Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock страница 13
Dis die sagte, hees roep van ’n uil wat haar worstelende gemoed tot bedaring bring. Sy het hom ander nagte ook gehoor, iewers in die wilgers aan die rivierkant van die erf. ’n Ruk lê sy gedagteloos en luister na die hol verlange in die klank en toe, roep vir roep, bring die uil vir haar die nag by die holkrans terug. Toe was daar ook een wat veraf geroep het …
Dit was ure na middernag en die meeste mense het al die slaapsakke langs die vure begin opsoek. Ook Karel was doodmoeg en het tussen Anna en Jessica gesit en dut terwyl hulle fluisterend oor sy kop gesels. ’n Paar tieners het nog kort-kort uitgebars van die lag en iewers het iemand ’n yl deuntjie op ’n blokfluit gespeel. Later het Anna ook teruggesak teen twee groot kussings en glimlaggend weggeraak terwyl Jessica nog besig was om haar op ’n studentestaaltjie te vergas. Sy het na Karel geloer en gesien dat hy nes sy ma boedel oorgegee het. Jessica het geglimlag en hulle met een van die lappieskomberse wat Anna saamgepiekel het, toegegooi. Sy self was niks vaak nie. Dit was asof die Oujaarsnag in die berge ’n greep op haar gekry het, haar ingestem het om die fynste geluidjie te hoor, die ylste briesie op haar vel te voel. Die na-geure van die feestelike braai het nog die lug vol gehang en sy het opeens gewens dat Karel wou wakker word om met haar te gesels. Maar hy was roerloos aan die slaap, moeg van die lang dag op kantoor en die vorige nagte se sittery by die droogoond.
Jessica was later stram gesit en het opgestaan om by ’n paar dogters langs ’n gloeiende hopie kole te gaan gesels. Gawe kinders wat haar geesdriftig oor die lewe op universiteit uitgevra het. Af en toe het die groepie vakerig stilgebly en geluister na die hol hoe-hoe van die uil iewers onderkant die bek van die grot. Een van die kinders het begin spookstories vertel en Jessica het saamgelag en drie bekers soetwarm koffie gedrink toe die nanag-bergluggie begin knyp.
Later het sy geamuseerd toegekyk hoedat die kinders kopknikkend in hul reisdekens begin insluimer. Sy het nader aan die smeulende vuur geskuif, ’n rukkie ingedagte met ’n stokkie aan die buitenste persrooi kole gekrap en toe besef dat die baie koffie ’n tol gaan eis. Sy het suutjies opgestaan en haar pad tussen die slapendes deur al met die grotwand na buite gevoel. ’n Oomblik het sy gehuiwer, nie doodseker van die rigting wat sy moet inslaan nie, al het Anna met die aankomslag al beduie waar die rietskerm is. In die flou flikkering van die grot se kant af kon sy wel ’n opening in die bosse uitmaak. Dit moes die paadjie rietskerm toe wees.
Sy het versigtig koers gekies soontoe. Haar seilskoene het klein knarsgeluidjies op die klipperige grond gemaak en dit wou-wou voel asof sy opdraand loop. ’n Entjie die donkerte in het sy benoud gaan staan en omgekyk om te sien of sy nog die vuurgloed by die grot kon gewaar, want die paadjie het skielik geswenk. Dit was stikdonker om haar. Eers toe sy opkyk, het sy bewus geword van die silwer mistigheid van die maanlig. En toe het sy dit gehoor. ’n Harde intrek van asem en ’n gemompelde dog hoorbare verwysing na weerlig. Sy het haar yskoud geskrik, blindelings omgevlieg om terug te hol – en met ’n harde hik teen ’n ander menselyf gebots. Sy het haar asem ingetrek om te gil, maar ’n sterk hand het oor haar mond gesluit en die ander arm het haar vasgepen gehou. Toe ’n ergerlike fluistering teen haar gesig. “Sjuut, my magtig! Wil jy hê die hele distrik moet weet waarheen jy op pad is?”
Sy het ’n soet aarbeigeur in die warm asem teen haar wang onderskei en skielik verslap. Kiewiet. ’n Oomblik het sy teen sy bors geleun, skoon lam van die skrik. Toe het sy verleë weggebeur. Vir wat het die man haar rietskerm toe gevolg? Maar hy moes haar gedagtes gehoor het, want hy het saggies gelag.
“Jy het die verkeerde koers ingeslaan, professor. As ek jou aanhou volg het, was ons nog voor dagbreek in Lesotho! Gelukkig dat ek opgemerk het hoeveel liters koffie jy weggeslaan het. Nou kan ek vir jou sê die rietskerm is dááikant toe!”
