Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock страница 18

Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock

Скачать книгу

een onbesonne nag wat tot ’n ander gelei het …”

      “Maar waarom?” hou sy vol en haar oë hou syne, hou dit en wag dat sy blik hare moet ontglip. Maar dit gebeur nie. Hy leun selfs nader aan haar sodat sy die liggrys strepies in die blou irisse kan uitmaak.

      “Jess, daar was geen rede nie. Geen enkele, sinvolle verduideliking wat ek kan aanvoer nie. Dis juis wat dit so verskriklik maak. Ek was desperaat van verlange na jou, depressief van die lang, nat winter, maar bowenal, Jessica, was ek swak. Swak … ek het nie eens probéér weerstand bied teen Danina se dwingende attensies nie.”

      Jessica klem haar koffiebeker styf vas en kyk weg toe sy vra: “Was sy vir jou baie mooi? Ek bedoel, was dit goed tussen julle?”

      Hy trek sy asem met ’n ligte snak in, pers sy mond saam sodat sy haastig ’n gebaartjie maak om te keer. “Nee, toe maar, die vraag is buite perke …”

      Hy maak haar hande sagkens los van die beker en vou hulle in syne toe. “Nee, Jess, dis juis wat ek die meeste gemis het. Jou onstuitbare eerlikheid. Jou determinasie om tot op die been te dring sodat jy beter kan begryp.” Hy lig onverwags haar hande op, soen haar palms en sy oë is vol rou emosie toe hy weer praat.

      “Ek sal nooit anders met jou kan wees as net eerlik nie. Sy was vir my mooi, ja, want ek het nie diep genoeg en lank genoeg gekyk nie. En dit was goed in soverre seks tegnies bevredigend is. Maar weet jy hoe volslae sinneloos is dit met iemand wat bloot ’n liggaam geword het?”

      Sy voel die bloed na haar kop stoot. “Nee, ek sal nie weet nie, Daniël. Maar waarom het julle immers nie probeer om die siel van jul huwelik weer op te vang nie?”

      Hy gooi sy kop agteroor, staar na die plafon en glimlag wrang. “Die siel is daar of hy’s nie daar nie, Jess. ’n Mens het werklik lief of jy het nie.”

      Sy kyk na sy skouers wat effens vooroor gekrom is asof hy bitterlik moeg is en die donker kringe onder sy oë. En sy voel ’n innige jammerte vir hom in haar opstoot. Tog kan sy dit nie verhelp om die laaste woord te probeer inkry nie. “Wat het dan geword,” vra sy met gevoude arms, “van kies wie jy liefhet en bemin dan jou keuse?”

      Hy kyk haar waterpas aan, maar weemoed rem aan sy mond. “Dis waarvoor ek te swak was, Jessica. Eers wou ek op jóú nie langer wag nie, en toe wou ek dit met Danina nie uithou nie.” Hy gee ’n blaaslaggie deur sy neus. “Dít, Jess, is die volle waarheid omtrent my.”

      “Ek weet,” sê sy opeens bedaard en staan op om hul bekers weer vol koffie te skink. “Miskien het ek dit nog altyd geweet, Daniël, maar ek dink jou brute eerlikheid oor jouself maak dat ’n mens jou dit vergewe nog voordat jy dit mooi snap.”

      Hy kom staan vlak by haar toe sy die vol bekers neersit, lig haar gesig na hom toe. “Bedoel jy dit, Jess?”

      “Natuurlik,” glimlag sy. “Het jy dan jou laaste huisdans vergeet?” Hy glimlag net verleë, die onthou vlak in sy oë.

      Jessica het twee dae voor die dans waterpokkies gekry en haar ma het haar op aandrang van die koshuisdokter dadelik kom haal. Sy sou ten minste tien dae tuis moes bly. Dans was buite die kwessie. Sy sal nooit die mismoedige konsternasie op Daniël se gesig vergeet nie. Hy het kloekmoedig kom kuier en voorgegee dat dit niks is dat hy die Kollegedans sou misloop nie. Maar sy het hom geken; geweet hoe belangrik dit vir die Kollegemanne is om die heerlik oproerige party elke jaar by te woon. Gaan, man, het sy gepor. Vra daai een joolprinses wat so leepoog raak as sy jou sien.

      Daniël het sonder slag of stoot die voorstel aanvaar en rondborstig erken dat hy eenvoudig te lus is om koshuisdans toe te gaan om so ’n aanbod te weier. Sy het eers kwaad geword toe hy al weg is; maar na ’n ruk moes sy maar erken: Daniël se spontane eerlikheid ontwapen ’n mens. En dis omdat daar so min bedrog in hom is dat hy so maklik harte verower.

