is ek glad nie oukei nie. Daar het ’n porseleinduifie – ’n ornament! – vir my staan en geluide maak. Maar sal ek dit nou vir Maria vertel? Sy sal vir my lag. En dalk hét ek my net verbeel.

      Maar dit was die begin van ’n nuwe patroon. Badtyd het die voëltjies vir my bly loer en ek het naderhand gesorg dat ek iets oor hulle gooi voordat ek in die bad geklim het. Maar sodra my lyf in die water was, het die gekoer begin. Soms het ek glad nie gewas nie, want ek wou net wegkom van die gekoer. Soms het my ma ingekom en terwyl sy met my praat, het hulle gekoer. Ek was absoluut verward – hóór my ma dit dan nie? Hoe kán sy dit dan nie hoor nie?

      Eers toe ek al die duifies stukkend gegooi het, het die gekoer opgehou. My ma het dae later eers agtergekom dat die voëltjies weg is, want my ouers het hulle eie badkamer gehad. Toe sy vir Maria beskuldig, moes ek maar met die waarheid vorendag kom. Ek kon nie dat Maria die blaam dra nie. “Mamma, ek het dit gebreek,” het ek gesê – het ek met trots gesê.

      My ma kon nie verstaan hoekom ek nie spyt was nie, maar al wat vir my saak gemaak het, was dat ek weer in vrede kon bad.

      As dit naweek is, braai Pappa. Dan kom oom Leon kuier en Mamma maak baie lekker slaai. Oom Leon help eers vir Mamma in die kombuis en dan kom staan hy by Pappa by die vuur. Oom Leon is nie oud nie en hy lag baie. Partykeer speel hy saam met ons wegkruipertjie, maar net as Boetie ook by is. Partykeer sit ek op die groen bank met my poppe en sing vir hulle hoeka-toeka-ja-ja. Dan klap oom Leon hande en skreeu ênkôr!, ênkôr! wat beteken baie mooi, baie mooi.

      As ons braai, eet ons altyd buite, al het my ma die tafel gedek. My pa kan baie goed vleis braai, lekker sag met net genoeg sout. En dan bring Mamma haar lekker wortelslaai en sy sê sy hoop dit is lekker al weet sy dit is lekker.

      Een aand terwyl my pa gebraai het en ma slaai gemaak het, het ek op die groen bank gaan sit en sing, dié keer nie hoeka-toeka nie, maar ook ’n liedjie van tannie Carike, en oom Leon het baie hard hande geklap. Hy het gekom en my ’n drukkie gegee, maar hy het my baie lank vasgehou. En hy het so gevryf. Maar toe streel sy hand so oor my bors en dit sak laer en laer. Hy het sy vinger op sy mond gesit en vir my gefluister: “Jy’s ’n mooi dogtertjie, moenie bang wees nie.” Ek het nie gehou van wat hy doen nie. Dit het my ongemaklik laat voel, want hy het regtig hard gevryf. Sy hande was hard.

      Gelukkig het my ma toe na my geroep en hy het my dadelik laat los. Maar hy ruk my toe aan my arm terug. “Dis ons geheim, nè,” sê hy toe. “Jou ma sal jou in elk geval nie glo nie.”

      Ek het my kop geknik en vinnig weggehardloop. Ek was nog nooit so bly om my ma te sien nie.

      Dit was ook die einde van die salige vleisbraaie. Ek het nooit weer by hulle aangesluit nie, nooit weer op die groen bank gaan speel nie. Ek het eerder in my kamer weggekruip, maar ek het geweet hy sal altyd kom inloer wanneer hy op pad toilet toe is of so iets.

      Hy het ook daarna altyd vir my geskenkies gebring en soms ’n geldjie in my hand gestop. Dit was baie oulike geskenke en ek het op ’n manier weer van hom begin hou. Dit was een rede hoekom ek nooit vir iemand vertel het nie. Ook omdat ek geweet het my ouers sou my nie glo nie. Hulle was mal oor hom en het goeie vriende geword.

