Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 7 - Helene de Kock страница 17
Maar hy was lank stil sodat sy oplaas angstig gevra het: “Is daar fout?”
“Jy weet mos daar is.” Hy het gesug. “As daar nie was nie, was ek en jy nou iewers waar dit lig is en het ons planne vir die toekoms beraam.”
Haar hart het swaar en seer in haar bors geklop.
“Waarom klink jy nou so morbied?” het sy gefluister.
“Ek het alle rede om morbied te wees, Danien. Môre gaan ek terug en die hemel alleen weet wanneer ek jou ooit weer sien.”
’n Swart voorwete het haar gesig laat vertrek soos iemand wat wil huil, en sy was bly dat dit so donker is.
“Waarom,” het sy nietemin beheers gevra, “moet jy môre teruggaan? Dis Nuwejaarsdag …”
“Omdat ek moet,” het hy bot geantwoord. En toe ontstemd: “Ek dag ons het ooreengekom dat jy my nie sal uitvra nie?”
“Ek kan nie anders nie!” het sy opeens driftig teëgekap. “Ek is ’n mens, Alfons! ’n Vrou! En ek het jou lief! Ek wil weet van jou! Alles weet …”
“Dit kan nie, in hemelsnaam!” het hy gedemp uitgeroep en sy hande het op haar skouers neergekom, net om weer teruggepluk te word asof hy dit nie kan verdra om haar aan te raak nie. Sy het yskoud van skrik en ellende geword. Sou hy van plan … of nee, van hart verander het? het sy wildweg gewonder. Maar hy het haar gou gerusgestel. Nie met sy woorde nie, maar met die weemoedige hunkering wat in sy stem deurgeslaan het.
“Luister, Danien, ek wil hê jy moet weer dink. Moenie hierdie verhouding een oomblik langer voortsit as jy dink die eise daarvan gaan vir jou te swaar word nie.”
“Nee!” het sy begin, maar hy het ’n hand opgehou om haar stil te maak.
“Wag. Ek dink nou nie meer jy weet waarvoor jy jou inlaat nie, meisietjie. Ek wil jou hê, glo my. Tot elke prys wil ek jou hê. Maar ek kan vir jou niks beteken nie … tot wanneer eendag. Jy sal my iewers in jou hart moet bêre en baie aan my moet dink, want sien sal jy my nie.”
“Maar ons kan mos met mekaar praat … of skryf …” het sy magteloos gesê, gevoel hoe ’n lamheid in haar oopkol, sodat sy onwillekeurig haar hande oor haar bors gekruis het.
“Nee … Nee, ons mag nie vir mekaar skryf nie en ons mag mekaar op geen manier kontak nie. Nie per e-pos nie, nie per selfoon nie. Nie eers ’n SMS nie! Nooit nie. Dit, Danien, is van die allergrootste belang. Trouens, dis noodsaaklik.”
Hy het koel geklink. Professioneel. Hy kon net sowel ’n stywe praatjie voor ’n klomp studente staan en afsteek het, het sy gedink, en ’n mislikheid het op haar maag begin draai. Sy het haar asem diep ingetrek.
“Alfons, is dit jou manier om ’n vakansieromanse te beëindig? Deur vir my te sê dat ons, wat alle praktiese doeleindes betref, van mekaar moet vergeet?”
Haar stem het tot haar verligting net so koel soos syne geklink, maar iets in sy algehele stroefheid het haar tot besinning gebring. Hulle is nie besig met ’n spel nie, het sy opnuut besef. Wat tussen hulle is, is onteenseglik eg, bo en verby enige flirtasie. Maar wat hulle skei, is groter selfs as dit.
“Ek is jammer …” het sy gefluister en, tot haar konsternasie, gevoel hoe warm trane oor haar wange loop.
Toe het hy haar op sy óú passievolle manier vasgegryp en in sy sterk arms gesus tot sy bedaar het. Want ’n hartseer wat lankal in haar gewoed het, het in snikke en trane uitgekom. Sy was bang. Banger as wat sy nog ooit was. En dit omdat sy liefgekry het. Teen die tyd dat sy besef het dat hy besig is om haar gesig met sy sakdoek af te vee, kon sy weer haar stem beheer.
