Fiela se kind. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fiela se kind - Dalene Matthee страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Fiela se kind - Dalene Matthee

Скачать книгу

      

      Dalene Matthee

      FIELA SE KIND

      Tafelberg

      VIR LARIUS,

      AMANDA, TONI

      EN HILARY

      1

      Die dag toe die kind weggeraak het, het die mis vroeg begin toetrek en teen halfdag was dit of die Bos onder ’n digte wit wolk lê. Elias van Rooyen het van die steier afgeklim, die byl neergesit en onder die afdak op die hoop klaar geelhoutbalke gaan sit. Dit het nie gebaat om te werk as die mis só toe was nie, want die hout het taai gebly onder die byl, en buitendien was hy nie ’n man wat daaraan geglo het om homself vroegtydig in die lewe te verrinneweer nie. Soos die houtkappers nie. ’n Man het net een lyf en dié moet lank uitkom. Hy het liewers aan ’n goeie plan en ’n bietjie geluk geglo, al was geluk ’n skaars ding in daardie bos. En vir ’n skaars ding moet jy jou oë en jou ore elke dag gereed hou. Soos die dag toe hy onderkant Diepwalle in die hardepad op pad was dorp toe en die vreemde wa by Jim Reid-se-draai uitgespan gekry het: manne van agter die berg uit die Lange Kloof se wêreld, op soek na geelhout en stinkhout vir balke en kosyne en deure en vloerplanke en goed. Hulle wou direk van die houtkappers koop, nie van die houtkopers op Knysna nie. Maar die houtkappers was skrikkerig om aan hulle te verkoop omdat hulle vas was van die skuld by die houtkopers se winkels en die houtkopers hulle liksense kon laat afvat as hulle nie kom hout lewer nie. Elias van Rooyen was nie bang nie. En op die ou end kom dit uit dat die Langeklowers eintlik sou verkies om klaargemaakte goed te koop sodat dit nie nodig sou wees om met ’n enkele splinter onnodige hout op ’n wa oor die berge te sukkel nie. Daardie tyd was die nuwe pas nog nie klaar nie en moes hulle onder by Duiwelskop oor. Nie dat die nuwe pas veel beter was nie, maar dit was darem vier dae korter. En net daar het hy die plan gekry en aangebied om vir hulle klaar balke te lewer. In die hardepad by Diepwalle waar Kom-se-sleeppad uit die grootbos kom. Elke vierde maand se tweede Donderdag.

      Daardie jare het hulle gunter agter in die Bos op ’n ander oopte gebly, op Groot Eiland, en het hy in sy skoonpa se span gekap. Hy het toe lankal nie meer sin gehad vir houtkap nie en het vir Barta loop sê sy moet regmaak, hulle gaan huis opbreek en Barnard-se-eiland toe trek. Dit was ure nader aan die hardepad en sommer in Kom-se-bos.

      As die mis die dag kom toetrek, kry ’n man weer ’n slag kans om al jou dinke te dink.

      “Barta!” het hy onder die afdak uit huis se kant toe geroep. “Bring vir my ’n bietjie koffie, ek is gedaan!”

      Die mis was wragtig dik. Hy kon skaars tot by die huis sien; net genoeg om te weet dat hy voor die komende winter ’n plan sou moes maak met die dak voor die hele spul meegee. Hy sou êrens ’n paar ou sinkplate in die hande moes kry. Barta het die vorige winter gekla die kinders bly aan die snuif en hoes van die nattigheid in die huis.

      Van die vier huisgesinne wat op Barnard-se-eiland huis gemaak het, was hy al een wat nie houtkapper was nie. Behalwe as hy moes kap vir die balke se maak. En van almal op die eiland was hy al een wat darem ’n oulap regte geld verdien het en nie alles net so moes ruil vir koffie en suiker en meel en goed by die houtkopers op die dorp nie. Nie dat hy sou sê dat dit veel beter met hom gegaan het as met die houtkappers nie; die balke se geld was ook maar net genoeg om van te leef as hy sy eie vleiskos in ’n strik gevang het. Maar balkemaak was darem baie ligter werk as houtkap en daarby het hy elke nag in sy kooi geslaap en nie iewers in die Bos onder ’n skerm nie.

