Die bleek man op my hakke. Harriet Christou

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou страница 5

Die bleek man op my hakke - Harriet Christou

Скачать книгу

gewoond geraak. Ek kon my verwonder aan hoe die ou oom my boekrak bestudeer en die klein dogtertjie met my poppe speel. Nie dat ek juis daarvan gehou het nie, want ek was heilig op my poppe. Die tannie het my voortdurend dopgehou. Haar oë was kil. Sy het kort, bruin hare gehad en ’n helder bloes met blomme daarop gedra. Haar parfuum was iets tussen Red Door en aangebrande rys. Dit het my naar gemaak.

      Maar die vrees vir hulle het verdwyn en plek gemaak vir nuuskierigheid. Ek wou weet wie die snaakse karakters was en waar hulle vandaan kom. Ek het hulle nagte deur aangestaar, na hul manier van loop en watse gebare hulle maak. Maar as hulle vir my gekyk het, het ek altyd afgekyk. Dit het ’n hele ruk geduur voordat ek aan hul kuiertjies gewoond geraak het. Ek het geweet hulle kom, en ek moes net kies of ek daarmee wou saamlewe of nie.

      “Aangenaam, ek is oom Johan,” sê die oom en hou sy hand na my uit. Ek weet nie of ek sy hand moet vat of nie, dis só oud en vol plooie. Toe sien ek sy oë, dit lyk asof die blou lug in sy oë is, dit is so blou, blou. “Kyk, poppie, die oom se hand gaan afval as jy hom nie nou vasdruk nie,” sê hy. Hy lag. Ek lag ook en vat sy hand. Dit is grof en koud.

      Oom Johan wys met sy vinger na die klein dogtertjie. “Daar is Lisa,” sê hy. “Sy is maar ’n skaam enetjie.”

      Ek klim uit my bed en stap na Lisa toe. Dis die eerste keer dat ek dit doen. Sy sit by die pophuis. “Jy’s mooi,” sê ek, en haal my beste pop uit en sê sy mag daarmee speel.

      Die oom praat weer. “O, gats,” sê hy. “Voor ek uitgeskel word, dis tannie Anna.” Hy wys na die tannie. Die tannie draai haar rug na ons.

      “Sy kan maar nors raak, so moenie alles glo wat sy sê nie,” sê oom Johan.

      “Hallo, Tannie,” sê ek.

      “Ek ken jou soort, jy lyk maar net so soet, maar agter toe deure is jy lekker stout,” sê die tannie.

      “Issie,” sê ek. “Ek is nie stout nie.” En toe vra ek vir die oom: “Oom Johan, hoekom hou sy nie van my nie?”

      “Ag, my hartjie, dis seker die baba. Moeilike kind daardie. Hou nooit op skree nie. Maar tussen my en jou: ek dink sy is nie lekker daar bo nie.” Die oom praat saggies en maak met sy vinger sulke kringetjies langs sy kop.

      Lisa het my pop aangetrek en uitgetrek en weer aangetrek. Ek kan sien sy speel baie lekker.

      Dit is koud en ek klim weer in my bed. Oom Johan kom langs my sit. “Wie is julle, Oom?” vra ek. “Waar woon julle? En hoekom sien Pappa julle nie?”

      “Ons is gestuur om ’n ogie oor jou te hou,” sê oom Johan. “Dit maak nie saak waar ons vandaan kom nie, solank jy in ons glo.”

      Toe raak tannie Anna baie kwaad. “Twak! Vertel vir die kind die waarheid,” sê sy. “Kom, vertel haar. Vertel van die gat in die muur en dat hy haar dophou.”

      Die oom sal my nou moet vertel, want ek raak baie bang.

      Hy knik en klop met sy hand op my duvet. “Daar is ’n gat, hartjie,” sê hy. “Daar is ’n gat. Maar hy kyk net soms of jy slapies. Jy hoef nie vir hom bang te wees nie.”

      “Is dit die man met die sekel?” vra ek.

      “Ja, hartjie. Hy hou nie van lig nie, daarom kom hy net in die nag. Ons het gewag tot jy sy voetstappe hoor. Nou weet ons dat jy in ons glo.”

      “Ek hou nie van hom nie. Hy maak my bang.”

      Oom Johan skuif nader. Sy growwe hand vat aan my wang en hy kyk in my oë en sê saggies: “Hartjie, ons sal nou by jou bly tot jy slapies.”

