Om Helena te hoor. Carolyn Morton

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Om Helena te hoor - Carolyn Morton страница 4

Om Helena te hoor - Carolyn Morton

Скачать книгу

ek nie,” sê sy sag. “Almal het net so daar gestaan … Dit was aaklig.”

      Wat gee jy om? wil ek skree. Dis nie asof dit jou al ooit oor­gekom het nie. Ek voel in twee geskeur. Aan die een kant is ek kwaad omdat June altyd so perfek is, maar aan die ander kant waardeer ek haar simpatie. Niemand anders gee om hoe ek voel nie.

      “Dankie,” mompel ek.

      June frommel haar toebroodjiepapier op en sit dit terug in haar kosblik. Ek draai my toebies nie in waspapier toe nie. Dis asof hare meer delikaat en aristokraties as gewone mense s’n is en ekstra sag behandel moet word, soos in die storie van die prinses en die ertjie.

      “Ons het lank gelede hoenders gehad,” vertel sy toe ons by haar straat indraai. Dis nie ’n rykmansbuurt nie, maar daar is nie rommel op die sypaadjie nie en die straatvore is skoon. “Een van hulle was ’n bietjie anders as die res. Hulle was almal bruin en vet gevoer. Dié een was sagter, rooier en kleiner. Hy het nooit betyds by die voerbak uitgekom nie, so ek het altyd vir hom op sy eie mieliepitte gevoer. Maar eendag toe ek by die skool was, het hy seergekry en begin bloei. En die ander …”

      “Wat het gebeur?” vra ek, al wil ek nie regtig weet nie.

      “Hulle het aan hom gepik en gepik.” Dit klink of daar trane in June se stem is. “Toe ek by die huis kom, het hy net daar gelê.”

      “Dood?” vra ek en voel skoon siek.

      “Amper. Ek kon hom red, maar hy was nooit weer dieselfde nie. Ek het myself vreeslik verwyt dat ek hom nie beter be­skerm het nie. Hy het vir die res van sy lewe ’n lelike letsel gehad, en sy vere het nooit daar toegegroei nie.”

      “Dis ’n bietjie soos ek vandag gevoel het,” sê ek skor. Ek kan nie glo ek erken dit teenoor haar nie. Ek vertel nooit vir Ma en Pa sulke goed nie, veral noudat hulle saans moeg en met moedelose gesigte huis toe kom, en ek sal te bang wees om dit met iemand by die skool te deel, want sê nou hulle gebruik dit teen my?

      June haak haar arm by my in, soos ’n regte pel. Ek voel weer in twee geskeur. Geraak dat iemand vir my omgee, maar ook vies omdat sy my nooit regtig sal verstaan nie. Want sy hoef nie eens te probeer nie; almal sien haar raak en is mal oor haar.

      *

      Drie

      EK WAS VAN PLAN om my toonlere te oefen, maar Henk annek­seer al weer die klavier en worstel met sy stukke vir die kompetisie. Tipies. Hy kom altyd eerste daar. Altyd aan die oefen, oefen, oefen.

      “Nerd,” brom ek en skop my simpel skoolsak eenkant toe. Ek wens dit was Henk.

      Ek maak my hare los en trek ander klere aan; my skool­klere beland in die hoek saam met my sak. Die meeste van my klere lê op die vloer of onder my bed ingedruk of in ’n kas of laai waar daar plek is, maar ek vou my Calvin Klein T-hemp altyd netjies op en sit dit in my boonste laai waar ek dit vinnig kan bykom.

      Dis my gunstelingtop vandat ek dit laas kwartaal skool toe gedra het op civvies-dag en almal my raakgesien en bewonder het. Selfs Konrad het jaloers gelyk. Dis eintlik net ’n dood­gewone wit Mr Price-hemp, maar ek het die CK-logo uit die tydskrif Seventeen versigtig afgetrek en dit toe vir R40 op die T-hemp laat druk, en niemand het die verskil agtergekom nie.

      Wanneer ek dit dra, is dit asof my sproete verdwyn, en asof die hemp my arms en bene wat soos vuurhoutjies lyk, omtower met mooi kurwes. Dan lyk ek nes Marilyn Monroe op die plakkaat bokant my bed. Dis my droom om eendag nes sy te lyk. Sy was ook eers ’n rooikop. Ek het nog ’n foto agter my deur, die beroemde een van haar bo ’n luggat met haar rok wat bol staan, maar my gunsteling is die een bokant my bed, met haar gemmer krulhare wat in die wind waai en die see in die agtergrond. Sy lyk regtig gelukkig.

