Uit die beek 2014. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk страница 11

Uit die beek 2014 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

’n gebou nodig nie. Waar is die kerk op Maandae? In die winkels en kantore en in die landerye en boorde. Die kerk is baie beweeglik, want elke gelowige is deel van die liggaam van Christus op aarde.

      Die tabernakel, as voorloper van die tempel, moes kon beweeg. Die volk was nog op pad na die beloofde land. Hoe kon hulle weet die Here is met hulle? Die tabernakel was die simbool. ’n Noukeurige studie van die uitleg van die tabernakel wys dat elke deel na Christus vooruit gewys het. Die volk het nooit in die tabernakel bymekaargekom soos in vandag se kerkdienste nie. Net Moses en die priesters kon daar ingaan. Dit was die plek van ontmoeting. Daar het hulle die boodskap gekry wat hulle aan die volk moes gaan oordra.

      Orals waar ons vandag gaan beweeg, sal die kerk ook wees. Christus wil deur elkeen van ons werk. Sy liefde moet in ons sigbaar word. Die ongelowiges sal Hom beoordeel deur elke woord wat ons vandag gaan sê, deur ons gesindheid en deur ons dade. Dit is waarom ons elkeen ook ’n plek van ontmoeting nodig het waar ons vir die dag voorberei kan word.

      GEBED:

      Gee dat mense u kerk in my kan sien, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 26:14-25 oor die houtraamwerk wat ’n mens moes kon uitmekaar haal om vervoer te word.

      Donderdag 6 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 26:26-37

      Die voorhangsel

      […] Die voorhangsel moet vir julle die Heilige van die Allerheiligste skei. – Eks 26:33

      GESELSVRAAG:

      Hoe kan ons vandag by God Self uitkom?

      “Die doel van die tabernakel was nie om God in ’n tent vas te vang nie, maar om ’n plek te skep waar mense met God kon kommunikeer.” Dit was iets soos ’n telefoonhokkie. Maar nie enigiemand kon dit gebruik nie. Net Moses en ’n paar uitgesoekte ander Israeliete kon daar ingaan. Dit was net vir priesters. Selfs toe die tabernakel amper vyf eeue later deur Salomo se tempel vervang is, het die opset dieselfde gebly. Dit was dus heel anders as die kerkgeboue van vandag.

      Ons het vandag gelees hoe die gordyne gemaak moes word wat die taber­nakel in sy twee hoofdele moes verdeel. Dit was pragtig kleurryk van binne, noukeurig geborduur. Maar die hoofdoel van die voorhangsel was om skeiding te maak tussen die Heilige (die plek waar priesters hul werk gedoen het) en die Allerheiligste (die plek waar net Moses en die hoë­priester kon ingaan).

      Toe die voorhangsel van die tempel dus van bo na onder geskeur het, het dit ’n baie duidelike boodskap gehad (Mark 15:38). Dit het gebeur toe Jesus Christus sy lewe gegee het om versoening te doen vir al ons sondes. Hy het daardeur vir ons die pad na die Allerheiligste toe oopgemaak (Heb 10:20). Nou kan enigeen direk met God praat. Besef ons nog watter unieke voorreg dit is?

      GEBED:

      Dankie dat die voorhangsel nie meer nodig is nie.

      Lees vanaand in Eksodus 27:1-8 oor die draagbare altaar en sy gereedskap.

      Vrydag 7 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 27:9-21

      Laat jou liggie brand

      Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand. – Eks 27:20

      GESELSVRAAG:

      Hoe kan ons die lig vir die wêreld wees?

      “Uit die ruimte kan ’n mens duidelik sien watter lande die meeste energie verbruik,” vertel ’n ruimtevaarder. En op die internet is daar saamgestelde foto’s beskikbaar waar enigiemand dit ook kan sien. Die kontinente is duidelik aan die straatligte van die stede sigbaar. ’n Mens kry dieselfde indruk wanneer jou vliegtuig in die nag by jou bestemming gaan land. Ai, as elke liggie tog net ’n gelowige ook kon verteenwoordig!

      Die tabernakel het geen vensters gehad nie; daarom moes daar dag en nag lampe brand sodat die priesters hul werk kon doen. Die gewone gelowiges kon ook hul deel doen deur die gesuiwerde olie vir die lampe te skenk. In die woestyn was dit seker nie maklik nie, want daar was geen olyfbome of winkels nie. Hulle het ook nie meganiese perse gehad nie. Alles moes met die hand gedoen word.

      Jesus sê Hy is die lig vir die wêreld (Joh 8:12). Net soos die olywe gepers en gesuiwer moes word voordat hulle geskik was vir diens in die tabernakel, so is Christus gekneus en gesuiwer deur lyding (1 Pet 2:21). As ons Hom wil volg, kan ons dieselfde verwag, want Hy wat in ons woon, maak ons ook die lig vir die wêreld (Matt 5:14). Maar Hy tree vandag nog vir ons in, net soos die lig in die tabernakel die Israeliete moes herinner dat God met hulle is.

      GEBED:

      Here, suiwer my sodat ek beter lig kan gee.

      Lees vanaand in Eksodus 28:1-11 hoe die klere van die priesters moes lyk.

      Saterdag 8 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 28:12-22

      Jy is kosbaar

      Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. – Eks 28:21

      GESELSVRAAG:

      Hoe kan ons vir iemand wys dat hy of sy kosbaar is?

      “Ek kan tog nie bid nie. Ek is te sondig. Die Here sal nie na my luister nie,” voel baie mense wanneer hulle werklik eerlik is. So baie mense verkeer onder die indruk dat ’n mens volmaak moet wees om met God in verbinding te tree. Dit is wel waar dat God ontsaglik heilig is. Maar God is ook liefde; daarom het Hy ’n pad gemaak sodat ons deur Jesus na Hom toe kon gaan.

      In Moses se tyd het die volk nie direk gebid nie. Die hoëpriester moes vir hulle intree. Maar elkeen was vir die Here kosbaar; daarom het Hy beveel dat daar twaalf kosbare stene op die hoëpriester se borssak moes wees. Op elkeen was die naam van ’n stam uitgekerf. Dit was simbolies dat elkeen vir God kosbaar is. Dieselfde name is ook op twee ander stene uitgekerf wat op die hoëpriester se skouers gedra is. Wanneer die hoë­priester dus ingegaan het om te bid, het hy die hele volk verteenwoordig. Hy moes vir almal gaan versoening doen en vir hulle voorbidding doen.

      Christus se kruisdood het die pad na die troon van God vir ons almal oopgemaak. Hy is ons hoëpriester wat vir ons intree (Rom 8:34). Ons mag nou self ook in sy Naam bid. En ons kan weet ons is só kosbaar in sy oog dat Hy gewillig was om vir ons te sterf. Hoe kan ons dankie sê vir soveel liefde?

      GEBED:

      Help my om te lewe soos wat U van my verwag, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 28:23-30 wat die eintlike doel van die borssak was.

      Sondag 9 Februarie 2014 Lees eers Psalm 126:1-6

      Ná saaityd kom oestyd

      Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. – Ps 126:5

      GESELSVRAAG:

      Wat is die beste soort oes om voor te werk?

      “Die droogte het gemaak dat daar vanjaar geen oeste was nie,” vertel iemand uit ’n buurland. “Nou moet die mense besluit wat hulle met die oorblywende saad moet maak. Moet hulle dit opeet en dan sonder saad vir die volgende seisoen sit, of moet hulle die saad nou saai en honger

Скачать книгу