      Ek kyk vir oom Johan, en voel nie meer bang nie. Ek vertrou hom. Ek kruip onder my pienk duvet in en hy trek my toe. Hy wil die bedlampie afsit, maar ek sê hy moet dit asseblief aan los. Hy knik.

      Toe dink ek weer aan die gat in die muur en sit regop. “Waar is die gat, Oom?”

      Oom Johan skud sy kop. Hy loop na die muur – dis ’n houtmuur – en haal my ballerina-sertifikaat af.

      Hy is reg, daar is ’n gat! So groot soos ’n gholfballetjie; ek kan dit met my eie oë sien. “Kan hy deur goed sien, oom Johan?” vra ek.

      “Ja, Black Boy het super powers,” sê die oom. “Maar hy sal jou nooit seermaak nie, want ons waak oor jou.”

      Ek hou nie van hom nie. Ek wil nie hê iemand moet vir my kyk nie.

      Oom Johan sit die sertifikaat terug en tel Lisa op my bed om langs my te lê. “Jy’s ook mooi,” sê Lisa saggies.

      Nadat ek hulle leer ken het, kon ek saans nie meer wag vir hul verskyning nie. Oom Johan het altyd vir my die snaaksste slaaptydstories vertel. Hy wou my aan die slaap maak, maar ek het my telkens wakker gelag. Hy kon ’n storie soos ’n fliek voor jou laat afspeel. Ek kon die feetjies met hul hoëhakskoene sien, die kabouters wat kaalvoet met hul Armani-pakkies gespog het, en die wit perd met die goue tande.

      Lisa het elke aand langs my gelê. Tannie Anna was nie baie gaande daaroor nie en sy het my gedurig daarvan beskuldig dat ek haar kind wil steel. Maar Lisa was nie haar kind nie. Sy het my dit self gesê, en ek het haar geglo. Oom Johan moes ons soms stilmaak, want Klaasvakie sou weer koers kry van die geraas. Ek wou egter nie ophou gesels nie, want hul teenwoordigheid het my siel gevoed.

      My bedlampie het die man met die sekel weggehou, maar die gat in die muur het bevestig dat hy wel daar is. Ek het soms in die dag daarna gestaar; gewonder hoekom my broer dit nie kon sien nie, want hy moes tog van sy kamer af na myne kon deurkyk. Ek het ook gewonder of my ma van die gat weet, want sy het die sertifikaat daar gehang.

      Die gat was pikswart. Ek wou eenkeer my vinger daarin druk, maar net toe roep Maria my. Ek het yskoud geword, en dit nooit weer probeer nie.

      My kuiergaste was mense wat in my geglo het en na my geluister het. Ek kon vir hulle vertel wat my hart gekneus het. Ek het hulle met alles vertrou, selfs die pyn oor oom Leon en sy hande. Ek het verlang na hulle, wou net by hulle wees. Ek het veilig by hulle gevoel, maar my bedlampie moes aanbly.

      In my eie familie, my geliefdes, het ek vertroue verloor. Hulle was die mense wat my nie wou glo nie, en ek wou so graag iemand hê wat my glo. My kamer het ’n skatkis vol geheime geword, geheime wat ek stil bewaar het.

      HOOFSTUK 4

      Die kleuterskool is een van die heel lekkerste plekke op aarde. Dit is ’n huis met ’n draadheining om en agter die heining is ’n klein berg. Op die klippe van die berg lê daar dassies. Die dassies praat met my, hulle sê ek moet vir juffrou Adrie luister.

      Daar is ’n gat in die draad agter die skool. Ek kruip maklik deur die gat en klim tot bo. Partykeer val ek, maar ek staan weer op en dan hou ek aan die gras vas, want iemand roep my van daar bo af. Ek kyk op en in die son sien ek dit is oom Johan wat daar bo staan. Hy hou sy arms oop, en ek is so bly, want dit is die eerste keer dat ek hom hier buite sien, hy was nog altyd net in my kamer.

      Oom Johan het my hand gevat en vir my ’n storie vertel. Toe het hy weer saam met my afgegaan na die skool toe. Juffrou Adrie het gevra waar was ek, en toe sê ek vir haar niks van oom Johan nie, en ook nie van die gat in die draad nie. En ek het gekyk en kon sien oom Johan wag vir my daar by die swaaie.

      Ek eet my Marmite-toebroodjies en drink my rooi koeldrank op

Скачать книгу