Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock страница 9
“Maggie … Hil …?” lag Adam en snap toe. “Dáái twee tannies is mos al ou nuus!”
“Staak dit, Kiewiet,” erg Karel hom sommer, maar Adam lag net, knipoog vir Jessica.
“Toe nou, Kareltjie, jy weet mos Kiewiet is mal oor ’n vrou se intellek. Veral as die omhulsel so onweerstaanbaar is. Jy moet bly wees dat die slim meisies mos nie eintlik vir hom val nie!”
“Hoe weet jy?” wil Kiewiet met ’n lui laggie weet en teug stadig aan sy sjerrie. Maar voordat iemand hom kan antwoord, kom Anna en Jansie binne met geurige skottels wat op die rooi tafeldoek tussen die lang wit kerse neergesit word. Anna wys dat Jessica tussen Kiewiet en Karel moet sit en toe almal hul stoele intrek, is die kring om die groot ronde tafel voltallig.
“Sien, jy hoort hier,” glimlag die lieftallige Jansie met Jessica en ook Anna beaam dit kopknikkend. Adam en Karel glimlag ook met haar; net Kiewiet sit met sy ken so effens gelig, byna soos wanneer Loek de Jager iets so diplomaties moontlik oor twistende partye moet kwytraak. Tog pla dit Jessica nie. Sy voel knus tuis in die skemer kring van die flikkerende kerse.
Sy tuur peinsend na die ritse rooi kannas wat Anna kunstig om die koperkandelare gerangskik het, kyk na die silwer dennebolle waarin sy met keurige eenvoud die rooi servette gesteek het. En sy luister met ’n diep en dringende behoefte na die Vredesverhaal soos wat Adam dit in sy rustige stem vir hulle voorlees. Ook toe Kiewiet sy hande sonder skroom na haar en Anna uitsteek om die tafelgebed te doen, vou sy haar vingers gemaklik om syne.
Toe hy amen sê en Anna die kring breek om te begin inskep, kyk sy half gefassineerd na hom, dink aan die warm opregtheid waarmee hy gebid het: “… en wees U self hier in ons midde, seën en behoed ons …” Hy vang haar blik vas en ’n stonde is dit asof Kiewiet se skadu met hom saamsmelt en sy kyk diep in mooi Loek de Jager se blinkswart oë. Maar toe sy bly kyk, lig die geboogde wenkbroue ’n aks en die oomblik kry ’n krakie.
Jessica draai met ligte skrik na Jansie om haar bord aan te vat en begin dadelik met Karel gesels. Toe almal geholpe is en begin eet, kyk hy ondersoekend na haar en plaas ongemerk ’n hand vlugtig oor hare. “Lekker eet, Jessica,” sê hy bedaard. “Moenie dat ons klomp jou op hol jaag nie.”
Kiewiet het elke woord opgepik en hy tik haar ook ligweg met die wysvinger op haar hand wat die mes vashou. “Ja nee wat, proffie, ons ou spul is werklik niks om oor opgewonde te raak nie. Jy sal nog agterkom dat niemand …”
“… iemand is hier op Populier nie?” val sy hom koel in die rede, en Adam en Jansie bars uit van die lag, te meer toe sy skalks byvoeg: “Dit mag jou ervaring wees, Kiewiet, maar ek voel buitengewoon spesiaal hier tussen julle.”
“O, ek is bly,” glimlag Anna en daarmee is die effense spanning rondom die teenwoordigheid van Loek de Jager ook gebreek. Niemand verwys eens na hom nie en die aand rek gesellig uit tot kort voor twaalf, toe Jansie vakerig met haar swanger lyf teen haar man aanleun en aankondig dat sy nou gaan slaap.
Die Kersoggend is helder soos sjampanje toe die mense in groepies buite die kerk staan en gesels. Baie nuuskierige blikke rus op Jessica en Karel. Dis warm, vriendelike mense wat lekker lag toe Kiewiet grappenderwys beduie dat hulle respekte vir haar moet hê, want sy’s ’n proffie. Maar niemand vra veel uit na haar status nie en dis gou duidelik dat Populier se leuse ook hier geld.
Loek de Jager bestaan ook nie hier nie. Hulle Kiewiet hom voor en agter, die tannies klapsoen hom en die ooms klop hom goedkeurend op die rug toe hy beduie hoe hy en Karel snags bontstaan voor die oond. Hier en daar giggel die opgeskote dogters as hy in hul rigting kyk, maar origens kon hy net sowel Jan Rap gewees het.
