Onder die radar. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onder die radar - Dana Snyman страница 3

Onder die radar - Dana Snyman

Скачать книгу

volgende probleem was om die boormasjien te kry op die presiese plek wat oom Andries aangewys het waar die nuwe gat geboor moet word.

      Oom Andries was ons dorp se waterwyser. Oor hom en al sy maniertjies gaan ek nie nou vertel nie. Ek gaan net sê: oom Andries het op ’n oggend, ná Pa-hulle besluit het om te laat boor, met ’n mikstok uit sy Opel Manta voor ons huis geklim en op die werf begin rondstap, die mikstok oopgesprei in sy hande.

      Op ’n sekere plek, naby my duiwehok, het die stok knaend in sy hande begin draai, totdat dit soos ’n pyl grond toe wys. “Hier loop die aar,” het oom Andries later gesê en ’n groterige klip met sy voet soontoe gerol, want die klip was te warm van die son om met die hande op te tel.

      By daardie klip het oom Doepie en Jakkals die boormasjien staan­gemaak en als begin gereed kry vir die boordery.

      Ek ken nie die name van ’n boormasjien se onderdele en gedoen­tes nie. Eers het oom Doepie-hulle die boormasjien se toring – of dit het soos ’n toring gelyk – regop getrek. In die toring was ’n kabel wat oor pulleys geloop het, en vooraan die kabel was die boorpunt, so ’n swaar ysterding met ’n skerp punt.

      Die volgende oggend het die boormasjien se enjin in ’n blou dieselwolk begin dreun, en toe het die kabel daardie punt op en af laat beweeg, stamp-stamp, duim vir duim die aarde in, terwyl my duiwe uit die hok uit die wolklose lug in fladder en Pa vir Ma sê: “Ons sal water kry. As dit die Here se wil is.”

      Om ’n boormasjien op die werf te hê maak dikwels ’n desperate situasie nog meer desperaat.

      Daardie gestamp en lawaai laat jou nie toe om van die modde­rige straaltjie water in die krane en die dooie pampoenranke in die tuin te vergeet nie.

      Ek onthou smiddae ná skool kon ek nie gou genoeg by die huis kom nie. Ek is reguit na oom Doepie by die boormasjien toe.

      “Hallo, oom. Hoe gaan dit hier, oom?”

      “Aanhou, uithou, kophou en bekhou, ou maat.”

      “Het oom-hulle al iets gekry?”

      “Niks nie, ou maat.”

      Saans het Pa en Ma met gedempte stemme om die oefeningboek waarin hulle hul geldsake neergeskryf het by die kombuistafel sit en praat. Oom Doepie moes betaal word vir elke voet wat hy die aarde in geboor het, ongeag of daar water is of nie.

      Soms, laatmiddag, wanneer oom Doepie-hulle klaar vir die dag geboor het, het ek daar by die boormasjien gaan rondhang. Jakkals, oom Doepie se helper, se tent het ook daar opgeslaan gestaan.

      Eenkant het ’n swartgebrande ketel op ’n vuurtjie gesing en op ’n riempiestoeltjie het oom Doepie gesit, met sy stories: Hoe hy in Egipte gaan boor het, ook hoe hy in sy jong dae kwansuis in Siberië gewerk het. In ’n snuifmyn.

      Jakkals het dikwels by ons gesit, met sy dowe ore. Hy en oom Doepie het oor die jare heen hul eie vingertaal met mekaar leer praat.

      Miskien is dit op ’n manier maar beter om doof te wees as jy dag na dag in al daardie lawaai by die bek van ’n nuwe boorgat moes staan, met jou hand om die kabel waaraan die boorpunt is, wat al dieper die aarde in stamp.

      Dit was Jakkals se werk: hy moes daar staan met sy hand om die kabel om seker te maak daar word nie skeef geboor nie.

      Een of twee keer per dag het oom Doepie-hulle ook so ’n metaal-skepding in die gat laat afsak wat ’n bietjie grond onder uit die gat na bo gebring het.

      Ná drie dae se boor het die grond wat boontoe gekom het darem so klammerigheidjie ingehad.

