Onder die radar. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onder die radar - Dana Snyman страница 6

Onder die radar - Dana Snyman

Скачать книгу

se skerm voor ons en kyk, asof dit ’n spieël is wat ons gesigte verwronge na ons toe te­rugkaats.

      Dan kyk Pa na my. Sy oë lyk moeg. “Jy’t nog niks gesê oor al die bome wat ek en Simon geplant het nie, seun,” sê hy en skuif sy vinger oor die skerm, terug in die pastorie se rigting.

      Opruim

      Nog net die kat bly oor.

      Die man ry by die huis se hek in, maar hy druk nie die knoppie op die afstandbeheer wat die motorhuis se deur laat oopgaan nie. Hy hou in die oprit stil. Die oggendson hang in die boom by die voordeur se blare. Die man klim uit die kar. Hulle het in ’n hotel oornag, want die lorrie het gister die laaste meubels kom haal. Die meeste goed het hy aan ’n tweedehandshandelaar verkoop. Die res – die Wetherlys-stel en die linnekas wat hy by sy ouma geërf het – is saam met die kinders se fietse en die ander goed in die vraghouer wat met die skip Australië toe gaan.

      Die man sluit die voordeur oop, stap deur die leë portaal en luis­­ter na sy voetstappe op die teëls asof dit dié van ’n vreemdeling is. Hy gaan by die kombuis in. Die kat se bakke staan naby die ag­ter­deur, langs die yskas wat nie meer hier is nie. Hy stap weer by die kombuis uit. Hy kyk vlugtig by die studeerkamer in. Op die blou mat is ’n vaal kol waar sy voete gerus het wanneer hy by die lesse­naar gesit het.

      Die kat lê in haar mandjie by die venster in hul jongste se kamer. Hy het geweet die kat sou hier wees, want sy was elke oggend hier wanneer hy sy jongste kom wakker maak het. Hy buk en tel die kat op en stap vinnig met haar in sy arms deur die huis, voor die klank van sy voetstappe uit. Hy maak haar in die kar toe, dan kom hy terug en sluit weer die voordeur. Hy talm ’n rukkie in die tuin. In die bome kwetter voëls. Hy wou nog die voëls se name ge­leer het, en die bome s’n, en die struike en die blomme s’n.

      Hy gaan klim terug in die kar. In die truspieëltjie sien hy die kat op die agtersitplek sit, gehurk, met al vier pote onder haar gemmer­lyf.

      Toe hy by die hek uitry, kom die ou man wat al vir hoeveel jaar in die bure se tuin werk, op die sypaadjie aan. Die ou man kom staan langs die kar. “Loop baas nou?” vra hy.

      “Ek gaan nou, ja,” antwoord hy. “Jy moet mooi bly, nè?”

      “Is die miesies-hulle klaar daar oorkant?”

      “Ons vlieg môre eers.”

      Die ou man lig sy hand en beduie na die agtersitplek. “En die kat, baas? Loop hy saam?”

      Hy antwoord die ou man nie. “Jy moet mooi bly, nè?,” sê hy weer, en ry weg.

      Die man ry in die straat af, druk die knoppies wat die kar se agtervensters laat sak. Dalk spring die kat vanself uit. Die man ry al vinniger, met ’n kar vol wind. Die kat sit steeds op die sitplek toe hy voor die veearts se spreekkamer stilhou. Hy klim uit, maak die agterdeur oop en tel die kat op. Hy stap in die paadjie af en hy pro­beer om nie die kat se sagte pels te voel nie.

      Dis net ’n kat, dink hy. Dis net ’n kat, dit is net ’n bleddie kat.

      Vlug

      Ek sit in ’n koffiedrinkplek op die Johannesburgse lughawe. Ek drink ’n espresso en bekyk die gesinnetjie wat pas by die tafeltjie langs myne ingeskuif het.

      Daar is ’n pa, ’n ma en ’n kleinsus. Nie dat die kleinsus meer so klein is nie: Die beloftes van vrouwees slaan ferm onder haar Truworths-toppie deur. Sy is op pad oorsee, lei ek af, want die ma vra: “Het jy jou paspoort, sus?”