      Ons het in die verlede baie na Humewood se strand toe ge­gaan. Ek het my dan op die sand uitgestrek, my oë toegemaak en my verbeel ek is Marilyn. Ons gaan nie meer strand toe nie.

      “Miskien sal ek eendag soos jy lyk,” sê ek vir Marilyn. Die plakkaat is effens gekreukel net bokant haar oog en wanneer dit die lig weerkaats, verbeel ek my sy knipoog vir my.

      Ek hoor Henk nog op die agtergrond speel. Hy oefen ’n Debussy-stuk, ’n nokturne wat begin soos die ligte swiep van ’n towerstaf terwyl sy hande verskeie oktawe in gebroke akkoorde met die klawers op sweef, en dan kom die ware wonder van die stuk: ’n hartseer maar pragtige melodie, wat Ma wil laat huil op die dae wanneer sy te moeg is om selfs hallo te sê.

      “Dit gee my ’n kramp,” sê ek vir myself, maar eintlik is ek ook lus om te huil.

      Pa het weer laat gewerk, so hy het Ma lank ná 7de Laan opgelaai en ek het die TV al afgesit en begin om die goed vir aandete reg te kry. Nie dat ek wil nie, maar ná so ’n lang dag sal sy seker die piep kry as ek dit nie doen nie. Ek haal ’n blikkie spaghetti uit, spoel tamaties en uie af, sny dit op en sit dit in die yskas saam met die maalvleis wat klaar ontvries het.

      “Dankie, Helena-lief,” sê Ma en soen my skrams op die wang toe sy later inloop en reguit yskas toe gaan, die maalvleis, tamaties en uie werktuiglik uithaal en die stoof met haar ander hand aansit.

      Ek is al klaar vyf sentimeter langer as sy, en op lang dae soos hierdie lyk dit asof sy krimp, eerder as dat ek groei. Haar hare, altyd reguit, lê dun en pap teen haar kop, ’n dowwe grys met ’n paar verbleikte rooi slierte tussenin. Ek sien haar werkhemp hang losser as gewoonlik aan haar soos sy moeg deur die kombuis strompel. Sy staan vir ’n oomblik, met die yskas se deur oop, terwyl Henk die laaste note van sy Debussy speel, en sug effens, asof sy vir ’n sekonde vergeet sy is ’n kassiere.

      Toe kom my broer in.

      “Klink goed, Henk,” sê Ma, half vir hom en half vir my pa, wat by die deur staan en die dik lae stof van sy skoene afslaan.

      Pa vryf sy bles, sodat daar ’n wolkie van grys baksteenpoeier op sy oorpak val, en knik vir Henk. “Ons is trots op jou, Seun,” sê hy en sit sy hand op my kop om my te groet voor hy in sy stoel neersak. Ma het dit met plastiek oorgetrek, want dit maak nie saak hoe hard Pa probeer nie, hy los oral ’n spoor van stof wat by die leer se krake ingaan. Ek sal dit haat om elke dag op daardie stoel te sit en nie die koel leer teen my vel te kan voel nie, maar dit lyk nie of dit hom pla nie. Hy haal die koe­rant wat elke week verniet afgelewer word uit en maak asof hy dit lees, maar sy kop knik al klaar.

      “Daar’s die vadoeke,” sê ek en wys na die netjies gevoude hopie op die werkblad.

      Ma glimlag vlugtig; haar verlepte gesig verlig vir ’n sekonde met dieselfde mooi glimlag wat sy vir Henk gegee het toe hy hier ingeloop het. Dit laat haar soos ’n jong Mia Farrow lyk, eksoties en betowerend. Ek wil haar vertel waar ek die vadoeke gekry het, maar sy draai haar rug op my en soek in die kas na die braaipan.

      Ek deel my pa se stoel vir ’n rukkie met hom en lees saam koe­rant tot ek die plastiek se kunsmatige gladheid nie meer kan vat nie. Toe gaan sit ek maar liewer op die mat langs hom.

      “Ons doen ’n projek oor swangerskap en babas in die klas,” sê ek vir Pa, wat aanhou maak asof hy lees deur weer om te blaai.

      Hy knik en krap my hare ingedagte deurmekaar om te wys hy het gehoor, al is ek seker hy het nie.

      “Ek gaan saam met June werk. Henk, die meisie wat jy vanmiddag hier buite ontmoet het.”

      “Dit

Скачать книгу