Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 7 - Helene de Kock страница 14

Helene de Kock Omnibus 7 - Helene de Kock

Скачать книгу

Kersaand daag op sonder dat Alfons naby die Fouchés kom. En dis ’n bedeesde Danien wat saam met haar familie om die Kersboom sit terwyl haar pa vir hulle uit Lukas 2 voorlees. Gaan­de­­weg sypel die stille vrede van dié woorde ook deur na haar wankele gemoed en toe almal saamsing, doen sy dit met oor­tuigde oorgawe. Dis toe hulle begin presente uitdeel dat sy weer skrynend eensaam begin voel. En toe Paul Hough onverwags op­daag met ’n geskenkie vir haar, voel sy amper nog meer alleen.

      “Jy moes dit nie gedoen het nie,” sê sy die geykte woorde en hy glimlag effens.

      “Maar nou het ek, en ek hoop jy hou daarvan.”

      Sy soen hom skrams op die mond en pluk lomp aan die pakkie om dit oop te kry. Dit voel vir haar asof almal se oë op haar hande is, maar ook sy snak na haar asem toe sy die inhoud sien. Dit is bepaald ’n peperduur silwerkraffie en ses kelkies, en toe sy stom-vraend na Paul kyk, sê hy glimlaggend: “Jy gaan verlang na Fleur du Vin as jy eers begin skoolhou. Toe dink ek om solank vir jou ’n kraffie te gee. Die wyn kan jy van die huis af bring en dan kan ons soms so teen skemer iets op die verlange drink.”

      Daar sak ’n bedugte swye waarop Paul onverstoord voortgaan: “Noudat jy in Kaapstad gaan wees, sal ek en van my vriende mos soms vir jou kom kuier. ’n Mens kan nie so ’n mooi meisie laat vereensaam nie. Veral nie as ’n mens weet dat haar pa mos nie ’n kind wat hy op wyn grootgemaak het, dors sal laat ly nie!”

      Almal lag en Danien sug verlig. Paul moet tog nou nie lol nie. Die geskenk is juis te gewigtig vir hul effense verhouding.

      “Dis baie duur,” sê sy skamper. “Jy laat my skuldig voel.”

      “Kom nou, Danien,” keer haar ma verleë, “’n mens ontvang ’n geskenk mos met meer grasie!”

      Maar Paul lag hartlik nog voordat Danien ’n woord verder kan sê.

      “Toe maar, tant Jacomien, ek ken Danien as iemand wat eers die kat uit die boom kyk. Sy vrees dis ’n aanloop tot groter dinge, maar eintlik is dit mos nou ’n goeie basis vir vriendskap as ek die kelkies gee en sy die wyn!”

      “Man,” kom oom Karel tussenbeide, “jy laat my nou baie gevlei voel. Oor my mooi dogter en my lekker wyne. Wag, ek gee jou sommer nou al ’n botteltjie van Fleur du Vin se Chenin Blanc saam. Jy sal dit mos nie hou tot die skole begin nie!”

      Frans beluister die gesprek met stipte aandag. Sy skerp blik gaan van Danien se angsvallige, blosend-verleë gesig na Paul se kalme onverstoorbaarheid. Toe tik hy hom kameraadskaplik op die skouer.

      “Ja, nè? Danien gaan vriende nodig hê as ek en Anel eers weg is Leiden toe. Sy’s gewoond aan ’n ouer broer wat ’n ogie hou.”

      Dit lyk asof Paul baie daarop sal wil sê, maar hy glimlag net stilweg instemmend.

      “Drink saam met ons koffie,” sê tant Jacomien haastig, altyd gou om ’n atmosfeertjie te wil teëwerk. En met die kinders weet ’n mens deesdae nooit, sê haar effens gekwelde uitdrukking. Een oomblik is hulle kalm en volwasse soos hul jare, en net die volgende is daar onderstrominge wat ’n mens verontrus.