“Ek sal nooit weer so iets sê nie,” het sy afgemete gesê.
“Ek weet,” het hy getroos. “Ek weet … Dis eintlik my skuld dat ek jou nou só belas. Maar, Danien, ek moes kom om seker te maak dat die droommeisie van my lewe werklik is … En sy is. Jy is … Ek weet nou dat ek jou net so min aan Paul of enigiemand anders sal kan afstaan as wat die see van die sout geskei kan word.”
Daarop het sy gelag, en haar kop in verwondering geskud. Sy was sowaar gek, maar kom wat wil, sy kon nie anders nie.
“Goed, Alfons. Ek sal nie met jou in aanraking probeer kom nie en ook nie verwag dat jy met my in aanraking moet kom nie.”
Hy het diep gesug en amper deemoedig gevra: “Sal jy volgende vakansie weer op Vuurvliegie se stoepdek gaan sit?”
“Hm … En ek sal die dek vee ook.”
“Dankie, Goeie Fee.”
“Ja wel, ons is nou eenmaal met ’n sprokie besig. Snags op die strand in die maanlig en in die bosse, waar die vuurvliegies hul liggies knipper.”
Hy was lank stil en sy het haar kop onder sy ken ingedruk, haar arms styf om sy lyf.
“’n Sprokie,” het hy gemymer. “Maar as kind het ek nooit van sprokies gehou nie, my lief. Sommige was baie wreed. Daar was hekse en goeters. Ek onthou dat tant Fienie dit jare lank luidkeels berou het dat sy my ooit van Hansie en Grietjie vertel het. Ek het glo nagte lank by haar in die bed geklim omdat dit vir my so verskriklik was dat ouers hul twee kinders in die bos kon laat verlore raak en dit net omdat hulle nie genoeg kos gehad het nie. Hemel, kon hulle nie maar ’n ander plan bedink het nie? Nie eens die idee van die lekkergoedhuisie het my getroos nie, want ek het nooit as kind ’n vreeslike soet tand gehad nie.”
Sy moes lag kry vir dié relaas, maar het dit ook vreemd roerend gevind. Sy het op haar tone gestaan en hom gesoen.
“Vergeet van hekse en goeters en verlore kindertjies. Ek is jou Goeie Fee, onthou!”
“Jy is, ja,” het hy gesmoord gesê en sy mond het op hare neergekom en in dié soen was daar verlange en drif en angs en hartseer. ’n Brandende desperaatheid het in haar posgevat. En opstand ook.
“Luister,” het sy oplaas met ’n snak van haar asem gesê, “dit kan nie so aangaan nie. Na die duiwel met sprokies! ’n Mens het méér nodig as praatjies en voornemens en … en beloftes!”
Maar hy was stil en geduldig, sy arms beskermend om haar. “Wat is dit dan nou …?”
Sy het haar moed bymekaar geskraap. “Ek weet ek moet liewer nie vra nie. Of liewer, ek weet nie wanneer ek nie moet vra nie en nou vra ek maar: Waar is die ander dinge in jou lewe heen? Die ware, groter dinge, Alfons?”
“Wat bedoel jy?” Sy stem was weer bedug. Stug selfs.
“Waar was jy Sondae, pleks van in die kerk? Ek het jou nooit daar gesien nie … en dit pla my.”
Tot haar innige verbasing het hy haar stywer vasgehou, met een hand oor haar rug gestreel asof hy iets wou meedeel wat nie woorde het nie.
“Ek weet dit pla jou,” het hy sag gesê. “Dit pla my ook. Maar ek kan jou nie daarop antwoord nie.”
Tog was dit antwoord genoeg. Nie vir haar kop nie, maar vir haar hart. Sy het nie verstaan nie, ook nie toe hy haar later in die skadu’s van die bosse langs hul huis tot siens gesoen het nie. Tog het sy daardie nag en baie