      “Sy kon nie eens behoorlik dans nie, weet jy,” sê hy en sy oë pleit so openlik met haar dat sy laggend ’n hand op sy boarm lê.

      “Hm, jy het mos die volgende dag al kom vertel hoe miserabel die aand nou kwansuis was!” terg sy, maar hy vlam dadelik op.

      “Dit was, ja, want die vroumens kon nie met my praat nie en my huwelik was hel om dieselfde rede!” En toe sy met stomme bedugtheid na hom bly kyk, trek hy haar tot teenaan hom. Sy voel sy hartklop teen haar bors, sy lippe warm teen haar voorkop.

      “Jessie,” fluister hy bewend, “ek is nog ek. Windbol en lus vir als wat lekker lyk … maar die hemel hoor my, ek het jou baie lief. En ek het jou baie, baie nodig …”

      ’n Veerligte rilling trek langs haar rug af. Sy hoor die woorde waarna sy so lank, lank verlang het en met ’n diep asemstoot druk sy haar hande agter om sy rug en hou haar mond vir hom. Hy soen haar sag en toe met drif en toe weer met groot teerheid.

      Sy laat rus haar kop op sy skouer en sê stadig: “Jy moet net nie … haastig wees nie, Daniël. Ek het nog tyd nodig.”

      Hy sug liggies, maar vee haar hare met ’n glimlag van haar wange weg toe hy in haar oë afkyk. “Ek het geweet jy sal dit sê. En ek belowe jou ek sal geduldig wees. Ek mag jou noot weer verloor nie.”

      Dis mevrou Geyer wat eerste die nuwe gemoedelikheid in hul verhouding opmerk en eendag skamper probeer uitvis na die stand van sake. Jessica lag net. “Ons sal maar moet sien, mevrou. Maar ek moet erken op die oomblik geniet ek my en Daniël se herontdekking van mekaar, as ’n mens dit so kan stel.”

      “O, dit klink in elk geval erg belowend!” Dan, onverwags op ’n nugterder noot: “Het jy hom al volkome vergewe, Jessica?”

      Sy laat haarself toe om sober te dink oor die vraag. Toe lig sy haar bolyf van die handdoek af waar sy langs die swembad lê en skreef haar oë teen die son in toe sy na mevrou Geyer kyk. “Ek dink so,” sê sy eindelik. “Ons is albei soveel meer volwasse as destyds. En hy is bereid om te wag vir my totdat ek voel ek kan sonder voorbehoud na hom toe teruggaan.”

      Mevrou Geyer se silwer wenkbroue lig effens en sy vou haar hande inmekaar toe sy versigtig sê: “Jy is klaar terug by hom, Jessica. Jy sal maar moet lig loop, my kind.”

      “Hoe bedoel u nou?” vra Jessica half onthuts en sit skielik kiertsregop op die warmgebakte handdoek.

      “Net dit. Dat jy klaar baie betrokke is by professor Daniël Krause. Jess, hy kan sy hande kwalik van jou afhou as hy hier is. Jy sien hom elke dag. Miskien moet jy net oppas dat jy nie ongemerk in ’n ding in drywe wat jy later liefs sou wou vermy nie.”

      Jessica staar haar stom aan. Protes stoot floutjies in haar op, maar sy sluk dit terug. Die vrou verwoord immers net wat sy self ook aanvoel. Dat sy baie, baie bly is oor die liefdevolle, vleiende aandag wat sy daagliks van Daniël ontvang, dat sy vir die eerste maal in jare weer vroulik en beminlik voel, maar dat sy ook soms wens dat daar ’n klein bietjie afstand, net voorlopig, tussen haar en Daniël kan wees. Sy het tyd nodig om alleen te dink oor hulle, alleen haar gemoed tastend te deursoek.

      “Miskien praat ek nou uit my beurt uit,” maak mevrou Geyer verskoning toe Jessica te lank stilbly, maar sy skud haar kop.

      “Nee, u is reg. Eintlik besef ek dit ook. Ek is self ’n bietjie geïrriteerd met die feit dat die studente ons al so gou afgepaar het. Daar was nou die dag tot ’n draakstekery met ons in die sosiale kolom van Die Wapad. En dit het my effe bedreig laat voel. So asof my privaat lewe ’n toeskouersport geword het.”

      “Só erg is dit darem nou nie,” paai mevrou

Скачать книгу