Kobra. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobra - Deon Meyer страница 13
“Jy sal met die lyfwag-mense moet gaan praat. Hulle sal moet saamspeel.”
“Dis goed so.”
Cloete sug. “Ek sal sê die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium, ons sal meer inligting uitreik sodra ons seker is dit sal nie die proses belemmer nie. Dit behoort ons te cover, maar hulle gaan weet ons steek iets weg.”
“Dankie, John.”
“Wag maar eers tot Die Giraffe dit goedkeur …”
* * *
Net ná een bring Christel de Haan en twee restaurantwerkers vir hulle kos – stomende borde waterblommetjiebredie. Griessel bedank haar, en bel vir Vusi Ndabeni en Frankie Fillander om saam te kom eet.
Dan verduidelik hy die dilemma oor die ontvoering en die media aan De Haan.
“Kan julle vra dat niemand met die koerante praat nie?”
“Ons sou dit in elk geval gedoen het. Marcus is baie bekommerd oor ons handelsmerk se reputasie. Ons wyn gaan alles Europa toe.”
Hy bedank haar, en bel vir Cupido.
“Ek het die Gmail-adres, Benna. Paul underscore Morris, one five. Help ons fokkol. En daar’s niks in die contract wat sê wie Morris is nie. No address, no next of kin. Ek versta’ nie hoe hierdie mense besigheid doen nie. En jy moet daai office sien. Grênd, pappie, big bucks.”
“Waar’s jy nou?”
“N1, by Century City, ek is op pad na julle toe. Iets gekry?”
“Niks. Ons is amper klaar, Vaughn, jy kan maar kantoor toe. Gee vir IMC die twee lyfwagte se selnommers, dat hulle die seltoring kan identifiseer en al die oproepe van Vrydag af kan begin nagaan.”
“Daai’s smart, Benna …”
“Dis Ulinda se idee.”
“Daai darkie darem. Nobody’s fool, despite the battering.” Radebe was ’n ligswaargewig wat al vier sy professionele gevegte met punte verloor het voor hy die sport gelos het. Dit was sy vermoë om houe te absorbeer wat aan hom sy “ratel”-bynaam besorg het.
“Sien jou by die kantoor,” sê Griessel en lui af.
* * *
Net na ete gaan stap hy, Liebenberg, Ndabeni, Radebe en Fillander langs die res van die plaasgrens af, maar kry niks. “Behalwe ’n verkoue,” sê Fillander droog. As daar spore was, het die reën intussen alles uitgevee.
Net na 15:00, toe die staatspatoloog reeds gekom en gegaan het en die laaste ambulans wegry, verseël hulle die misdaadtoneel. Sy kollegas gaan terug kantoor toe, en Griessel ry stad toe om met Jeanette Louw van Body Armour te gaan onderhandel.
Hy sit die motor se verwarmer aan om die koud en nat te verdryf. Die druk van JOC-leier wees lê ongemaklik op hom, sodat hy alles weer deurdink, stadig en met groot konsentrasie. Want sy kop is nie helder nie. Want hy wil nie ’n gat van homself maak nie. Nie ná al die kyke oor hoe hy lyk nie.
Hy swets hardop oor sy sotlikheid van gisteraand. Want JOC-leier is ’n geleentheid om weer relevant te wees. Hy het die afgelope ses maande so hard gewerk om in te haal, om aan te pas by die Valke, om die hele span-ding te aanvaar en ’n doeltreffende speek in die Valke-wiel te word. Ondanks die feit dat hy die oudste speurder in die Geweldsmisdaadgroep is, verstok in die tradisionele manier van dinge doen.
En nou lyk hy só.
Hy sal moet kophou.
Hy fokus op die saak, gaan weer deur alles wat hy vanoggend gesien en gehoor het. Hy kom tot dieselfde gevolgtrekking: Hulle moet eers weet wie Morris is.
Fok weet, hy sal vanaand moet slaap kry, hy kan nie môre weer so lyk en voel nie.
Wat hom die meeste bekommer, is dat hy weer begin lieg het. Hierdie keer vir Alexa, vir Nyathi, vir sy kollegas. En die déjà-vu wat al die ou, slegte herinneringe terugbring van tien, elf jaar gelede. Anna, daardie tyd nog sy vrou: “Waar was jy, Bennie?”
“By die werk.” Met sy stink drankasem, sy gesuipte oë, wankelend op sy voete.
“Jy lieg, Bennie,” sou sy antwoord, met vrees in haar stem. Dit is wat hy onthou – die vrees. Wat gaan van haar man word, wat gaan van haar en die kinders word?
Dit was die naweek so maklik om vir Alexa te lieg, en vanoggend vir Cupido. Die ou, glibberige gewoonte was soos ’n gemaklike kledingstuk, jy gly net daarin.
Destyds kon hy dit regverdig. Rasionaliseer. Die stres, die trauma van onmenslike geweld en wat dit aan sy kop gedoen het, die onmoontlike ure, die slapeloosheid, die drome, en sy eie vrese, dat sy geliefdes so iets kan oorkom.
Maar nie meer nie.
Hy wil nie meer lieg nie.
9
Toe hy by die hysbak uitkom op die sestiende verdieping van die kantoorgebou in Riebeeckstraat, sien hy wat Vaughn bedoel het met “grênd, pappie, big bucks”. Op die dubbel-glasdeure staan daar in sterk, manlike letters BODY ARMOUR. Daaronder, in slanke sans serif: Personal Executive Security.
Hy stoot die deur oop. Die mure en welige tapyte is grys, die minimalistiese meubels van swarthout, net hier en daar spatsels van grasgroen en chroom. Agter ’n swartblad-lessenaar, met daarop net ’n silwer Apple-skootrekenaar, ’n slanke groen telefoon en ’n klein aluminium-naambord wat sê Jolene Freylinck, sit ’n beeldskone vrou – lang, donker hare, dieprooi lipstiffie, swart bloes en romp, elegante bene wat eindig in swart hoë hakke.
“Jy moet een van die speurders wees,” sê sy ernstig en gedemp.
Hy besef hoe sy weet.
Hy knik en sê: “Bennie Griessel.”
Sy steek ’n gemanikuurde hand uit na die telefoon, druk ’n knoppie, wag ’n oomblik. “Speurder Bennie Griessel is hier.”
Sy luister, kyk met ’n effense frons na hom. “Jy kan maar ingaan,” sê sy en beduie na die swart deure met die chroomhandvatsels.
Hy kan sien sy is ontsteld oor die verlies. “Dankie.”
Jeanette Louw sit agter haar swarthoutlessenaar. Die baadjie hang aan ’n staander in die hoek, haar strepiesdas is losgetrek. Sy lyk ouer en moeër as vanoggend.
“Kaptein,” groet sy. “Kom in. Sit asseblief.”
Hy kan hoor sy onderdruk die antagonisme. Hy gaan sit in ’n swart leerstoel.
“Ek verstaan van jou kollega daar is nog geen leidrade nie.”
“Dis reg.”
“Jy weet hy is ’n doos. En dit het niks met ras te doene nie.”
Griessel sug. “Hy is ’n baie goeie speurder.”