Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock страница 7
Sy vee sweet van haar voorkop af en stoot die vensterraam op om die basserige gedreun van die droogoond binne te laat. Karel sit sekerlik nou nog daar en oondtemperature dophou sodat die koring nie brand nie. Oestyd moet die seuns maar hand bysit, het Anna sugtend gesê. Stephen is baie knap, maar hy kan nie als alleen doen nie. Dit was gisteraand aan tafel, toe sy en Karel albei net aan hul kos gesit en pik het na hul gesprek oor Daniël se terugkeer. Maar nie Jessica of hy was in staat om hul ontstemdheid te verbloem met allerlei geselsies nie. Ook Anna het later geswyg, maar haar groot, kalm oë het hulle speurend bekyk. Toe sy en Jessica later kombuis toe is met die vuil borde, het sy net gemaklik gesê: “Vertel my wat kook in jou binneste, Jess.”
Tot haar eie verbasing het Jessica begin praat. Woord vir woord het die skrik uit haar gemoed gedrup. En Anna se sagte, uitdrukkingsvolle oë het haar stilweg vasgehou totdat sy klaar was. Toe het die vrou ’n nat vadoek met ’n klapgeluid uitgeskud en nog koffie gemaak.
“Kom sit hier by die tafel, dan praat ons,” het sy gesê.
“Ek weet nie wat om nog te sê nie,” het Jessica lammerig geopper, maar die beker stroopsoet koffie by Anna aangevat. “En ek weet waarlik ook nie hoe ek daaroor voel dat Daniël … dat hy ook op Potch sal wees nie. Ek het hom laas gesien voordat hy weg is Holland toe. En toe was dit nog alles hartstogtelik wel tussen ons …” Haar stem het klein geword, weggeraak.
“Jy voel steeds hartstogtelik, Jessica. Ek dink nie jy het deur die jare heen jou hart ooit lééggemaak nie. Anders sou die nuus dat hierdie Daniël Potch toe kom, jou nie so ontstig het nie.”
Jessica het haar net magteloos aangekyk, haar kop geskud. “Ek is jammer, Anna. Ek behoort nie hierdie dinge vir jou te vertel nie. Maar jy is nes Karel jou beskryf het. Jy … kry dit reg om ’n mens oop te sluit. Miskien moes ek nie hierheen gekom het nie. Want Karel hoop dat …”
“Ek weet,” het Anna gesê, haar hand paaiend op Jessica se arm gelê. “Tog is dit vir hom en vir jou albei goed dat jy wel gekom het. Al die jare het hy sy bewondering vir jou opgekrop en moes jy hom maar op ’n afstand hou, nie waar nie?” En toe Jessica net knik: “Karel is ’n groot man. Hy weet waarvoor hy hom ingelaat het.”
“Ek is so jammer, Anna. Ek wil tog werklik nie hê dat hy moet seerkry nie.”
“Dit weet ek ook, Jess. Maar jy moet nooit verskoning maak vir jou liefde nie. As jou hart steeds by Daniël lê, kan jy dit nie verhelp nie.” Die vrou se mond het skielik weerloos oopgegaan: “Net so min … as wat ek dit kan verhelp dat ek vir Kiewiet se pa die heel liefste was van al die mense in my lewe. Gert, Karel en Adam se pa, het dit ook geweet en verstaan. Karel sal maar ook moet leer verstaan.”
Dis toe dat Jessica dit sommer uitblaker: “Hy’s hier. Kiewiet, bedoel ek. Ek was daar by sy plek en …”
“Ek weet, ja,” het Anna sag geglimlag. “Toe jy daar weg is, het hy hierheen geskakel en gesê ons moet kyk dat ons gaste nie laataand oral ronddwaal nie!” En toe Jessica na haar bly staar: “Hy weet wie jy is. Karel het foto’s van jou – glo steels geneem deur een van sy vriende. Een waar jy met ’n kollega voor die Ou Lettere staan en gesels en ’n ander waar jy by ’n debat in die amfiteater optree.”
“Nou toe nou,” moet Jessica verleë lag. En toe op ’n sober noot: “Waarom het julle my nie maar vertel dat Kiewiet eintlik Loek de Jager is nie? Vind julle dat mense dit moeilik aanvaar?”
“Ja en nee,” was Anna se effe argelose antwoord. “Dit is soms so dat mense te beïndruk is met Loek. Nie dié wat hom van kleins af as Kiewiet ken nie, maar die duisende ander wat nou almal ’n stukkie van hom wil hê. Dis nie dat ons dit juis doelbewus verswyg nie, dis net dat …”
“Niemand juis iemand is hier op Populier nie?” het Jessica geglimlag. “Dis tog wat Adam ook gesê het!”