      Hy het Barta met die koffie hoor kom, vinnig die handbyl gegryp en die steel aandagtig bekyk soos een wat besig is. Barta kon nie verstaan dat ’n man soms moet stilsit om te dink nie.

      “Elias, is Lukas dan nie hier by jou nie?” het sy onrustig gevra toe sy oopkant van die afdak met die beker koffie kom staan.

      “Nee. Sit maar die koffie daar op die blok neer, my hande is besig.”

      Sy het omgedraai en weggestap, half stadig soos dit haar gewoonte was. Sy is nog mooi, het hy gedink, maar sy sal moet skoene kry.

      Miskien moes hy ou Krisjan Smal van Lelievleibos se oudste seun kry om te kom help by die balke sodat hy meer kon lewer. Die kind was gewoond daaraan om vir koffie en suiker en meel te werk, hy kon dit maar daar by hom ook kom verdien. Aan die ander kant had hy dan weer sonde en ergernis met blyplek vir die mannetjie. Die huis was klaar te klein. Hy sou later ’n derde vertrek moes aantimmer, want die kinders was besig om groot te word. En agter uit Lelievleibos kon Krisjan Smal se kind ook nie elke dag stap nie, want hy sou saans sononder daar aankom.

      Nee, het hy vorentoe gedink, al manier waarop ’n man ’n behoorlike ekstra in die Bos kan bekom, is om ’n geweer te koop en olifante te skiet. Vir die tande. Maar waar kry jy geld vir ’n geweer en vir koeëls, en hoe kom jy by die houtkopers op die dorp verby tot by die skippe om die tande te verkwansel? Die skippe betaal die beste vir ivoor, maar volgens die houtkopers het net húlle liksens om aan die skippe te lewer. Martiens Willemse sê dis ’n vervloekste leuen. Die houtkopers smokkel self ook maar die olifanttande water toe.

      “Pa …” Willem, die oudste van sy vier kinders, het onder die afdak ingekom. “Pa, Ma sê Lukas is nie in die huis nie.”

      “Loop kyk by tant Malie of hy nie daar is nie en vee af jou neus!”

      As ’n man in die nag tot by die skippe kon kom en lewer wat jy het … Hoe kom jy dan nou weer in die donker deur die Bos sonder dat die olifante jou trap?

      Aan die noordekant van die eiland het hy Anna van Dawid Olwage soos gewoonlik op haar treksel kinders hoor skel. Miskien moes hy Anna en Dawid se oudste seun, Kransie, kry om hom by die balke te kom help. Kransie was seker goed ’n mannetjie van by die vyftien en Dawid se span was juis te veel van hande. Hulle het swaar gekry.

      “Pa, Lukas is nie by tant Malie nie.”

      “Het jy by tant Anna gevra?”

      “Nee, Pa.”

      “Nou vir wat moet ek julle alles voorsê?”

      “Ja, Pa.”

      ’n Man sukkel tot sy kinders die dag groot genoeg is om te kan help en hy sou nog lank moes sukkel. Willem, sy oudste, was maar ses en Kristoffel vyf, Lukas was drie en Nina nog aan die tiet. Willem kon darem al mooi vir Barta in die groentetuin help, maar vir hom het die kinders nog min beteken. Hy sou ’n bietjie by Dawid hoor van Kransie. Die kind sou dit nie swaar hê by hom nie; balkemaak is nie oswerk soos houtkap en regkap en uitsleep en op die wa laai en dorp toe uitry nie.

      “Elias?” Barta het soos ’n gedaante uit die mis gekom.

      “Wat is dit nou weer, vrou?” Kon hulle dan nie sien hy is besig nie?

      “Was die kind nie hier by jou nie?”

      “Ek het jou mos gesê hy was nie hier nie. Loop hoor by Sofie of hy nie daar is nie, as julle dan nou stuk-stuk wil soek.”

      “Ek was by Sofie, hy’s nie daar nie.”

      ’n Halfuur later het hy Barnard-se-eiland om hom sien deurmekaar raak van die geroep en gesoek en van lywe wat mekaar in die digte mis raakloop en met angsgesigte vra: “Het julle hom gekry?”

      Hy het vir hulle gesê die kind is iewers in een van die huise, hy het iewers aan die slaap geraak. As die vrousmense net nie so te kere gegaan

Скачать книгу