Dit vat guts. Annelie Ferreira

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dit vat guts - Annelie Ferreira страница 4

Dit vat guts - Annelie Ferreira

Скачать книгу

hy’s wit nie, want dit sal onregverdig wees teenoor swart mense, Chinese, Indiërs, Pakistani’s, Maori’s, whatever. Hulle sê God is die grond van ons wese, in alles, maar ook meer as alles. Ek het natuurlik nie ’n clue wat dit beteken nie, maar dit sidestep wel die probleem van ’n wit man. Maar hoe praat mens met die grond van jou wese?

      Toe bid ek sommer maar net. “Liewe Here of Grond-van-Ons-Wese, sal jy Pa asseblief help? Hy het kanker. Ek sal seriously bly wees. Dankie.”

      Ek wag, maar daar kom geen antwoord nie. Isabel sê God antwoord soms “nee”, wat eintlik die beste antwoord is, maar een wat jy eers later sal verstaan. Hierdie antwoord is net stilte.

      Tog voel ek beter. Miskien moet ek God net kans gee, partykeer sê Ma of Pa ook: “Laat ek daaroor dink” as ek vir hulle iets vra. God is dalk besig om te dink.

      Ek hoor Isabel in haar bed klim, vroetel met haar duvet. ’n Skakelaar klik, die donker agter my oë word nog swarter. Isabel sug sag.

      Hoe laat mense anyway wonderwerke gebeur? Dis iets wat jy eintlik behoort te weet, ingeval jou pa kanker kry. Oom George weet alles van hierdie soort goed af. Hy het ’n medalje van die universiteit gekry toe hy nog ’n filosofiestudent was, en hy is besig om ’n boek te skryf, oor waarheid. Pa sê hy gaan nog lank skryf, want waarheid verander die hele tyd, maar tog.

      Miskien kan ek ook eendag ’n boek skryf, soos oom George, maar myne sal gaan oor wonderwerke. Dan kan dit mense help wat een nodig het. Ek hou van skryf, dis baie makliker as praat.

      ’n Boek oor wonderwerke. Alle soorte wonderwerke.

      Toe onthou ek iets.

      Dit was ’n Sondag ’n paar weke gelede toe ouma Issie en oom George-hulle by ons kom braai het. Oom George het met Pa langs die braaiplek staan en gesels, ’n bier in sy hand. Pa het tjops op die rooster gerangskik. Ek was ook op die stoep, besig om Rakker met ’n maagkrap-special te treat. Dit was ’n skroeiwarm dag en braai het dit niks koeler gemaak nie, maar ek hou van vure.

      Oom George was besig om net lekker op spoed te kom. Ek het met een oor geluister. Van goed die helfte van wat hy gesê het kon ek nie kop of stert uitmaak nie, soos gewoonlik. Van die ander helfte het ek hier en daar iets gevang. Ek probeer dit onthou. Hy het gepraat oor die waarde van ’n ding wat hy “die transendente” genoem het, wat in die moderne samelewing verlore raak. Dis jammer, het hy gesê, want dis iets heilig. En kosbaar. Ek dink hy het kosbaar gesê.

      Agterna het ek “die transendente” in die woordeboek opgesoek, maar ek sweer die verklaring sou meer verstaanbaar in Russies gewees het. Toe vra ek Ma. Sy het gesê dis iets wat nie gewoon of alledaags is nie.

      Ek skakel my bedlampie aan. Isabel roer in haar bed vol skaduwees.

      “Ek moet net iets check,” fluister ek in haar rigting.

      “Make it snappy,” brom sy.

      Ek het dit neergeskryf, wat Ma gesê het, op ’n bladsy in my spesiale flipfile. Dis waar ek sulke goed bêre. Woorde of sinne wat ek hoor of lees, wat interessant of mooi is, partykeer hartseer. Ek bêre ook my opstelle daar.

      Ek sluip na my kas en maak die boonste regterdeur versigtig oop om nie te raas nie. Die flipfile lê langs my memory box op die boonste rak, die rak waar mens belangrike goed bêre wat jy nie elke dag gebruik nie.

