Kringe in 'n bos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kringe in 'n bos - Dalene Matthee страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Kringe in 'n bos - Dalene Matthee

Скачать книгу

tot op die dorp. Daarna was hulle lank ryk. Sy pa het tweehonderd riksdaalders vir die mas gekry: tagtig vir homself, sewentig vir oom Anneries en vyftig vir Maska. Hulle het huisgoed en klere gekoop, kos en ’n ysterpot, en die orige geld het sy pa weggesteek vir hongertye en liksensgeld vir die volgende jaar se kap.

      Jozef is met die voorosse by ’n groot werf in. Oral het hout gelê: opgestapel en uitgestal. Hout net waar jy kyk! Langs die groot houtskuur het ander waens weer van die hout opgelaai; in die onderste hoek het twee waens afgelaai. Veltmaspaaiers.

      Dit het vir Saul gevoel sy kop is te swaar vir sy lyf. Sommer die honger, het hy besluit, voordag se kos was maar effentjies.

      En dit was warm.

      Hy en Jozef het opgeklim en die woelstokke begin losdraai; twee man bo en twee man onder. Soos hulle aflaai, het hulle sommer die twee lotte waenhout uitmekaar gepak. Netjies.

      Toe dit klaar was, het sy pa en oom Anneries in die koelte van die wa gaan sit en aan hul leë pype gesuig.

      “En nou?” wou Saul weet.

      “Nou wag ons vir mister Page om te kom.”

      Ná ’n ruk het ’n man met rooierige hare en ’n wit gesig van die skuur se kant af oor die oopte gekom. Hy had twee boeke in sy hand en sy klere was soos dié van die man op die perd. Net sy skoene was nie so hoog op nie. Toe die man nader kom, het sy pa opgestaan en sy pyp in sy sak gesteek.

      “Name?” vra die man botaf.

      “Joram Barnard.” Hulle het nie gegroet nie. “Waar is mister Page dan?” vra sy pa versigtig.

      “Ek is MacDonald,” sê die man en blaai deur die grootste boek. “Mister Page is terug Engeland toe, die plek behoort nou aan my. Wat het julle gebring?”

      “Waenhout.”

      “Waenhout?” Dit het geklink of die man hom vererg. “Noem jy dit waenhout? Dis derdeklas hout!”

      Saul het dieper agter die wa ingekruip sodat hy net met sy een oog langs die wa af kon loer … As sy pa die man foeter omdat hy so staan en lieg, wil hy nie naby wees nie. Joram Barnard raak nie maklik kwaad nie, maar as daar ’n ding is wat hom briesend maak, is dit ’n liegtery en ’n vloekery. Jy kan vir ’n boswagter lieg, want jy lieg vir jou maag en die bas aan jou lyf, sê sy pa altyd. Jy lieg nie vir ander dinge nie. En die man het vir sy pa gestaan en lieg, gesê dis derdeklas hout terwyl hy goed weet die hout is eersteklas.

      “Julle bring waenhout terwyl die skepe lê en wag vir dwarslêers!” skel die man. “Wat moet ek met waenhout maak?”

      “Mister Page het gesê ons moet waenhout maak,” het sy pa gesê, en sy pa was bang. Hy kon dit nie verstaan nie. Joram Barnard is nie ’n bang man nie …

      “Ek het niks met mister Page te doen nie! Die Goewerment wil dwarslêers hê! Die spoorlyn Kimberley toe moet klaarkom en julle kom hier aan met waenhout! Het julle bosmense dan nie verstand nie?”

      “Dan verstaan ek dit nou glad nie,” het sy pa verslae gesê. “En ek sien hier staan nog skuld op die boek vir ’n doodskis ook?”

      “Die sterfte het onverwags oor my huis gekom, mister MacDonald, daar was twee op die boek, een is afgebetaal.”

      Die man het sy kop geskud en iets in die groot boek geskryf, toe iets in die kleiner een, die blad uitgeskeur en vir sy pa gegee.

      “Saul!” roep sy pa toe die man wegstap. “Kom lees hier.” Maar hy had moeite met die lees. “Ek verstaan nie wat hier staan nie, Pa. Iets van tree pennies.”

