Danda op Oudeur. Chris Barnard

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Danda op Oudeur - Chris Barnard страница 7

Danda op Oudeur - Chris Barnard

Скачать книгу

kyk die konstabel vas in die oë. “Sag soos ’n lammetjie,” sê hy.

      “O, nè?”

      “Hy praat baie groot en so, maar hy’s ’n gawe ou.”

      “Hm,” sê Tiens en wieg op sy tone.

      “Regtig,” sê Danda.

      “Hy’s ’n leuenaar en ’n droster en ’n kansvatter, dis wat hy is.” Tiens buk vertroulik vooroor, loer oor sy skouer en wink Danda nóg nader. “Hoor hier, Daneeltjie,” sê hy, “as jy vir my kan vasstel waar die vent is, gee ek jou die grootste pasella wat jy nog ooit in jou lewe gekry het!”

      Dit sál ’n groot pasella moet wees, dink Danda, as dit ’n groter pasella wil wees as Rosina. “Ek sal kyk, Oom.”

      Tiens glimlag weer en knipoog vertroulik.

      “Hoekom soek Oom hom?”

      “Dis polisiesake.”

      “O,” sê Danda. “Nou maar goed, Oom. Tot siens, Oom.” En hy draai om en stryk straat af sonder om om te kyk. As dit dan sulke danige polisiesake is, dink hy, hoekom soek Tiens hom nie self nie?

      In die klas wens hy die periodes om. Kort pouse kry hy weer nie vir Rosina te sien nie, maar lang pouse loop hy haar op die stoep raak. Sy kyk anderpad toe sy hom sien, maar hy weet ook al – op die skoolwerf is sy altyd skaam en afsydig, soos sy aan die begin was. Maar Woensdae-middae langs die see word sy haarself – nog skaam, ja, maar ten minste nie afsydig nie.

      “Rosina,” sê hy, “kan jy vanmiddag kom?”

      Sy skud haar kop.

      “Probeer kom, man; ek het ’n klomp goed om jou te vertel,” sê Danda.

      “Ek kan nie,” sê sy net.

      “Probéér!”

      Daar is skielik voetstappe agter hulle en Rosina stap haas­tig verder, haar kop effens skuins soos altyd wanneer sy verleë voel.

      Die middag wag hy vir haar by die ou vissershawe, maar soos hy verwag het, daag sy nie op nie. Die diere is saam met hom en ’n rukkie speel hy met Vlooi in die vlak brandertjies. Toe begin hy koers kry Puntjie toe. Vetvoet het nie gesê hoe laat hy by die grot moet wees nie, maar enige tyd is seker goed genoeg.

      Dis herfs en die middag is winderig en die see lê grys onder die bleek lug. Maar die diere is baldadig en Vlooi en Ratel hardloop ente vooruit – Vlooi vooraan en Ratel mankerig agterna. Kiki vlieg wye draaie en probeer die seemeeue jaag, maar hulle is gans te slim vir hom. En Sindo, bangbroek wat hy is, kruip in Danda se hempskraag weg; hy kan maar net nie die lawaai van die branders verdra nie.

      Naby die wrak van die Constantine, ’n ou treiler wat halfpad Puntjie toe op die sand lê, gaan Danda staan. Verbeel hy hom of het hy iemand hoor roep? Hy kyk rond en sien hoe Vlooi met gespitste ore staan en kyk – terug, na waar hulle vandaan kom. Hy kyk om en sien ’n man haastig aangestap kom. Toe die man sien Danda gewaar hom, beduie hy iets met sy arms. Ratel merk ook onraad en kom staan hier by Danda se voete. Hy probeer sy bes om gevaarlik te lyk en kyk kort-kort op om te sien of sy baas dit raaksien.

      Eers toe die man naby is, herken Danda hom. Dis Luis.

      “Waar loop jy so alleen rond?” wil Luis al van ver af weet.

      Deesdae wil almal skielik weet waar hy so alleen rondloop, dink Danda. Wat makeer hulle? Hy loop al sy lewe lank alleen rond en niemand was nog ooit daaroor bekommerd nie. Dis in elk geval beter om alleen te wees. Waar daar mense is, is daar tog net altyd moeilikheid.