’n Oomblik het Jessica nie geweet of sy hom moet verwurg of bedank nie. Sy het ’n yslike gek gevoel. Maar toe het dit weer gebeur: die wilde streep in haar het uitgeslaan nes daardie aand in haar eerste jaar toe sy Daniël ontmoet het en sy die hef in die hand gehad het. Sy het sonder ’n woord haar hande in die donker gelig en haar vingers het al met sy ken langs tot oor sy lippe gesoek tot sy die stokkie gevoel het.
Maar hy was te gou vir haar, het die lekkergoed vasgebyt en deur geklemde kake gelag. Toe hoor sy hom die suigstokkie smakkend uit sy mond haal en hy trek haar tot teenaan hom om te fluister: “Vir ’n slim akademikus is jy danig deursigtig, Jessica. Enige ou skoolmeisietjie sou dit ook probeer het.”
Sy was op die plek kokend kwaad en sommer vies vir haarself ook. Sy was laf om met Loek de Jager ’n ou grappie te probeer maak. Want hy speel hy’s Kiewiet, maar eintlik is hy Loek, daarvan was sy nou doodseker. Verwaand en egoïsties. Hy met sy mooi gesig …
“Jy is heeltemal reg, Loek de Jager,” het sy driftig teruggefluister. “Ek moes geweet het dat jy dit as ’n poging tot flirtasie met televisie se gewildste nuusman sou beskou! Maar ek het vir ’n oomblik gedink dat ek met Kiewiet te doene het, sien?”
Sy kon sy liggaam byna voel stug word en wou verby hom druk om terug te gaan. Maar hy het haar arm swyend beetgekry en haar ferm agter hom aan getrek tot nader aan die ligkring van die grot waar die paadjie gevurk het. Kiewiet het haar ’n ligte stootjie na links gegee. “Die rietskerm is net anderkant daardie rots. Ek sal kywie hou.”
“Wat?” ’n Vuurwarm blos het in haar nek opgeskiet. “Dis nie nodig nie, dankie.”
“Ja, dit is,” het hy gesê. “’n Hele paar omies het kanne koffie uitgedrink toe die pratery netnou oor die politiek gegaan het. Hulle sal op ’n streep rietskerm toe kom, dit verseker ek jou.” Om sy woorde gewig te gee het hy haar liggies tussen die blaaie getik en sy het sonder ’n woord omgedraai en haar weg gevind.
Daar het ewe ’n lantern gebrand en die skerm was so opgeslaan dat dit ’n hoek vorm met die wand van ’n rots. ’n Klein watervalletjie het fluisterend in ’n hol klipkom by die ingang gedrup. ’n Skoon stroompie, net genoeg vir hande was. Eenkant het iemand selfs ’n koekie seep neergesit. Toe sy terugkom, het hy nog geduldig buite die ligkring vir haar gestaan en wag, al kouend aan die laaste stukkies van die suigstokkie.
“Dankie,” het sy styf gesê. “Dit was baie gaaf van jou.”
“Ag, nee wat,” het hy geglimlag. “My ma het my gevra om ’n ogie oor jou te hou en ek maak maar liefs altyd soos sy sê.”
Sy was op die plek afgehaal en het onwillekeurig met haar tong geklik. “Nou dankie vir die opoffering, hoor!”
Hy het haar weer aan die arm beetgekry en nader getrek, sy kop afgebuig sodat hy sag kon praat. “Dit was ’n grappie, Jessica. Maar sien, ek het ook die fout gemaak om te dink ek terg vir Jessie, terwyl ek eintlik die proffie vies maak vir my!” En toe sy botstil staan en opkyk na hom, het hy luiters die ritssluiter van haar windjekker tot onder haar ken opgetrek en veerlig met ’n vinger oor die brug van haar neus gevee. “Askies, professor, hoor! Sal nie weer vergeet dat jy baie meer geleerd as ek is nie!”
“Sies, Kiewiet, jy maak nie mooi nie,” het sy spontaan geprotesteer. “Van Loek sal ek dit dalk nog verwag, maar nie van jou nie.”
Dis toe dat hy haar stewig aan die skouers vasgevat het en speels geskud-skud het. “Nou maak jy ook nie mooi nie, Jessie! Maar dis te ’n gewigtige onderwerp waarmee ons nou besig is. Dit wil voorkom asof ons albei ’n identiteitskrisis beleef, maar hierdie nag gaan te kort wees om dit uit te pluis.