Tuis kom drink die buurmense tee en smul aan Anna se veerligte melkterte. Die middagmaal word onder sambrele op die groot grasperk geëet en dit word ’n Kersdag om vir altyd te koester. Dit moet, dink Jessica toe sy bed toe gaan, werklik wonderlik wees om deel te word van ’n gesin soos Anna Malan s’n. En vir die eerste maal swiep ’n sware spyt deur haar omdat sy nie vir Karel voel wat sy hart na vra nie.
Sy wag nog ’n dag en skakel toe vir mevrou Geyer om te hoor of sy al tuis is. Die ou dame klink hoogs opgewonde toe sy Jessica se stem herken. “Kind! Jy moet gou terugkom! Hier het al die allermooiste man na jou kom soek. Ene Daniël Krause. Jessie, is dit nou hý?”
Dis Anna wat haar in die gang aantref waar sy slap teen die muur aanleun, wat een kyk na haar ontredderde gesig gee en vir haar tee in die kombuis loop maak. Maar sy vra niks uit nie. Ook nie toe Jessica oplaas stamelend vra of sy nog ’n paar dae kan bly nie. Sy glimlag net. Jy bly, ja. Bly tot jy reg is om te gaan …
4
Hierdie Karel het kaliber, dink Jessica vir die soveelste maal sedert sy by mevrou Geyer gehoor het dat Daniël nie op hom laat wag het nie. Dat hy met sy innemende glimlag by haar losiesplek opgedaag het om haar te sien.
“So asof julle nog laas in soete harmonie uitmekaar is,” snork Karel minagtend toe hy een aand teen skemer saam met haar gaan stap.
Jessica byt op haar lip en haak gemeensaam by hom in. Die afgelope dae is dit asof hy innerlik bedaar het, want die arm wat hy dadelik om haar skouers slaan, is broederlik vertroostend. Al weet sy dat dit hom iets moet kos. Jare se stil, stuwende bewondering sal nie in ’n goeie man se hart sommer weer gaan lê nie.
Toe hulle ’n kwartier later met hygende asem tot bo-op ’n sandsteenkoppie klouter, tuur sy oor die bosse populiere en die rooiblink plaasdam wat onder hulle lê, en sê: “Jy is my heel beste vriend, Karel Malan.”
“Ek weet,” sug hy, “en dis nie maklik nie.”
Die woorde is so warm, so eg dat daar trane in haar oë spring. “Wat moet ek tog doen?” fluister sy. “Ek sal hom byna elke dag by die Regsfakulteit raakloop. En … ek sal nie weet of ek moet lag of huil nie.”
Hy knik sy kop gewigtig en sy mond vertrek effens. “Die waarheid word selde in flitse geopenbaar, Jessica. Om te weet wat is wát in die lewe, moet ons bereid wees om deel van ’n proses te word.”
Sy staar hom vraend aan, vee met haar handpalms die trane weg. “Hoe bedoel jy nou?”
Hy blaas sy asem hard uit en toe hy praat, is sy stem laag en gedrewe. “Ek bedoel dat ’n mens moet bereid wees om te soek as jy wil vind. Dis immers wat ek gedoen het toe ek jou hierheen saamgebring het.”
Sy byt haar lip vas, voel hoe haar ken beef. “Maar nou het jy nie gevind nie, Karel. Dit was verniet …”
Hy trek haar met een haal teen hom vas en vou haar toe asof sy ’n bang kind is. Sy laat hom begaan; voel die warm, wrang emosie wat hom noop om teen haar hare te fluister: “Maar dit was nie verniet nie, Jessica. Ek het immers die waarheid gevind.” Hy laat sy arms sak en sy staan effens tru, kyk op in sy oë.
“Watter waarheid? Die een wat jy gesoek het?”
“Nee, natuurlik nie,” sê hy en vee ’n stringetjie los hare van haar voorkop af weg. “Die waarheid is dat jy nie vir my bedoel is nie. Jou hart is elders, al weet jy self dalk nie waar nie. Die waarheid is ook dat ek wel my weg sal vind sonder jou, maar ook dat ek altyd daar sal wees vir jou. Maak dit vir jou sin?”
Sy knik stadig en ’n glimlag roer om haar mond. “Ek wil