Mense van faam. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Mense van faam - Helene de Kock страница 2
Debora se lip beef skielik en sy skrik lig toe Theron Mynhard haar arm teen sy ribbekas vasdruk en sag vra: “Wat dink jy?”
“Niks wat maklik vertolk kan word nie,” glimlag sy.
“Nou’s ek rasend geïnteresseerd!” fluister hy terug. En opeens kan sy ook sien waarom Diana altyd so geesdriftig was oor die strooijonker. Rêrig, Deb, hy’s ’n beeld. Jy móét net van hom hou! En so van sien, moet sy toegee, hou sy van hom. Van al die Mynhard-neefs, -kleinneefs en -agterkleinneefs, is hy sekerlik die aantreklikste, so beweer Diana. Wel, dit mag dalk so wees. Sy het vroeër jare self baie keer so gedink. Sy en Diana het hom nie so dikwels soos van die ander gesien nie. Hy was altyd besig – om hoofseun te wees, om primarius te wees, om vir Maties rugby te speel of om iewers in Frankryk druiwe te pluk. Sy loer steeds na hom. Net so donkerblond soos Frederik is hy, met net so ’n digte kuif en die kenmerkende Mynhard-kepie in die ken. Daarby die liggrys oë en patrisiërneus. Wonderlik tog dat sommige families trekke het wat hulle skynbaar vir ewig sal onderskei as behorende tot een stamlyn.
Maar dis ook juis wat Debora van kleins af gehinder het. Waarom weet sy steeds nie mooi nie. Wil dalk nie weet nie, dink sy nou. Analities gesproke, is dit eintlik eenvoudig: die Mynhards het wat almal in die lewe graag wil hê. Mag en posisie en baie geld. En ’n stamboom wat terugstrek tot in die troonsale van beleë ou kastele in Europa. Dit het die hele kontrei tog geweet. Die glansblaaie het daaroor geskryf. Die tant Mynies van die televisie het dit lipsmakkend vir die volk uitgelê. Die Dianas van die lewe het blink geleenthede sien wink – en die Deboras was stilweg grasgroen en bitterbek. Die ou kliekerige Mynhard-clan, het sy as sestienjarige eendag opgemerk. Sy is onmiddellik deur tant Mynie berispe: mense van faam, Debora, kan nie deur woorde afgetakel word nie. Hulle roem verhef hulle bo dit …
Nè? het Debora geglimlag. Doen hulle dan nooit iets verkeerds nie?
Ag, Debbie, dis nie dit nie, glo my. Dis net dat mense van faam ánders gemeet word … So het tant Mynie gesê en so glo sy tot vandag toe.
“Jy doen dit al weer!” Dis weer die strooijonker en dié slag voel Debora hoe haar wange warm word.
“Ekskuus …” fluister sy en glimlag vir die bruid wat opkyk waar sy en Frederik die register teken. Sy sien hoe Diana met fyn aanvoeling frons. Vreemd genoeg is dit die vlinderfraaie Diana wat altyd moederlik besorg is oor haar. Debora beweeg dadelik vorentoe en toe ouma Catharina Mynhard die bruidspaar plegtig gesoen het, buk sy by Diana en vat haar gesig sag tussen haar handpalms. “Jy lyk wonderlik … en ek is só bly om jou onthalwe!”
“Ek wéét,” glimlag Diana hartlik, “maar … is jy orraait?”
Debora streel oor haar wang. “Baie orraait, my sussie! Vanaand dans ek Meulenhof se stoepe blink!”
Frederik vang die woorde op en glimlag toe Debora hom ook soen: “Oppas dat jy nie gly en val nie! Daar’s vanaand baie Mynhard-arms wat jou gretig sal vang!”
“Ek sal buitengewoon versigtig wees!” antwoord sy sedig en hoor hoe Theron Mynhard langs haar lag.
En in die motor op pad na Meulenhof waar die onthaal gehou word, moet sy dit ontgeld. Theron is nie ’n maklike man nie, dit besef Debora effens wrang. Sy moes dit hoeka geweet het. Hy’s immers ’n Mynhard. Hy sit naby aan haar, haal kasueel die fyn confetti-bloeisels uit wat in haar lang hare beland het. Hier en daar raak sy vingerpunte aan haar slaap, haar oor, selfs haar nek …
“So ja,” sê hy en glimlag. “Nou kan ek ook sê dat ek al aan ’n advokaat gevat het. Nogal ’n blonde een. Dit was nog altyd my droom, weet jy? Op TV kyk ek altyd alles wat oor die reg gaan en ek mis nie een fliek wat ’n hofsaak bevat nie. Die vroulike advokate is altyd sulke skerpmond, snyerspakkie-girls. Ek vind dit ontsaglik sensueel.”