      Daar kom weer kwaai stemme uit Mamma-hulle se kamer. Baklei hulle oor my? Is dit my skuld? Ek klim van my bed af om die bruin koffertjie te kry. Ek weet wat daarin is: vetkryt, inkleurboeke, tekenpapier en ’n skêrtjie. Dis die skêrtjie wat ek wil hê. Ek hoor die stemme in die kamer; ek maak die skêrtjie se mond oop. Met twee vingers van my ander hand druk ek die vel op my knie dat dit so ’n bultjie staan. Die skêrtjie byt in die bultjie in. Daar kom bloed uit. Dit is seer maar ook nie seer nie. En ek hoor nie meer die geraas in die kamer nie.

      Die kamerdeur klap en Mamma kom verbygeloop. Ek kan sien sy het gehuil. Sy stop. Sy sien my knie en vra wat gebeur het. Ek begin huil. Van my trane drup op my knie en die bloed word so waterig teen my been af. Mamma bring ’n bakkie met water en Dettol, en met watte druk sy teen die seerplek op my knie. Dit brand en ek huil nog meer. Ek huil totdat Mamma ’n pleister opplak en toe is al my huil verby.

      Elke keer as my ouers baklei het, of as ek bang was, het ek myself seergemaak. Nie noodwendig deur myself te sny nie, soms was dit ook deur myself te byt of my kop teen die muur te stamp. Die fisieke pyn het die werklikheid verdring.

      Ek het dikwels voorgegee dat ek geval het. Vir party mense sou dit lyk of ek aandag gesoek het. Wie weet, dalk het ek, maar om seer te kry, was ’n moet vir my. Dit het my vir ’n ruk emosieloos laat voel. Die wêreld daar buite was ’n lelike plek vir my. Die kamer in my kop was my toevlug en ek het geleer om in my kop veilig te voel as my hart uit vrees om uitkoms smeek.

      My ouers het my na ’n sielkundige in Bloemfontein geneem – ’n koddige vroutjie wat my met karretjies laat speel het. Ek moes lyntekeninge maak en dit uitknip. Ons het nie veel woorde gewissel nie, want ek het lankal na die kamer in my kop geëmigreer. Niemand sou weet wat my binnegoed breekbaar maak nie.

      Mamma het vir my ’n bedlampie gekoop, een met ’n Mickey Mouse op. Ek los dit nou elke aand aan en dan kom die voetstappe nie meer nie. Maar nou kom Mamma ook nie meer by my sit nie. Ek weet nie wat die slegste is nie, die voetstappe of Mamma wat nie meer kom nie. Mamma sê sy doen wat vir ons almal goed is.

      Drie aande terug het die mense weer kom kuier. Hulle het my baie bang gemaak, veral die man met die sekel. Vir hom is ek die heel bangste. Ek het my oë met my hande toegedruk en eers ná ’n lang ruk gekyk, maar hulle was nog daar. Hulle het gelag, maar ek het niks gesê nie.

      Nou weet ek die mense sal daar wees as ek kamer toe gaan. Hulle kom altyd wanneer Pappa sy en Mamma se kamerdeur toetrek. Dan kom die ou oom met sy swart bolhoed en bruin onderbaadjie eerste en hy dans so met sy hande so weg van hom. Die dogtertjie met die wit hare is skaam en sy is altyd agter die oom. Dan skreeu die baba ook en daarvan hou ek nie. Die tannie wat die baba vashou, hou ook nie van my nie, sy kyk so vir my.

      Gister het die baba weer so geskreeu en toe vra ek die tannie sy moet dat hy stilbly, want Pappa-hulle gaan wakker word. Dit was die eerste keer dat ek met hulle gepraat het. Toe praat die tannie ook met my. Sy is net so kwaai soos sy lyk. Sy sê ek is jaloers en ek wil haar baba seermaak. Toe sê die ou oom nee sy moet stilbly. Moenie so met die kind praat nie, sê die oom, want sy het niks aan jou gedoen

Скачать книгу