Die bleek man op my hakke. Harriet Christou

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou страница 7

Die bleek man op my hakke - Harriet Christou

Скачать книгу

kom sit en stories vertel, soos net hy kon. Soms het Maria by die deur ingeloer met ’n vraende uitdrukking op haar gesig. Sy moes seker gewonder het met wie ek so sit en gesels, maar sy het nooit vrae gevra nie. Ek dink sy het geweet dit maak my gelukkig, wat dit ook al was.

      “Kyk, daar’s jou ma weer,” sou oom Johan sê, en dan het ons deur die venster gekyk na my ma wat in die tuin werk. “Daardie ma van jou het groen vingers,” het hy gesê. En sy het die een prys na die ander met haar mooi tuin gewen. Sy was ’n ander mens as sy in die tuin gewerk het. Haar oë het altyd geblink. Sy was gelukkig. Ek het soms probeer help, maar altyd net ’n gemors gemaak. Sy het egter nooit kwaad geword nie, eerder gehelp en my gewys hoe ek te werk moes gaan. Oom Johan het daardie eienskap van my ma aangeprys, en so baie bygedra tot die herstel van die verhouding tussen ons.

      Daar is haaie in die swembad! Toe Pappa sy rug draai, was hulle daar. Waar was hulle dan toe hy nog hier gestaan het en kyk dat ek my lengtes swem?

      Swem is my gunsteling-sport, en ek moet altyd wen. Dis gewoonlik ek teen my maatjie Jolanda, ons kom altyd gelyk. Ek wil haar klop, dis hoekom ek so hard oefen.

      Elke aand wanneer Pappa by die huis kom, laat hy my lengtes swem. Hy is my afrigter en vir hom swem ek asof ek aan die Olimpiese Spele deelneem. Ek mag nie moeg raak nie, dis so lekker as Pappa trots is op my. Hy loop op en af langs die swembad terwyl ek swem. Mooi so, Tinna, sê hy. Partykeer sê hy ook vinniger, vinniger!

      Maar nou is die swembad vol haaie. Die voordeur is toe; Pappa het gesê ek het genoeg geoefen vir die dag. Kyk hoe swem die haaie in sirkels en kyk vir my. In die blou swembadlig kan ek hulle sien. Pappa! skreeu ek. Pappa! Ek kan nie sonder Pappa swem nie. Hy moet hier wees. Net hy kan die haaie laat weggaan.

      Kom! roep Pappa en hou die wit Ford-bakkie se deur oop. Ek hardloop en trap teen die kant van die bakkie om op sy skoot te kom. So leer Pappa my bestuur. Ek kan nog nie die ratte doen of die petrol trap nie, maar ek kan die stuurwiel draai.

      Ek mag nie in die dorp bestuur nie, maar as ons Thaba ’Nchu Sun toe ry, dan laat hy my die stuurwiel draai. Dis baie lekker as ons casino toe gaan, want dan gaan speel ek en Boetie videospeletjies terwyl Pappa en Mamma by die masjiene is.

      Ook as ons na my oupa-hulle op Dewetsdorp gaan, laat Pappa my bestuur. Maar dit is ’n baie kort entjie. Laat ek die rat ook doen, Pappa? vra ek dan. Dan sê Pappa ek moet geduldig wees, eendag sal ek dit alles kan doen. Dan dink ek aan daardie dag dat ek self Dewetsdorp toe sal ry.

      Ek was seker so tien jaar oud toe my ma ’n psigiater gaan sien. Ek het nie juis geweet wat ’n psigiater is, of waarom my ma hom gaan sien het nie. In my agterkop het ek die idee gehad dat dit oor my ouers se rusies gaan, en die vrees het in my begin oplaai. Toe my ma boonop hospitaal toe moes gaan, was ek te bang om in haar oë te kyk.

      Ek onthou hoe alleen my ma in die hospitaal gelyk het; hoe haar oë gesmeek het dat sy huis toe geneem moet word. My pa het gesê die dokter sê sy is paranoïes. Hy het dit aan my probeer verduidelik deur te sê my ma dink partykeer hy wil haar doodmaak, en dat sy selfs partykeer dink hy wil mý doodmaak.

      Ek het geweet waarvan hy praat, want daar was tye dat ek nie by my ma wou wees nie. Dit is wanneer sy vir my so vreemd was dat ek nie geweet het wie sy was nie, en dit het my bang gemaak. Die ontstellendste was dat sy ná ’n ruk weer haar ou self was en gemaak het asof niks gebeur het nie. Dit het my ontsettend verwar. En toe ek later koshuis toe is, het dit my ma se siekte vererger. En dit het juis gebeur toe ek op my gelukkigste was.

      In standerd drie is ek weg van Wepener. My ouers het besluit ek moet na ’n kosskool in Bloemfontein waar my broer reeds op skool was. Hoewel ek na die “beste meisie­skool” gestuur is, was ek verpletter. Ek wou nie gaan nie. Ek wou nie van my huis af weggaan nie. Ek was bang vir nuwe dinge, nuwe mense. Ek was egter nog banger dat oom Johan-hulle nie sou saamgaan nie.