      Paul bly nog lank sit en toe hy eindelik loop, wink hy vir Da­nien om saam te kom. Sy trek teësinnig die voordeur agter hulle toe. Vir die eerste maal is hulle alleen en sy voel geheel en al oorstuur. Sy hou van hierdie man. Baie ook. Hy is en bly een van die gaafste, mees gebalanseerde mense wat sy ken. Dis net dat sy wens dat hy liewer op ’n ander planeet gewoon het. Sy kyk hom sprakeloos aan waar hy onder die flou stoeplamp staan, maar toe sy haar asem intrek om te praat, sit hy gou ’n vinger op haar lippe.

      “Sjuut. Moet jou nie ontstel oor my geskenk nie. Dis bloot bedoel om jou plesier te verskaf. Niks meer nie.”

      “Dankie. Dis baie mooi … en … jy is welkom om te kom saamdrink!”

      “Sjoe!” hy lag, “dis nou vir jou ’n manier om ’n ding te sê!”

      Maar dit raak eensklaps stil tussen hulle en sy skrik haar lam toe hy met sy hand sag oor haar wang vee.

      “Nag, mooiste Danien. Droom so ’n bietjie van my.”

      Daarmee draai hy om en binne ’n paar tree het Die Vallei se gitdonker nag hom ingesluk.

      Danien slaak ’n suggie van suiwer verligting en wil net weer in­gaan toe sy ’n sagte fluistering regs van die dik stoeppilaar in die struike hoor: “Haai, kom hier!”

      Sou dit hy wees? Sy tuur stip die donkerte in, maar sien net die flitsliggies van ’n paar vuurvliegies dieper die bosse in.

      “Kom tog nou!”

      Toe eers gewaar sy die wasige wit van ’n figuur net langs die groot struik.

      “Alfons?”

      “Wie anders, my lief?” fluister hy terug.

      Sy weet nie of sy die “my lief” is nie, maar haar bene dra haar geluidloos oor die houtstoep en sy steek haar arms uit toe sy by hom kom. Sy hoor die lae lag in sy keel toe hy haar vasgryp en dieper agter die struik intrek. En die skerp intrek van sy asem net voordat sy mond op hare neerkom en haar kop agteroor knak onder die drif daarvan. Sy skuif haar arms onder sy sterk skouers deur en klem hom vas asof sy hom nooit weer wil laat gaan nie. Hy soen haar wange, weer haar mond en steek sy gesig in die sagte warmte van haar nek.

      “Vier dae,” sê hy gesmoord, “en tien ure, ses minute … Die hemel weet hoeveel eindelose sekondes …”

      “Dit was te lank,” fluister sy.

      “Veels te lank. En ek dag ek moor ou Paul toe hy aan jou wang vat! Moet jy hom so baie sien?” Hy lig sy kop en sy kan net die effense blink van sy oë uitmaak.

      Sy druk haar kop teen sy borskas vas en sug. “Ek nooi hom nie, Alfons. Maar waarom … kom jy nie?”

      Hy raak beeldstil, toe sê hy hees: “Ek kan nie … mag nie … Nie nou al nie.”

      “Wanneer dan?”

      ’n Vensterraam net bo hul koppe skuif oop en hulle versteen. Dis Anel en sy staan ’n oomblik afgeteken teen die lamplig en uitkyk op die nag. Toe draai sy haar stadig om en loop dieper die kamer in.

      “Kom,” sê Alfons vinnig. “Kom ons gaan strand toe dan sit ons op die sand en gesels. Hulle sal dink jy het saam met Paul ge­loop.”

      Hulle loop katvoet oor die klam gras tot in die straat, en sy ril liggies.

      “Ons het nie ’n flits nie. Ek verstom my dat julle ouens so ge­mak­lik in die donker loop. Paul het ook sonder een hier aangekom.”

      “Vergeet Paul,” brom hy, maar druk haar styf teen hom vas.

      “Wat van die nagadders?” wil sy nietemin weet. “Hier’s mos baie!”

      “Ag wag, ons stamp maar net ons voete, dan hoor hulle ons en seil weg!”

      Maar tog, toe haar oë eers die nag gewoond is, kan sy heel goed sien, en hulle stap met gemaklike tred tot by die duinepaadjie wat see toe lei. Alfons loop voor met haar aan die hand, en toe hulle bo-op die duin kom en die strand onder hulle oopgesprei lê in die wit sterlig, voel sy lighoofdig van geluk en skoon betower deur die skoonheid

Скачать книгу