      Ek haal die flipfile af. Dis my soort stuff hierdie. Woorde. My brein slaan selde vas as ek skryf, nooit soos wanneer ek praat nie. Dalk moet ek altyd ’n pen en stukkie papier ronddra, soos mens met tissues doen, en as ek iets wil sê, skryf ek dit eers gou neer.

      Aha. Hier is dit, op ’n stukkie papier, onder stratosfeer en skigtig:

      transendente: gewoon maar meer as gewoon. Nie konkreet nie. Spesiaal. Soos wonderwerke?

      ’n Boek oor wonderwerke.

      My vingerpunte vee oor die woorde. Isabel se asemhaling is diep en egalig.

      Ek skeur ’n skoon vel papier uit my oefeningboek. Toe ek my pen optel, hoor ek iets buite. ’n Geruis, eers sag en dan harder. Dit reën.

      Ek begin skryf.

      4

      Haai Pa

      Slaap is nie ’n wonderwerk nie. Oukei, wel, partykeer is dit seker. Ek onthou nog hoe Tes in die nag geskree het toe sy ’n baba was, hehe.

      Maar die goed wat gebeur terwyl jy slaap, is wel ongewoon. “Weird verby” sal ook ’n goeie beskrywing wees daarvan. Partykeer, as jy aan die slaap raak, is dit of jy na ’n hele ander wêreld toe gaan. En nie ’n normale ander wêreld soos op TV of in boeke nie.

      Daar is baie normale vreemde wêrelde. In die woestyn, in oerwoude, op die pole, in vulkane en moerasse. Party mense glo daar is wêrelde wat weggesink het onder die see. Dis creepy.

      Maar die wêreld van die nag is heeltemal anders. In die wêreld van die dag sal gewone goed gewoon bly, en crazy goed crazy, en jy sal weet wat die verskil is.

      In die wêreld van die nag weet jy nooit wat jy gaan kry nie. Miskien nice goed, soos silwer muntstukke, of ’n nes Quality Street-sjokolades, met ekstra orange en strawberry creams. Maar ’n freaky man kan jou ook jaag, of jy kan onthou jy het ’n meisie doodgemaak, of jy kan ’n leeu sien heel toevallig op die oomblik wat jy nie jou bene kan roer nie.

      En jy het nie ’n keuse nie. Jy weet nooit waarheen jy gaan as jy jou oë toemaak nie, dis die wet van die nag.

      Moet asseblief vir niemand vertel nie, maar ek is bang vir die donker.

      En vir ander goed.

      Isabel raak geïrriteerd met my. Sy het nou die dag gesê: “Flippit, Mia, jy is nes ouma Issie, dink altyd iets sal jou byt.”

      Ek kan dit nie help nie. Ek is bly Tes wil nog die ganglig aanhê saans. Sy is net ses, niemand dink dis snaaks nie. In Annika se huis is dit stikdonker snags, selfs die duiwel sal bang wees as hy daar moet oorslaap.

      Ek hou ook nie van die stilte in die nag nie. Ek sal dit nooit vir Isabel sê nie, maar dit help as sy saans laat nog rondkrap in die kamer, soos ’n rot wat ’n snackie soek. En in die middel van die nag klink jou gesnork mooier as enige hit op Kfm.

      Onthou jy toe ek en Isabel klein was en saans aan die slaap geraak het in die kar op pad van iewers af? By die huis sou jy ons optel van die agtersitplek en kamer toe dra. In die somer kon ek jou skouer deur jou hemp voel, en in die winter was jou trui sag teen my gesig.

      Ek was amper so hoog soos bo-op die jungle gym, maar ek was nie bang nie. ’n Pa sal jou nooit laat val nie.

      Nag vir eers, Pa.

      van

      Mia

      5

      Annika staan op haar muur. Sy is nie regtig veronderstel om daar te staan nie, of op die skool se dak of enige ander snaakse plek nie, al is dit nie uitgespel in die tien bladsye – gaap – skoolreëls wat ons aan die begin van die jaar gekry het nie. Dis natuurlik hoekom sy daarvan hou. Gelukkig is die muur half weggesteek onder die peperbome, en Annika word anyway nooit gevang vir enigiets nie.

Скачать книгу