      “Ek sê,” sê Luis, “wat dwaal jy so?”

      “Sommer,” sê Danda.

      Vlooi kom nader en knor – en Luis steek vas. “Byt hierdie brak van jou?” vra hy.

      “Hy’s g’n ’n brak nie,” sê Danda, “en hy byt dat dit bars.”

      Luis betrag vir Vlooi en kan skynbaar nie besluit of hy Danda moet glo of nie. Hy snuit sy neus op die sand en kyk oor die see. “Het jy gehoor van Sarel?” vra hy.

      “Wat van hom?”

      “Dis juis wat ons nie weet nie. Hy’s weg. Vanmôre toe ek hom in sy kamer gaan soek, toe’s die deur afgebreek en sy bed is deurmekaar en vol bloed en als. En hy’s skoonveld.”

      “Bloed?” Die wind laat Danda skielik koud kry.

      “Al van hom wat agtergebly het, is sy skoene en sy hemp. En die hemp flenters. Kompleet in twee stukke.”

      Danda kan nie glo wat hy hoor nie. Hy hou Luis baie fyn dop – soek iets in sy gesig, in sy oë, iets wat hom sal laat weet dis ’n set hierdie. Maar Luis lyk doodernstig.

      “Dis nie waar nie, Luis.”

      “Hoekom sal ek oor só iets lieg?” Luis krap op die plek waar sy regteroor moes gewees het. “Die arme blikskater is dalk dood!”

      Vetvoet? Dood? Danda sluk. Dit kan nie wees nie …

      En voor hy hom kan keer, swaai hy om en begin hardloop. Nie strand langs nie, sommer tussen die rooikransbosse in, ’n duin uit, deur die melkhout. Hy hoor hoe Luis iets agterna­roep, maar hy wil nie hoor nie. Hy hardloop net. Anderkant die duin af. Hy rus nie voordat hy agter om Puntjie se rots verby is nie. Arme Ratel is teen dié tyd so moeg van probeer bybly dat hy skaars kan loop. En dis mos nou van Ratel: hoe moeër hy is, hoe manker is hy.

      Danda sit ’n hele ruk in die skaduwee van ’n deurmekaarbos. Hy wag om te sien of Luis dalk probeer agternakom. Maar ná omtrent ’n kwartier is daar nog geen teken van hom nie.

      Luis het nie gejok nie. ’n Mens kan in iemand se oë sien as hy jok, en Luis se oë was swart en sonder die geringste sweempie van onsekerheid.

      Kon Pontak-hulle vir Vetvoet kom haal het? Hulle het dalk geweet waar Kalkoen hom wegsteek. Dalk het hulle hóm gesien toe hy daar was en het dít hulle op Vetvoet se spoor gebring. Kiki het juis so lawaai.

      Die wind skeer oor die bossies en die duine en in die weste stoot daar lae wolke voor die son in – groot, grys, slierterige wolke wat van die berge af see toe waai. Danda staan op, fluit vir die diere en begin stadig al tussen die duine langs aanstryk, terug Puntjie toe. Maar hoe verder hy stap, hoe haastiger word hy. Hoekom gee iemand pad sonder sy skoene en sy hemp as hy nie met geweld …

      Maar Vetvoet is so sterk soos ’n bees. Dit sou ’n hele paar man moes gekos het om hóm saam te neem. En so ’n gestoei en gespartel sou mos aandag getrek het.

      Danda begin weer draf.

      Hy swaai regs en steek dwars oor die duinrûe. Maar Ratel sukkel om by te bly en kort-kort moet hy eers wag dat die ou manke kan rus. Sindo en Vlooi snap blykbaar dat daar onraad is, want albei is onrustig. Vlooi hardloop nie meer so ver vooruit nie; hy bly heeltyd naby en op sy hoede en Sindo probeer aanmekaar om onder Danda se hemp in te kom. Net Kiki het vrede met die wêreld, vlieg wye draaie, koggel vir Ratel en probeer sy bes om soos ’n hond te blaf.

      Die see is skielik weer sigbaar voor hulle, vaal en vol donserige skuimkappies. Danda

Скачать книгу