      “Ja, Ma. Ek sê dan.” Die kind beduie na die rugsakkie op haar skoot. “Hiér.”

      “En jou ponde?” vra die pa. “Waar’s jou ponde?”

      “Ook hiér.” Die kind wys weer na die sak. Haar vingernaels is blou geverf.

      “Jy moet oppas, ounooi,” sê die pa. “Daar oorkant is ook skelms. Oom Saag sê vir my Londen is deesdae vol Turke en Nigeriërs.”

      “Daar is glo baie sakkerollers,” voeg die ma by. “Jy moet jou goed tog mooi oppas, ou sussa.”

      “Ek sal fine wees, julle. Chill net.”

      Hulle kan van enige plattelandse dorp of middelklasbuurt af wees.

      Die pa kyk in die toonbank se rigting waar twee of drie kelners borde en koppies en glase op en van skinkborde af pak. “Waar bly die waiter?” vra hy, lig sy arm en klap sy duim en wysvinger geluid­loos. Dit is ’n Vrydagaand en die lughawegebou is vol mense.

      Kleinsus haal ’n selfoon te voorskyn. Haar duim ken die pad oor die knoppies al goed.

      ’n Kelnerin kom nader.

      “Do you serve beer?” vra die pa.

      “Yes, we do, sir,” antwoord die meisie en sit drie spyskaarte op die tafeltjie neer.

      “I need a beer now. Bring me one Castle.” Die pa kyk na die ma. “Koffie vir jou, Ma?”

      “I’ll take a filter coffee,” sê die ma vir die kelnerin en plaas haar hand op Kleinsus se arm. “Iets vir jou, sus?”

      Kleinsus kyk ’n oomblik van die selfoon af op. “Filter coffee,” sê sy. “With hot milk.”

      Die pa wikkel ’n pak Winston-dertig uit sy roomkleurige hemp se bosak en sit dit voor hom neer, byna soos ’n kaartspeler wat sy laaste troef speel. Die bekommernis lê in ’n keep tussen sy oë.

      Die ma kyk op haar horlosie. “Hulle sal ons goed gou moet bring,” sê sy. “Dis al kwart voor.” Sy sit haar hand weer op Kleinsus se arm. “Is jy nou seker ons sal met jou kan praat as jy daar oorkant kom, sus?”

      Kleinsus kyk na die ma. “Hoeveel keer moet ek nog vir Ma sê: As ek daar oorkant kom, koop ek net vir my ’n ander SIM-kaart.”

      “Jy moet dadelik vir ons ’n SMS stuur,” sê die pa. “Ons wil weet jy is veilig.”

      “Ek sal fine wees, Dad.”

      By een van die ander tafeltjies hou twee hande ’n Engelse koe­rant in die lug. Germiston couple killed in robbery, lui een van die op­skrifte.

      Die kelnerin bring die koffie en die bier. “Is there nowhere in this building I can smoke?” vra die pa vir haar toe sy die blikkie bier en die glas voor hom neersit.

      “I’m afraid not, sir. Sorry.”

      Die pa mompel iets onhoorbaars. Die ma skeur ’n pakkie suiker oop en lees die spreuk agterop die pakkie, maar sy deel dit nie met die pa en Kleinsus nie. ’n Kurt Darren-rige selfoondeuntjie begin speel. Dis haar selfoon. Sy kyk op die skermpie. “Dis my ma,” sê sy en antwoord. “Hallo, Mammie. Als reg daar? Ja. Ja. Op die lug­hawe, ja.”

      Die pa drink sy bier en kyk na die mense wat skaduweeloos ver­bystap. Dalk het hy twintig, dertig jaar gelede, toe hy pas agttien of negentien jaar was, ook so saam met sy ouers iewers op ’n trein­stasie gesit en afskeid neem voordat hy op ’n militêre trein geklim het om sy nasionale diensplig iewers te gaan doen.

      “Nee, Mammie, sy sit

Скачать книгу