Debora kyk hom koel aan. “Wat? Die monde of die pakkies?”
“Die kombinasie,” sê hy doodbedaard en sy grys oë wyk nie voor hare nie. “Kyk nou net na jou. ’n Mens sou sweer jy’s in die hof. Dis net die sexy kant-en-chiffon-nommertjie wat ’n mens laat wonder. Want jy is op jou snykant, gereed vir enige inval. Jy’s so paraat dit maak my bang. En ook ’n bietjie opgewonde …”
“A!” val sy hom in die rede. “Jy is dus ’n man wat vir jouself vooruitsigte skep!”
“Hoe so!” vra hy glimlaggend. Dit lyk asof hy absoluut op sy stukke voel en dié besef maak haar opeens witkwaad. Maar haar gesig is onleesbaar, weet sy. Het mos nie verniet jare in die hof gewerk nie. Kan astrante kollegas hanteer. En hierdie man is nie ’n kollega se voet nie. Hy’s bloot ’n man: in volle vaart uit op die jag. Miskien, dink sy, moet ’n mens hom betyds pootjie. Sy glimlag terug, tik hom speels op een bruingebrande hand.
“Jy maak jou eie gevolgtrekkings. Baie subjektief, sou ek sê. Ek lyk maar net paraat. Binne-in is ek papsag …” Haar stem is soet-strelend en sy leun selfs ’n fraksie nader. ’n Geurtjie van haar sagte jasmyn-en-perske-parfuum sweef tussen hulle. Sy sien hoedat hy sy asem liggies en behaaglik intrek.
“Hm …” sê hy. “Verrassend … Soos rooiwyn. Kan robuust lyk, maar dan soos fluweel proe. Maar dis nie die punt nie …”
“Nee,” val sy hom in die rede, “dit is nie. Jy wil hê mense moet wees soos wat jy hulle sien en …”
“Nee, dis jóú forte, Debora!” knip hy haar ferm kort. “Jy is die een wat na mense kyk en hulle netjies kategoriseer. Die regverdige Richters veilig in ’n kluis – en die Mynhards met al hul gebreke in ’n blink glashuis. Of hoe?”
Debora voel die bloed warm in haar hals opskiet. En dié slag wys die konsternasie oop en bloot. Sy byt haar lip voordat sy antwoord. En sy hou haar oë op die trillende gipskruid en klein rosies op haar skoot. Stoot haar vingers vervaard onder die ruiker in. “Luister … Diana het geen reg gehad om dit oor te vertel nie. Dit was kleintyd se woorde … en ek was ’n bietjie jaloers, dis al. My pa het nooit sy eie wynplaas besit nie … enne … die Mynhards het dit alles gehad. ’n Kind verstaan dit nie.”
“Natuurlik nie. ’n Grootmens ook nie, Debora.”
Sy draai haar kop, kyk bedug na hom. Maar sy oë is eienaardig sag, byna asof hy haar jammer kry. En sy lig haar ken. “Ek verskil van jou. Sommige grootmense hét grootgeword. Die Mynhards se skatte laat my nou koud.”
“Nie heeltemal nie, Debora. Jy het ’n sekere beeld van die Mynhards en nou wil jy dit gelykstel aan die werklikheid.”
“Ek …” Maar die woorde stok in haar keel.
“En die beeld en die werklikheid het in dié geval niks gemeen nie. Glo my, asseblief. Die Mynhards is aartssnobs, dis waar. Hulle is skatryk, dis ook waar. Maar hulle kan nie verder getipeer word nie. Daarvoor is die Mynhard-geskiedenis te verwikkeld, te mooi, soms te hartseer …”
Debora se mondhoek pluk effens. “Mense van faam,” sê sy, “soos tant Mynie altyd beweer, word nie met dieselfde maat gemeet as ons ander nie. Dis wat jy wil sê, Theron.”
“Mense van faam …?” Hy skud sy kop en kyk by die motorruit uit na waar die heldergroen wingerde van Meulenhof teen die windverwaaide berghang staan. En net toe hulle deur die groot wit hekke ry, sê hy: “Onthou dat ons later praat oor die verskil tussen faam en vaam.” En toe sy