Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock страница 15
Hy haal sy sakdoek uit, vee haar wange af asof sy ’n kind is en lag saggies. “Om te dink dat ek so dikwels gedroom het ek vee jou trane af,” sê hy. “En nou kan ek jou tog nie waarlik troos nie. Nee, Jess, jy sal moeilik vergeet, maar as jy hom nog liefhet, kan jy hom vergewe. Dis immers die weg van ware liefde, dan nie?” Hy sit ’n vinger op haar lippe toe sy wil antwoord. “Dink daaroor. Later praat ons weer. Intussen het ek iets vir jou gebring. Jy verjaar mos volgende week.”
Sy kyk na sy sterk, jong gesig in die halflig van die straatlamp, verwonder haar dat hy so baie na Kiewiet trek en tog ook nie juis nie. Hul mond het dieselfde vorm, maar om Karel s’n is daar onskuld en teerheid. Kiewiet se mond het lyne, spore wat bedek; Karel is so oop, so geheel toeganklik. Sy leun impulsief vorentoe en soen hom op sy wang toe hy ’n pakkie na haar toe uithou, maak dit gretig oop. Dis ’n boek deur ’n bekende teoloog. “Die Dawidsman,” lees sy hardop en kyk met ’n vraende glimlag na hom.
“Lees die subtitel,” sê hy saggies. Sy maak so en verstil ontroerd. Die man van kaliber, staan daar. Die man na die hart van God. “Die boek het my aan jou laat dink, Jess. Jy wat so met jou hart dink en met jou kop voel.”
“Hoe bedoel jy nou?”
Hy sug kopskuddend. “Jy soek na ’n man van kaliber, Jessica. Jou hele wese hunker na hom. Ek sien dit mos. My ma het dit ook gesien. Jou vereistes is ontsettend hoog. Dalk werp die boek ’n bietjie lig op wat kaliber werklik is.”
Sy staar na hom, dink na oor sy woorde. “Jy dink dus dat ek te veel eis van die lewe. En van die man wat ek hoop my gelukkig sal maak?”
“Nie noodwendig nie. Die kwessie is om te besluit met hoeveel kaliber jy bereid is om saam te leef. Ek het so hier en daar in die boek gelees, en weet jy, nêrens is volmaaktheid ’n voorvereiste vir gehalte nie.”
Sy druk die boek styf teen haar bors vas, vra oplaas. “Wat wil jy vir my sê, Karel?”
“Net dit: stel jouself weer oop vir die lewe, Jessica. Mans is net mense. Vroue ook. En ons moet almal ’n kompromis met onvolmaaktheid aangaan. Jy moet óf geheel alleen leef óf iemand heelhartig tegemoetgaan.”
“Watter iemand?” vra sy ’n bietjie moedswillig.
“Ek, natuurlik,” antwoord hy doodgaaf, maar klim dadelik uit om die deur vir haar te kom oopmaak. Toe sy langs hom staan, buk hy af en soen haar liggies. “My beste professor, daardie iemand sal jy wel self kies en dan sal jy ook jou keuse liefhê. Jy is so ’n soort vrou.”
Die woorde maal die hele week deur haar en sy betrap haarself dat sy eenkeer op die stoep van die Ou Hoofgebou vassteek toe sy Daniël onder by die spuitfonteine in gesprek met ’n paar studente gewaar. Sy staar na die geelwarm sonlig op sy hare, skrik lig toe hy sy kop agteroor gooi van die lag. Hy sien haar en verstil so ooglopend dat die studente sy blik volg. Maar sy lig net ’n hand ongeërg en stap weg.
Die oggend van haar verjaardag kom maak mevrou Geyer haar wakker met ’n botteltjie Franse parfuum waaraan Jessica eendag waarderend staan en snuif het toe hulle twee saam dorp toe was.
Sy tik-tik van die sagte jasmyngeur oral aan haar lyf. “O, nou gaan ek darem verleidelik wees!” spot sy en soen die ou dame wat haar goedig staan en bekyk.
“Dit was jy sekerlik nog altyd, Jessica. Geen wonder die mans kan hul oë nie van jou afhou nie. Ek sien Sondag na Sondag hoe daardie blondekop-professor vir jou bo van die galery af loer.”
’n Warm blos stoot in Jessica op en sy vou haar kamerjas stywer om haar lyf. Sy kan dit immers nie ontken nie. Daniël Krause sit elke erediens bo by die orrel, sodat hy ’n mooi uitsig op die middelblok het. Sy haal net haar skouers op, sê stug: “Daniël kyk vir al wat rok dra, mevrou.”
