Kobra. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobra - Deon Meyer страница 9
“Nee, ek het net ’n duisend nodig, ek het lekker tips gekry.”
“That’s what I want to talk about. Tips of te nie, jy’s hie’ om te leer.”
“Ma’ ek like van die werk, Boetie.”
“Daai verstaan ek, ma’ dis nou crunch time.”
“Ek kan nie heeldag net sit en swot nie.”
“So go for a walk. Of kuier so ’n bietjie.”
“Nee. Ons eet verniet, aan die einde van die shift, dit spaar my goeie geld. En wa’ gan jy meer as vyfduisend kry by die einde van die maand?”
“Groot paint job in Rose Street, ’n hele block of flats. Ek is een van die subcontractors vir Donnie Fish. En dis interior ook, so dit kan ma’ reën. And in any case, the Cape economy is booming again, tourism is up seventeen percent. Ek sê jou, by Desember is daar genoeg vir die helfte van volgende jaar se study fees ook. Jy moet net leer, dat jy selection kan maak. Ek wil nie hê jy moet jou tyd mors met waitressing nie.”
“Dis nie tydmors nie.” Sy kry daardie hardegat-trek op haar mond wat hy van kleins af ken. “En ek sál selection maak.”
Hy weet hy gaan haar nie oortuig nie. “Daai’s wat ek wil hoor.”
* * *
Die vier ekstra Valke-speurders kom aan – luitenant Vusumuzi Ndabeni, klein van gestalte, met sy gemanikuurde bokbaardjie en wakker oë, luitenant Cedric “Ulinda” Radebe, die oudbokser wie se bynaam in Zoeloe “ratel” beteken, kaptein Mooiwillem Liebenberg, die DPMO se aantreklikste speurder en mees gerespekteerde rokjagter, en kaptein Frankie Fillander, die veteraan met die lang litteken van ’n meswond van sy oor tot by sy kroontjie.
Griessel bring hulle op die gastehuis se grasperk op hoogte van sake. Hy moet konsentreer, want die tamheid is ’n vrag wat stadigaan swaarder word. En hy is al hoe meer selfbewus oor sy voorkoms, en die kyke wat hy van sy kollegas kry. Hy vra Ndabeni en Fillander, die twee mees saggeaarde offisiere, om die plaaswerkers te gaan ondervra, en vir Radebe en Liebenberg om met die lyfwagte te praat.
Dan stap hy en Cupido stoep toe om te gaan hoor of Forensies al klaar is. Die wind waai skielik weer koud.
“Global warming?” sê Cupido terwyl hy opkyk na die donker wolke wat weer uit die ooste aankom. “Smaak my elke winter is kouer en natter.”
Griessel se selfoon maak ’n vrolike geluid in sy broeksak. Hy weet wie en wat dit is.
Sy kollega kyk skerp na hom. “Ma’ dis mos ’n iPhone daai.”
“Ja,” sê Griessel.
“Van wanneer af?”
“Vrydag.”
Cupido se wenkbroue sak nie.
“Alexa het dit vir my gegee,” sê Griessel.
Alexa Barnard. Die liefde in sy lewe, die eertyds beroemde sangeres, die rehabiliterende alkoholis, eenhonderd-een-en-vyftig dae al nugter, wat nou stadigaan haar loopbaan herbou.
“Die iPhone 5?”
“Ek weet nie.”
“Jy wietie?” Cupido lag.
Griessel haal die foon uit sy sak uit en wys dit vir hom.
“Jip. iPhone 5. It’s not an Android, ma’ Benna, broe’, daai’s kwaai. Welcome to the twenty-first century. Jy’t nou net gegraduate van appie na pro.”
Cupido was die afgelope maande een van Griessel se tegnologiementors. En hy het lank gekarring dat Bennie ’n Android-slimfoon moet kry. “’n HTC, Benna. Moet net nie ’n Samsung gaan staan en koop nie. Daai ouens is die nuwe Illuminati, taking over the world, gimmick by gimmick. Never trust a phone company that makes fridges, pappie.”
By die gastehuis se voordeur roep Cupido na binne: “Jimmy, is julle klaar?”
Griessel lees gou die SMS op sy skerm. Jou gemis. Sterkte. Kan nie wag vir vanaand. Het ’n verrassing vir jou. xxx
Vanuit die huis kom die antwoord: “Klaar genoeg. Trek net weer skoen-covers en handskoene aan.”
Hulle gehoorsaam woordeloos, en loop dan versigtig deur die portaal, die sitkamer en die gang. Hulle kry vir Dik en Dun in die laaste slaapkamer, besig om vingerafdrukmateriaal weg te pak.
“Paar weird goed gekry,” sê Arnold.
“Ons ook,” sê Cupido. “Júlle twee.”
“Sticks and stones,” sê Jimmy.
“Water van ’n eend se rug,” sê Arnold. “Ten eerste, daar is bloedsproei teen die voordeur, wat nie sin maak met hoe die slagoffers lê nie.”
“Binne of buite?” vra Griessel.
“Aan die buitekant van die deur.”
“Die deur was oop toe ek hier aangekom het. Die bloed kon van binne gekom het.”
“Ons het dit oorweeg,” sê Jimmy, “maar dit maak nog steeds nie sin nie.”
“Ten tweede,” sê Arnold. “Ons het nog ’n doppie in die voorportaal gekry. In die stingels van die varkore. Dieselfde kaliber, dieselfde kobragravering.”
“Een skieter vir al twee slagoffers,” sê Jimmy.
“Ten derde, al die ou se klere is nuut,” sê Arnold. “Soos in splinternuut. En ons praat van alles. Selfs die onderbroeke.”
“Die tas ook,” sê Jimmy. “Net omtrent uit die boks uit.”
“Én sy paspoort.”
“Waar’s die paspoort?” vra Griessel.
“Boonste laai, regterkant, in so ’n leerhouertjie, nuut, fancy,” sê Arnold.
Griessel trap noukeurig oor die golwende tapyt en die beddegoed op die vloer, en trek die bedkassie se laai oop. Die blink swart leerhouer lê daar. Hy tel dit op, rits dit oop. Instapkaarte van Air France en die SAL lê los binne. Dit wys Paul Anthony Morris het die vorige Donderdagaand om 23:20 op vlug AF0990 vanaf Parys se Charles de Gaulle-lughawe na Johannesburg gevlieg, en die Vrydag op vlug SA337 van Johannesburg na Kaapstad. Besigheidsklas, in al twee gevalle.
Die paspoort is in ’n vakkie van die houer gebêre. Griessel trek dit uit. Dit lyk nog baie nuut, die rooi omslag met sy goue letters en landswapen glad en sonder voue of littekens.
Hy maak dit oop, blaai tot by die fotoblad. Dit toon ’n man in sy vyftigs met ’n lang, eweredige gesig, geen sweem van ’n glimlag nie. Die hare is oor die ore, maar netjies geknip, donker, met grys vlerke by die slape. Hy kyk effens af na die kamera, wat Griessel laat wonder of hy lank is.
Regs van die foto is sy geboortedatum – 11 September