      My eerste dag in die stadskool was ’n deurmekaar­spul. Ek het nie geweet na watter klaskamers ek moes gaan nie, my pampoenkleurige rok was myle te groot, en die ver­skriklik baie kinders het my benoud gemaak. Ek het stil en bang in die ry geloop – dit was ’n groot nuwe wêreld. In elke klaskamer het ek deur die vensters gekyk of ek oom Johan-hulle sien. Pouses het ek na die hokkieveld gedwaal om na hulle te soek, maar hulle was skoonveld.

      “Moenie huil nie, Tinna,” het my pa vir my gesê toe hy my by die skool afgelaai het, maar ek het gehuil soos selde tevore. My ma het vir my belgeld saamgestuur en ek het haar elke oggend voor skool gebel, en dan weer in die middae ná skool en saans voor ek gaan slaap het. Die gangprefek in die koshuis was van Wepener en ek het haar darem geken, maar andersins was alles en almal vir my vreemd. Dit was vir my moeilik om in die oggende op te kom en ek het in my klere geslaap sodat ek so lank moontlik kon bly lê onder my groen duvet met die oranje blomme. Ek het oneindig na my ouers verlang. Die koshuis het vir my soos ’n tronk gevoel en elke aand het ek gebid dat my pa my sal kom haal.

      Die derde aand in die koshuis het ek om middernag wakker geword. Ek moes badkamer toe, maar die lang donker gang het my teruggehou, want die man met die sekel was daar! Boonop kon ek nie die lig aanskakel nie, want ek sou my kamermaat wakker maak. Knyp-knyp het ek gewik en geweeg … sal ek of sal ek nie? Maar ek móét nou badkamer toe of …

      Toe hoor ek dit: “Hartjie, kom ek loop saam met jou.” Dit was oom Johan! Ek was so dankbaar en verlig. Hy het my hand geneem en ons het die gang saam aangedurf. “Waar was Oom die hele tyd?” het ek gevra. “Ag, hartjie, ons wou hê jy moes eers alles leer ken sonder dat ons jou pla, maar ons is altyd by jou, al sien jy ons nie.” Oom Johan het my hand voor die badkamerdeur gelos en ek het sonder enige vrees ingegaan.

      Oom Johan se verskyning laat my die nuwe skool in ’n heel ander lig sien. Ek is gaande daaroor! Ja, dit is nou nie so lekker sonder seuns nie, maar dis ten minste een van die stad se beste skole. Ek is trots op my pampoenrok. Dit is vir my belangrik om stiptelik, ordentlik en gedissiplineerd te wees. Ek leer wat Christenskap werklik beteken, wat dit is om jou naaste lief te hê en in ag te neem, om op te staan uit respek as ’n onderwyser verby jou loop en dat dit ’n groot eer is om die skoollied te sing.

      Oom Johan-hulle spot soms met van die juffrouens wanneer hulle besig is om op die bord te skryf of uit ’n boek te lees. Dan trek oom Johan die eienaardigste gesigte, of hy loop saggies tot by die juffrou en sit sy bolhoed op haar kop. Ek moet baie hard probeer om my lag in te hou, want uitskryfwerk wil ek nie kry nie. Dit is hoe jy hier gestraf word. Maar aan die ander kant, skryf maak my gelukkig. Ek gee dus glad nie om dat oom Johan sy bes probeer om my te laat lag nie.

      Dis net die naaldwerkklas wat nie so lekker is nie. Selfs tannie Anna probeer my help met die steke en die uitsnywerk – sy het seker gesien ek vorder stadig. Kan eintlik nie glo sy help my nie, die ou kwaaitjie. Maar as ek na haar luister, kry ek die werk reg. En dalk word sy minder kwaai as ek doen wat sy sê.

      Die kunsklas is ’n groot avontuur. Lisa kan nie glo wat ek alles met ’n potlood op papier regkry nie. Soms sit ek skelm vir haar ’n stuk papier en ’n potlood op die grond neer, want sy hou van teken. Ek kan nie altyd uitmaak wat sy teken nie, maar ek maak ’n punt daarvan om haar te prys. Sy is ’n sussie vir my en ek sal haar altyd beskerm.

      Pouses speel ek met my nuwe vriende, maar ek is altyd bewus daarvan dat oom Johan-hulle iewers naby is om my dop te hou. Partykeer sit hy by ons op die hokkieveld terwyl almal velletjies mooi skryfpapier uitruil. Ek maak asof hy nie daar is nie, maak net so nou en dan oogkontak. Dit pla my nie meer dat niemand anders hulle kan sien nie, want eintlik is dit vir my lekker dat ek die uitverkorene is, die enigste een wat hulle aandag kan geniet.

      Dis nog nie vir my lekker in die koshuis nie, maar reeds baie beter as in die begin. Ek is steeds nie gewoond aan die klokke wat my lewe beheer nie, en al die studietye is hoogs irriterend. Mamma het my geleer om hardop te

Скачать книгу