Uit die beek 2014. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk страница 16

Uit die beek 2014 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

tabernakel is gemaak om draagbaar te wees. Dit was maar net ’n tent. Niks was vas nie. Maar dit moes die woestynwinde kon weerstaan. Die pilare is dus met tentpenne stewig gespan sodat hulle nie kon omval nie. Die gordyne was nie liggewig nie, maar goed geweef om privaatheid en sterkte te verseker. Hulle doel was om te keer dat die werk van die priesters in die openbaar geskied. Dit was eers baie later dat die tabernakel deur ’n stewige tempel vervang is.

      So word ons tydelike liggame ook met ’n tent vergelyk: “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan” (2 Kor 5:1). Ons moet dus nie te vas raak aan hierdie tydelike liggaam nie. Wat wel belangrik is, is dat ons moet lewe soos Hy dit wil (2 Kor 5:9).

      GEBED:

      Here, ek sien uit na my ewige woning daar by U.

      Lees vanaand in Eksodus 38:21-31 die indrukwekkende statistieke van die tabernakel.

      Woensdag 26 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 39:1-14

      Ampsklere

      […] Soos die Here vir Moses beveel het, het hulle vir Aäron ampsklere gemaak en dit gewy. – Eks 39:1

      GESELSVRAAG:

      Wat is die nut van ampsklere in die kerk?

      “As ’n swart pak met ’n wit das goed genoeg was vir Jesus en sy apostels, is dit goed genoeg vir my!” skerts iemand toe ons oor ampsgewade gesels. En dit laat ’n mens dink. Jesus en sy apostels het dit nie nodig gevind om ongewone klere te dra nie. Hulle het soos al die ander mense aangetrek. Miskien is dit daarom dat die “sweetpak” (toga) al hoe minder in die erediens gesien word. Die meeste kerkraadslede trek deesdae nes gewone mense aan. Dit gaan nie meer oor eie eer nie, maar oor die Here. Sedert die tyd van die hervorming was die toga ’n teken van geleerdheid – maar wat het dit met die kerk te doen?

      “Toe ek ons lidmate in Jaffna gaan besoek het, het ek die kleed van ’n Roomse priester-vriend geleen om aan te trek in die hoop dat die terroriste nie op my sal skiet nie,” vertel ds. Rajakumar Thurairajah van Sri Lanka. Dit het waarskynlik gehelp, want hy het die huisbesoek in die tyd van die burgeroorlog oorleef. Ampsdrag het dus wel waarde. ’n Verpleegster kan aan haar uniform uitgeken word, en ’n polisieman of soldaat ook.

      Die Christen se uniform lyk anders, maar ons het dit net so nodig. God het ons ’n wapenrusting gegee om ons staande te hou in tye van versoeking (Ef 6:13-18). Kom ons dra dit vandag.

      GEBED:

      Here, help my om voor elke stryd my wapenuitrusting aan te trek.

      Lees vanaand in Eksodus 39:15-31 hoe indrukwekkend die drag van die priesters in daardie tyd was.

      Donderdag 27 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 39:32-43

      Gehoorsaam aan die wette

      Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses beveel het. – Eks 39:42

      GESELSVRAAG:

      Watter wette kom jy na?

      “Omdat ek die ma is, dis hoekom,” staan op ’n vriendin se T-hempie geskryf. “Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie,” het ’n ander een vir haar kinders vertel. “As almal Christene was, het ons geen polisiemanne en verkeerskonstabels nodig gehad nie,” het ’n studentevriend verklaar. “Dit help nie om wette te maak as jy dit nie kan toepas nie,” skryf iemand in die koerant.

      Die hoofboodskap van die Ou Testament is dat ons gehoorsaam moet wees. Ongehoorsaamheid lei tot ellende. Maar juis omdat gehoorsaamheid onmoontlik is, soos my een kleinseun gesê het, was dit vir Jesus nodig om te kom. Die wette en regulasies van die Ou Testament het net die pad voorberei vir die boodskap van God se genade in die Nuwe. Ons lees min dat die volk gehoorsaam was. Selfs in die beste tye was daar nog steeds probleme. Dink maar wat ons oor die konings lees. In eie krag kan ons nie doen wat die Here ons beveel het nie.

      Maar ons hoef nie bedruk op ’n hopie te gaan sit nie. Daar is ’n ander pad vir ons oopgemaak. Ons hoef nie meer ons redding te probeer verdien deur wette na te kom nie. Jesus het dit alles vir ons gedoen. Ons hoef net God se genadegawe te ontvang (Rom 3:23-24, 6:23). Wat ’n verligting!

      GEBED:

      Hoe kan ek vandag vir U wys hoe dankbaar ek is, Here?

      Lees vanaand in Eksodus 40:1-15 hoe die tabernakel opgerig en ingewy is.

      Vrydag 28 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 40:16-33

      Daders van die Woord

      En Moses het alles gedoen presies net soos die Here hom beveel het. – Eks 40:16

      GESELSVRAAG:

      Wat moet ons vandag vir die Here doen?

      “Wanneer jy God se Woord lees, moet jy altyd vir jouself sê: ‘Dit praat met my, en oor my,’” het Søren Kierkegaard geskryf. God praat vandag nog met ons deur sy Woord. “Om die Bybel te lees sonder om daaroor te mediteer, is soos om te eet sonder om te sluk,” het iemand anders gesê. Mark Twain skryf: “Die meeste mense is bekommerd oor die gedeeltes van die Skrif wat hulle nie kan verstaan nie; die gedeeltes wat my pla, is dié wat ek wel verstaan!” “Jy kan maar net sowel die Woord van God ophou lees en dit vir die duiwel gee, as jy nie die begeerte het om daarvolgens te lewe nie,” sê Martin Luther. George Washington het bely: “Dit is onmoontlik om die wêreld reg te regeer sonder God en die Bybel.”

      Ons maak vandag klaar met die eerste Bybelboek wat ons vanjaar sal lees. Watter verskil het dit aan ons gemaak? Ons het in vandag se gedeelte nege keer gelees dat Moses gedoen het net soos God hom beveel het. Is dit waar van jou ook? Die Bybel het alles te doen met ons lewe elke dag; daarom is dit so gevaarlik om tevrede te wees met ’n dagboek en nie die Bybel self te lees nie.

      Kom ons blaai vandag terug oor die afgelope twee maande se stukkies. Is daar een wat ons lewe verander het? Indien nie, waar lê die fout?

      GEBED:

      Help my om elke dag te doen wat U vir my in u Woord sê, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 40:34-37 hoe die magtige heerlikheid van die Here die tabernakel gevul het.

Maart

      Welkom by die Evangelie volgens Markus

      Skrywer:

       Tradisioneel word dié evangelie gekoppel aan Johannes Markus, neef van Barnabas (Kol 4:10). Hy het saam met Paulus gewerk (Hand 13:13; 2 Tim 4:11). Hy was dalk die kaalnaeler van wie ons in Markus 14:51-52 lees.

      Eerste lesers:

       Die eerste lesers was Romeine, want Markus moes Hebreeuse woorde vir hulle vertaal (Mark 5:41). Hy gebruik ook soms Latynse woorde.

      Datum:

       Dié evangelie is waarskynlik eerste geskryf en is gegrond op Petrus se vertellings kort

Скачать книгу