      Oom Doepie-hulle het ná ses, sewe dae se geboor ook ’n water­tjie daar langs my duiwehok raakgeboor. Dit was nie veel nie, maar dit was genoeg om die asbestenk weer nou en dan vol te maak.

      Ek sal die blydskap nooit vergeet toe oom Doepie kom sê: “Ons het die aar gekry.” Pa en Ma wat oor die werf draf, Ma sommer met haar voorskoot aan. Met ou Souf, wat in die kombuis gewerk het, agterna. Oom Andries wat ’n ruk later daar in sy Opel stilhou, want sulke nuus het gou versprei op ons dorpie.

      Nog mense het gekom, en oom Doepie het die boormasjien afgeskakel, en almal het by die boorgat probeer inloer. En eenkant, eenkant het oom Doepie alleen na almal staan en kyk, met ’n glim­laggie op die gesig.

      Net daar het ek besluit ek wil eendag ’n boorman word. Ek wil Siberië en Egipte sien. En Prieska en Sterkaar en Uitkyk. En ek wil vir mense water bring.

      Reën

      En dan kom die reën.

      In die oggend sal daar ’n wind wees, maar dit sal nie ’n moede­lose wind wees wat los papiere straataf laat warrel nie. Dit sal ’n warm wind wees wat die sterte van die dorp se windpompe noord laat draai en dit daar hou.

      Oom Andries van langsaan sal op sy voorstoep uitstap en hy sal nie frons nie. Hy sal kyk na die vaal wolkbank wat soos ’n verlore belofte op die horison talm en sê: “Nou moet hierdie wind net hou.” Want soms draai die wind en begin uit die weste te waai, en dan waai dit die wolke weg.

      By oom Osche se winkel sal ’n nota teen die deur wees: Kom binne. Deur toe weens wind. En in die winkel sal almal versigtig oor die wind praat, want almal weet in die Noord-Kaap kan selfs ’n verkeerde woord die wind laat draai.

      By die koöperasie sal oom Flippie sy tiervelhoed afhaal en op die toonbank neersit. “Voel julle die vog in die lug?”sal hy vra en die sweet met ’n plat hand van sy bleek voorkop vee.

      Daar sal nog tekens wees, behalwe die sweet op oom Flippie se voorkop en die wolke en die wind. Op die grond langs die huis en op die stoep en teen die buitekamer se muur sal strepies-strepies rysmiere beweeg, en naby die slagpale sal ’n skilpad oor die pad stap, in die kliprantjies se koers.

      In die ooste sal ’n flou strepie maan skuins in die lug hang, en Pa sal daarna wys en sê: “Het julle gesien, die maan gooi uit?” Maar Ma sal nog nie vir ou Souf aansê om al die huis se vensters toe te maak nie.

      Dan, iewers in die namiddag, sal daardie wolkbank van die ho­rison af lig en afsonderlike wolke word wat oor die oopte aan­kom. Die wind sal nou koeler wees en oom Andries sal weer op sy stoep gaan staan. “Die wolke moet nou net nie afkoel nie, anders kry ons vandag hael,” sal hy sê, en iewers sal ’n hoenderhaan kraai.

      Die wolke sal laag oor die dorp skuif en daar sal nie ’n gedonder en geblits van weerlig wees nie. Daar sal net so ’n vae gerammel in die wolke wees, asof iemand stoele in een van die hemel se agterste kamers rondskuif.

      Dan sal daar ’n druppel op die huis se sinkdak val – net een druppel. Jy sal daardie druppel duidelik hoor, dan sal daar ’n oom­blik se stilte wees, soos in die kerk net voor Dominee die seën uit­spreek. Dan sal daar nog ’n druppel val, en nog een. Dan sal daar baie druppels wees, en gou sal jy iets in die lug ruik, so ’n varserige, gronderige reuk – die reuk van genade.

      Ons sal deur die huis hardloop en vensters toemaak, en Ma sal ’n ou handdoek bring en dit oprol en dit voor die kombuisdeur gooi sodat die water nie van die agterstoep af by die kombuis instroom nie.

      Later sal oom Andries met ’n reënjas oor sy skouers by sy ag­ter­deur uitkom en krom na die reënmeter draf wat aan ’n paal in sy jaart hang. Ma sal begin praat van pannekoek bak en nog later sal die telefoon

Скачать книгу