Mevrou Geyer klik fyntjies met haar tong, maar nooi haar na die groot huis se kombuis vir ’n spesiale verjaardagontbyt. Plaatkoekies met ’n visvulsel en heerlike vrugteslaai, en om haar bord is daar ’n kransie pienk rankrosies.
Jessica se gemoed skiet onverwags vol en haar mond beef toe sy praat: “Ek … was darem baie gelukkig om hier losies te kry.”
“Ek is ook bevoorreg,” antwoord mevrou Geyer glimlaggend. “Dis so lekker om jou hier te hê. Maar Jessie, jy moet ’n ou vrou vergewe as sy aan jou torring.”
“Torring maar,” lag Jessica en begin smaaklik eet.
“Ek wil jou graag werklik gelukkig sien, kind. Ai, ek sal darem graag wil sien hoe lyk daardie pragtige oë van jou as jy die dag regtig verlief raak!”
“O nee! Dit hét mos al met my gebeur en ek gaan nie weer daardie fout maak nie.”
’n Oomblik betrag mevrou Geyer haar fronsend. “Kind, jy moet onthou dat dit die soort fout is wat mens oor en oor maak.”
Jessica sluk haastig ’n lepel vol papaja weg en wil nog stry, toe lui die voordeurklokkie. Mevrou Geyer gaan maak oop en kom terug met ’n hele gerf bruidswit gipskruid wat met ’n vlamrooi strik saamgebind is.
“Vir jou!” roep sy opgewonde uit. “En ’n kaartjie.”
Toe Jessica haar arms uitstrek om die wasige ruiker aan te vat, voel haar elmboë lam. Sy hoef nie die kaartjie te lees nie. ’n Bewing sprei deur haar lyf, laat die ragfyn blommetjies tril sodat mevrou Geyer dit by haar vat om in water te steek. Sy vou die kaartjie stadig oop en haar hart begin soos ’n klok in haar binneste lui toe sy dit lees: Vergewe my, maar op hierdie dag kon ek dit nie weerstaan nie.
Sy gaan soek Daniël in sy kantoor in die Ou Hoofgebou. Hy kyk op toe sy op die drumpel bly huiwer, maar kom dan nader, steek albei hande na haar uit. Sy vee net vlugtig met haar palms oor syne en sê bedaard: “Baie dankie vir die blomme, maar miskien moes jy dit nie gedoen het nie.”
Sy oë verdonker toe hy gedemp uitkry: “Ek weet, ja. Maar ek wou méér as net geluk sê.”
Herinnering kramp deur haar. Daar was ’n ander verjaardag toe daar niks was wat hom gekeer het om te sê hoe hy voel nie. O, ek wens dat alles anders kon wees, was sy luide versugting. Ek wens ons kan maak wat ons wil!
Hulle het ook op die reënnat Saterdag onder ’n rooi sambreel deur die strate gedrentel, verby ’n kerkgebou waar die groot deure meteens oopgeswaai en jubelende orrelmusiek uitgestroom het. Hulle het verras vasgesteek, na mekaar geloer en onbeskroomd nader gestaan om die trouery te bekyk. Mense het laggend in hul kisklere in die siftende reën gestaan en wag op die verskyning van die bruidspaar. Jessica het haar asem hoorbaar ingetrek toe sy die bruid gewaar. Miskien was dit die mistigheid van die sluier, dalk die skynsel van geluk op die meisie se gelaat, die fyn ylheid van die bos gipskruid wat sy vasgehou het, maar dit het kompleet gelyk asof sy swewe.
Sy het op daardie oomblik oor die see van gesigte onder die trappe gekyk en die paartjie onder die rooi sambreel gewaar. Sy het na hulle gestaar en geglimlag, en met ’n impulsiewe gebaar het sy die groot bos gipskruid na hul kant toe gegooi. Jessica het met ’n soet opwelling van gevoel gesien hoe die wasige ruiker met sy dun rooi lintjies op haar afkom en haar arms onwillekeurig oopgemaak om dit te vang.
Die mense het vrolik gelag en opmerkings na hul kant toe gemaak. Maar sy en Daniël het nie gehoor nie. Hy het die sambreel oor hulle laat sak en haar bo-oor die wit blommetjies gesoen, eers weer tot verhaal gekom toe die mense verby hulle begin druk en die nuwe egpaar laggend in ’n ou Volksie klim om weg te ry.