Uit die beek 2014. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk страница 14

Uit die beek 2014 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

geweet; daarom het hulle haar raad gesoek.

      Moses het ’n spesiale tent ver buite die kamp gaan opslaan. Dit was nog nie die tabernakel nie, want dit was nog nie gemaak nie. Hy het dit die Tent van Ontmoeting genoem. Wanneer iemand na God se wil gesoek het, het hulle daarheen gegaan. Moses was hulle tussenganger en het God se wil aan hulle bekend gemaak. God het met hom gepraat soos met ’n vriend (Eks 33:11). Ons lees dat die volk soveel respek vir daardie ontmoeting gehad het, hulle het op aandag gestaan wanneer Moses daarheen gegaan het (Eks 33:8).

      Vandag het ons Moses nie meer nodig nie. Die Here Jesus het die pad vir ons oopgemaak sodat ons direk met Hom kan praat. Ons probleem is dikwels by die luister. Wat sê Hy vir my? Hy praat deur sy Woord, sy Gees, omstandighede en ander gelowiges. Kom ons luister mooi hierdie week.

      GEBED:

      Help my om u stem te ken en u wil te doen.

      Lees vanaand in Eksodus 33:12-23 hoe Moses vir die volk ingetree het totdat die Here beloof het om Self saam met hulle te trek.

      Dinsdag 18 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 34:1-9

      Leer ken die Here

      […] Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. – Eks 34:6

      GESELSVRAAG:

      Wat is ons eerste indruk wanneer ons aan God dink?

      “As jy God leer ken, sal jy nie meer met sonde speel nie. Hy is heilig, almagtig, alomteenwoordig. Hy is regverdig. Hy is Drie-enig. Hy haat en straf alle sonde. Hy is die finale regter.” So kan ons voortgaan om Hom te probeer beskryf.

      Hoe anders as God Homself aan ons kom voorstel. In die oorspronk­like Hebreeus staan daar JHWH wat eers verkeerdelik met Jehowah vertaal is. Die beter uitspraak Jahweh beteken volgens sommige kenners: “Die Een wat alles wat bestaan laat ontstaan.” In die Afrikaanse Bybels word die woord Here deurgaans gebruik. Maar Hy beskryf Homself as die “barmhartige en genadige God (die Een wat werklik vir mense omgee), lankmoedig (die Een wat baie geduld het), vol liefde en trou”. Hy is nie aan tyd gebonde nie, en betoon sy liefde aan duisende geslagte. Hy vergewe sonde, maar omdat Hy regverdig is, spreek Hy niemand sonder meer vry nie. Sonde moet gestraf word. Jy moet self die straf dra, of God se plaasvervanger, Jesus, vir jouself toe-eien. As ons dit nie doen nie, is dit tot nadeel van ons nageslag.

      Dit is die God wat ons nou nog elke dag wil ontmoet. Ons het die voorreg om met Hom ’n liefdevolle verhouding te bou. Hy is ons hemelse Vader. Ons kan Hom vertrou. Hy wil jou vandag lei.

      GEBED:

      Hemelse Vader, ek wil U waarlik leer ken soos U is.

      Lees vanaand in Eksodus 34:10-20 hoe ernstig God ons teen nuttelose afgodsdiens waarsku.

      Woensdag 19 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 34:21-35

      Blink gesig

      Toe hy van Sinaiberg af gaan […] was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. – Eks 34:29

      GESELSVRAAG:

      Wanneer sê ons iemand se gesig skyn?

      “Ai, my dogter het so ’n blink gesiggie, maar sy gebruik geen grimering om dit reg te stel nie,” kla ’n vriendin. Nou wie het besluit dat ’n dowwe gesiggie die regte voorkoms is? “Die beste grimering vir ’n vrou is ’n glimlag,” lees ek in ’n e-posboodskap. Maar hoe het Moses se gesig geblink? Silwer? Goud?

      “Sy gesig het horings gehad,” sê die Latynse Vulgaat Bybel by hierdie vers. Die vertalers wou seker iets sê van ligstrale wat uit sy gesig geskyn het. Die gevolg was egter dat Michelangelo vir Moses met twee verspotte horings uitgebeeld het! Die gedagte was seker ook nie dat Moses se gesig geblink het van die sweet nadat hy die twee swaar klippe tot op die berg en weer af gedra het nie. Dit sou nie genoeg wees om Aäron en die volk bang te maak nie. Paulus skryf hieroor: “Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie” (2 Kor 3:7). Dit was duidelik vir almal dat Moses ’n ware ontmoeting met die Here gehad het.

      Ek onthou nog goed die nag toe my skoolvriend Freddie sy lewe aan die Here oorgegee het. Die volkome vrede op sy gesig was so totaal anders as die bekommerde uitdrukking waarmee hy by ons huis opgedaag het. God verander selfs jou gesig!

      GEBED:

      Here, laat elkeen vandag op my gesig sien dat ek by U was.

      Lees vanaand in Eksodus 35:1-9 hoekom die dankoffers van die Israeliete nodig was om die tabernakel te bou.

      Donderdag 20 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 35:10-29

      Vrywillige gawes

      Elke Israelitiese man en vrou wat vrywillig iets wou bring vir die werk wat die Here vir Moses beveel het om te doen, het dit vir die Here gebring. – Eks 35:29

      GESELSVRAAG:

      Wat maak dat ’n mens graag vir die kerk gee?

      “’n Mens praat nie oor geld in die kerk nie, al praat ons op elke ander plek daaroor,” is die gevoel van die meeste lidmate. Ons voel ongemaklik as die dominee oor ons dankoffers praat. Tog is ons bydraes vir die Here so belangrik dat Hy kyk wat elkeen gee (Mark 12:41). “Dit lyk my die lidmate dra ruim by as dit vir ’n spesifieke projek is,” noem een van ons leraars toe ons geld vir dakplate vir kerkgeboue in Malawi ingesamel het.

      Die tabernakel was ’n projek wat die volk opgewonde gemaak het. Hulle wou die Here daardeur eer. Hulle het ruim bygedra met die goue versierings wat hulle destyds by die Egiptenaars gekry het. Maar elkeen wat kon houtwerk doen of bokhaar kon spin of watter kunsvorm ook al beoefen, het sy en haar deel gedoen. Dit was heerlik om saam te werk.

      So het ons dit ook ervaar toe ’n gemeente in die VSA uitgedaag is om twee vraghouers aan te koop en dit in klaskamers te omskep en na Suid-Afrika te verskeep. Aan hierdie kant het ons die houers in ontvangs geneem, die vensters en deure ingesny, dit klaar geverf en die houers geplaas en saamgevoeg. So het ’n pragtige bewaarskool tot stand gekom waar daar eers net ’n geroeste sinkkrot gestaan het. Dis lekker om saam vir die Here te werk!

      GEBED:

      Wys my hoe ek ook in u diens kan staan, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 35:30 – 36:1 hoe die knap vakmanne hul kennis en ervaring in die Here se diens gestel het.

      Vrydag 21 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 36:2-7

      Meer as genoeg

      […] Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het. – Eks 36:5

      GESELSVRAAG:

      Wat maak dat mense maklik opoffer en gee?

      “Sal dit nie wonderlik wees as hierdie woorde weer gesê word nie?” sê ’n Amerikaanse sendelingvriend nadat hy die oggend vandag se gedeelte gelees het. Die Here Jesus se Groot Opdrag was om die evangelie na alle nasies te neem, maar daar is altyd te min geld beskikbaar

Скачать книгу