      “Dis Engels,” het oom Anneries oor sy skouer kom help. “Lees soos dit staan, ek sal weet wat jy lees.”

      “Tree pennies s … u … g … a … r. Tree pennies c … o … f … f … e … e. Five shillings off on c … o … f … f … i … n.”

      “Kôffen,” sê oom Anneries. “Dis die kis.”

      Tiekie se suiker, tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? Al die kap, al die saag, die kalanderblok se uitsleep, al die regkap, al die oplaai, al die werk, dag na dag, week na week; alles vir ’n tiekie se suiker en ’n tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? En sy pa stáán net daar?

      En die man kom halfpad teruggestap en skree oor die oopte: “Kry julle wa uit die pad! Ek verwag waens met dwarslêers!”

      “Meneer!” het sy pa skielik tot lewe gekom en met sy hoed voor sy bors tot by die man gestap. “Meneer, ons weet nou nie hoe nie. Ons moet meel hê en die suiker en die koffie sal nie uitkom nie. Dis twee waens se hout daardie, meneer, ons kry gewoonlik een pond vyf vir een.”

      “Laai op julle vrot hout!” snou die man skielik woedend en die bloed vlam rooi in sy nek. “Vat dit weg van my werf af en loop verkoop dit op ’n ander plek! Maar voor jy oplaai, betaal jy eers jou winkelskuld, want die winkel behoort nou ook aan my!”

      Saul het geweet hulle is vas. Die man het dit ook geweet.

      “Ons sal gaan dwarslêers werk, meneer,” het sy pa mooigepraat. “As mister MacDonald dan net vooruit kan help met ’n groter goodfor vir meel en suiker en koffie en …’n bietjie twak tog, asseblief. Ek belowe meneer ons sal gaan dwarslêers werk.”

      Saul was nooit weer kind ná daardie dag nie. Iets breek in jou as jou pa, groot sterk Joram Barnard, wat ’n byl kon swaai soos geen ander man in die Bos nie, wat ’n treksaag lynreg deur die dikste kalanderblok kon laat skree, wat met die krag van ’n os kon hout uitsleep, as jy hóm soos ’n hond sien vra om kos en twak.

      Teen skemer is hy bo in die Knysnarivier se klowe en hy is moeg. Die hele dag geloop en nie ’n teken van Oupoot nie. Deur ’n oopte in die blaredak kleur die son ’n streep windwolke rooi.

      Agter ’n ou stinkhoutstomp, uitgehol aan die agterkant en skurf van die mos, roep hy sy dag ten einde. Hy is honger. Daar is ’n geniepsigheid in die luggie en hy trek sy baadjie om hom styf. Die vorige nag was dit bedompig. Daar is spinnedrade oor sy gesig en toe hy hulle wegvee, voel hy die tweedagstoppels onder sy hand.

      En die slaap wil nie kom nie. Die spoke van gister wil nie tot ruste kom nie. Hy wou die waenhout net tot by MacDonald uitgesleep het, nie die res nie!

      Nie Kate nie.

      Hoe gaan hy haar leer haat?

      Hulle is weer met die wa terug tot in die eerste straat. Terwyl sy pa en oom Anneries met die goodfor by die sink-winkeltjie in is, het hy op die wa bly sit en Jozef het voor by die osse gestaan.

      Dit het gevoel of die hele wêreld hom bejok het, of sy lyf in ’n deurmekaarbos beland het en nie weer kon loskom nie. Sy kop wou nie dink nie. Agter hulle het die Veltmaspaaiers se lendelam wa met hulle goodfor stilgehou …

      ’n Entjie laer af in die straat, in ’n groot, groen oopte, het ’n klein geboutjie met ’n spits dakkie gestaan. Die twee woorde bokant die deur was met ’n boog geskryf. Nie Hollands nie. P … U … B … L … I … C … S … C … H … O … O … L. School? Hy was nog aan die sukkel om dit uit te maak, toe die deur oopgaan en die kinders begin uitbondel. Dorpnaar-kinders. Ander soort kinders. Met ander soort klere en skoene en pakkies boeke in lang leerbande vasgegespe. Party van die kinders

Скачать книгу