Kobra. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobra - Deon Meyer страница 10
“Dis wat ons probeer verduidelik het,” sê Jimmy met oordrewe geduld.
“Het julle ’n beursie iewers gesien?” vra Griessel.
“Nee,” sê Arnold. “As hy een het, is dit saam. Of op ’n ander plek in die huis.”
“Enigiets anders?”
Jimmy steek sy hand in sy trommel en haal ’n deurskynende bewysstuksakkie uit. “’n Cable tie,” sê hy, en hou die sakkie hoog. “Dit was hier, half onder die bed.”
Griessel neem die sakkie en bekyk dit van nader. ’n Kabelbinder van wit plastiek. Dit was vasgemaak, en toe geknip.
“Net die een?”
“Dis reg.”
* * *
Griessel laat die polisiefotograaf eers foto’s van die paspoort neem – die buite-, stempel- en inligtingsblaaie. Hy vra dan vir Cupido om saam met die fotograaf te ry, te wag vir afdrukke, en dit na die Britse konsulaat te neem. “Diplomaties, Vaughn, asseblief …”
“Hoe ken jy my?”
“En bel eers Die Giraffe, hoor of hy die wiele al geolie het.”
“Sure, Benna.”
Hy wou eintlik self gery het, sodat hy kan dink. Oor die saak. En oor sy sondes. En omdat Cupido die mees ondiplomatiese van al die Valke is. Maar nou is hy wat Bennie is JOC-leier. Hy sal eers hier moet bly.
Hy draf deur die motreën na die motorhuis waar Radebe en Liebenberg die twee Body Armour-werknemers staan en ondervra.
Die vier mans staan in ’n hegte kring, wat hulle oopmaak om Griessel in te sluit. Liebenberg stel hom voor aan die twee lenige lyfwagte, Stiaan Conradie en Allistair Barnes. Dieselfde kort hare, breë skouers, swart pakke en wit hemde as die slagoffers. Hul gesigte is stroef.
“Ek is jammer oor julle kollegas,” sê Griessel.
Hulle knik.
Daar is ’n ongemaklike stilte, wat kaptein Willem Liebenberg eindelik verbreek terwyl hy na sy aantekeninge in ’n sakboekie verwys: “Hulle het elke oggend om sewe-dertig die nagskof kom aflos, en vir twaalf ure gewerk, tot negentien-dertig. Die prosedure vir oorhandiging was ’n selfoonoproep van buite, met ‘groen’ en ‘rooi’ as kodewoorde vir veilig of onveilig. Dan is die voordeur van binne oop- en toegesluit. Hulle sê die Britse ou … Morris was vriendelik, maar nie baie praterig nie …”
“Julle moet verstaan, ons moedig nie ’n geselsery aan nie,” sê Barnes met ’n ligte Engelse aksent.
“Dit trek net jou aandag van die werk af,” sê Conradie.
“So hulle weet eintlik min van die ou,” sê Liebenberg. “Hy is so tussen een-komma-agt en een-komma-nege meter lank, min of meer negentig kilogram, swart hare, bruin oë. Hy praat met ’n swaar Engelse aksent. Hy het elke oggend na ontbyt en elke middag na vieruur vir ’n bewaakte wandeling hier op die plaas gegaan vir omtrent veertig minute, en elke …”
“Het hy daarvoor gevra? Vir die wandeling?” vra Griessel.
Conradie antwoord: “Ons gee die kliënte ’n portefeulje van keuses. Dit was een wat hy gekies het.”
’n Portefeulje van keuses. As Cupido hier was, sou hy sekerlik daaroor aangegaan het: Oud-polisieman wat so fancy praat.
“En dis veilig?”
“Veilig is relatief,” sê Barnes. “Tensy die kliënt die nature of the threat met ons deel. Wat meneer Morris nie gedoen het nie.”
Radebe skud sy kop. “Het julle hom gevra?”
“Mejuffrou Louw doen dit. Die agtergrondnavorsing. Sy’t gesê die kliënt het verkies om niks te verskaf nie. Ons verantwoordelikheid is om aan die kliënt die portefeulje van keuses oor te dra, en dit te akkommodeer. As hy meen die bedreiging is van só ’n aard dat dit veilig is om te gaan stap, moet ons dit aanvaar,” sê Conradie.
“Hy het vir ons gevra of ons seker is niemand het hulle van die lughawe af agtervolg nie,” sê Barnes.
“Was julle?”
“As daar enige teken was, sou Fikter en Minnaar dit gerapporteer het.”
“O.K.,” sê Griessel.
7
Die lyfwagte sê Morris het bedags meestal in die eetkamer met sy rekenaar en iPad gesit, en saans voor die vuur met ’n boek wat hy in die sitkamer se boekrakke gekry het. Soms het hy net by die venster in die eetkamer gestaan, die een wat uitkyk oor die Franschhoek-vallei. “I never knew this country was so beautiful,” het hy een keer gesê.
Griessel vra hulle waar hy die rekenaar en iPad gebêre het.
“Hy het nie. Elke keer wat ons daar weg is, het dit nog op die eetkamertafel gestaan,” sê Conradie.
“En as julle eet?”
“Morris het in die eetkamer geëet; ons eet in die kombuis.”
Conradie sien Griessel se frons. “Dis protokol,” sê hy.
“Het hy ’n selfoon gehad?”
“Seker. Ons het hom nooit daarmee gesien nie,” sê Conradie.
“Maar hy kon in die nag sy selfoon in sy kamer gebruik het as julle nie by was nie.”
“Dis moontlik.”
“Hy het julle nooit gevra om iemand te bel nie?”
“Nee.”
“Is daar wifi in die guesthouse?” vra Radebe.
“Ja.”
Radebe maak ’n aantekening.
“Hierdie plek …” Griessel beduie na die wynplaas. “Ek verstaan nog nie mooi hoekom julle hom hiernatoe gebring het nie. Dis nie moeilik om hier in te kom nie, as jy regtig wil.”
Barnes frons, sug sag en sê: “Persoonlike sekuriteit is so goed soos die kliënt se briefing. Ons het safe houses en safe apartments waar jy nie met ’n full SWAT team kan inkom nie, as daar genoeg PSO’s is wat weet wat hulle …”
“PSO’s?”
“Personal Security Operatives.”
“O.K.”
“Maar hierdie ou het niks gesê oor die nature of the threat nie. Ons kan hom nie dwing nie. Die protocol is, as hulle nie specifics gee nie, vertel die baas vir hom van al die options, en dan moet hy self besluit.”
“Hierdie plek is goed as niemand weet jy is hier nie,” sê Conradie.
“Maar