“Ja,” het Anna geknik. “Dit is so dat Adam en Karel trots is op Loek, maar nie meer as wat hy op hulle is nie. En ek het my drie seuns ewe lief en daarom is Loek hier net sommer Kiewiet, net soos wat hy was voordat hy bekend geraak het. Dis makliker vir my so. Jy het seker opgelet dat ons byna nooit televisie kyk nie. Ek lees van altyd af liewer koerant. Dis kompleet of ek Kiewiet nie herken op die skerm nie en dit ontstig my ’n bietjie om hom so … so glad en sjarmant te sien.
“Dit was met Lukas ook so, weet jy. Loek se pa. Hy was ook so verskriklik mooi. En hy het dit net so verpes as mense daaroor ’n aanmerking maak. Hy was veral wild vir vroumense wat deur sy voorkoms betower is. Jy sien, Lukas was …” Haar woorde het weggeraak en sy het lank haar mond dig saamgepers. “Lukas was … geheel en al sonder klatergoud. En sy hart was verknog aan die aarde wat vir hom so wonderbaarlik mooi was.”
“Wat het dan gebeur?” het Jessica gevra, ’n kramp van jammerte in haar bors. Anna se hele gesig was deurspoel van verlange. Kan ’n mens so liefhê, het sy gewonder en geduldig gewag totdat die vrou se woorde weer hortend begin kom het.
“Ek het Lukas een vakansie in die Kaap ontmoet. Hy het toe al hier op Populier geboer en ek was pas klaar met my eerste jaar op Stellenbosch. Dit was liefde, Jessica. Onmiddellik en onstuitbaar.” Die groot oë was vol besadigde kalmte, die skraal hande koesterend om die koffiebeker gevou. Dit is nie ’n ontboeseming nie, het Jessica besef. Dis bloot die gestroopte feite van ’n liefde wat die tyd getroef het.
“Dit klink asof dit wonderlik was,” het sy gefluister.
“Dit was, ja. Ons is drie maande later getroud – teen almal se sin in. Ek was so bitterlik jonk. Maar ons liefde het alles bedek – my onervarenheid, sy diep lewensdrif, jare se droogte en toe die vloed wat amper alles weggespoel het. Maar dit was alles niks. Niks. Ons het mekaar gehad.”
Sy was ’n oomblik stil.
“En … toe was daar die nag van die storm. Ek was vier maande swanger met Kiewiet en alleen by die huis. Lukas was lande toe met die motorfiets om na die koring te gaan kyk. Dit het toe al diepgroen in die voortjies gestaan.” Sy het sidderend gesug. “Daar was een verskriklike slag en toe die reën. Ure later het Gert Malan my kom sê Lukas is op die land langs sy motorfiets deur die weer doodgeslaan. Die werksmense het hom daar gekry, maar was te bang om my te kom sê. Gert was ons buurman en ook ons beste vriend.”
“Adam en Karel se pa?”
Anna het net geknik, die leë bekers geneem om dit uit te spoel. En Jessica het geweet: daar was niks meer te sê nie. Die storie het homself verder vertel. Anna Malan het haar drie seuns grootgemaak en tot op heden oomblik verlang sy smagtend na Lukas de Jager. Jessica bly op die koel vensterbank sit tot haar lyf stram is. Toe gaan sy lê, maar die slaap kom nie. Tot die groupienk voorloop van die dagbreek worstel sy met ou en nuwe gedagtes. Wat kom Daniël op Potch soek? En hoe gemaak met Karel en sy liewe ma aan wie sy binne dae verknog geraak het? Mense wat haar toevou met die deernis waarna sy so verlang het die afgelope jare. Al het sy dit nie so mooi geweet nie.
Later staan sy op, gaan stort en trek ’n wit kortbroek met ’n geel kortmoutruitjie aan. Haar hare bind sy met ’n geel strik laag agter in haar nek vas. Toe glip sy deur die skemer gang kombuis toe om vir haar koffie te maak. Maar Anna is haar voor. Kiewiet ook. Hulle sit in gemeensame stilte by die kombuistafel met hul bekers koffie en van Anna se rysige wit beskuit. Anna het nog haar blou kamerjapon aan, maar Kiewiet was klaarblyklik nooit bed toe nie. Het seker heelnag by die oond gehelp. Hy staan op toe sy inkom en sy sien hoe stowwerig