Die lang pad van Stoffel Mathysen. Christiaan Mathys Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes страница

Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes

Скачать книгу

ection>

      

      Die lang pad

      van Stoffel Mathysen

      Christiaan Bakkes

      Human & Rousseau

      Aan Brent Pirow

      John en Ingrid Ferguson

      en mnr. David Jenkins

      1

      My naam is Stoffel Mathysen. Deur my eie toedoen het ek alles verloor. Ek besluit toe om weg te loop.

      Ek het my reis in Kaapstad begin. Twee weke voor my vertrek het ek by my vriend Bok gebly en soos gewoonlik as ons bymekaar is, het dit rof gegaan. Ons het tot die vroeë môre-ure in kroeë en nagklubs rondgelê en met die skuim gemeng.

      Toe ek uiteindelik besluit om my voorneme uit te voer en die pad te vat, het Bok my van sy huis in Drieankerbaai na Langebaan geneem. Dit was begin Maart en koud en bewolk. Vir ’n paar dae lank het ek sonder rigting tussen Langebaan en die Weskuspark rondgedwaal. Ek was terneergedruk en onseker.

      Nou was dit finaal, te laat om om te draai. Ek het gesmag om terug te draai, terug te keer na my ou lewe: my familie, vriende en na Marissa. Maar alles het onherroeplik verander en ek het geweet daar is geen terugkeer nie. Die grou weer het bygedra tot my somber gemoedstoestand.

      Teen die middag van die tweede dag begin die son deur die wolke breek. Ek kry rigting en ek stap, Velddrif se koers in. Die afgelope maande van niksdoen en frustrasie het my vet en lui gemaak. Ek het troos in kafeekos en bier gesoek. My rugsak en stewels is nog nuut en skaaf my. Na ’n ruk blaas en sweet ek. Dit neem lank voor iemand my oplaai.

      By Lambertsbaai draai ek binneland toe. Ek wil die Sederberge gaan uitklim. Ek wil kyk of ek in my huidige toestand nog deur die Wolfbergskeure kan kom.

      Die paar dae in die Sederberge doen my goed. Ek kom met min moeite deur die skeure en die fisieke oefening maak my lyf weer gewoond aan inspanning.

      Vanaf Clanwilliam kry ek ’n geleentheid saam met ’n diamantdelwer tot by Garies. Ek stap die grootste deel van die pad tussen Garies en Kamieskroon. Dis droog. Blomtyd lê nog ver. Vanaf Kamieskroon na Springbok ry ek saam met ’n pakkamer-voorman. Hy nooi my uit om ’n paar dae by hom te bly. Ek aanvaar sy uitnodiging en maak van die geleentheid gebruik om die blase wat my nuwe stewels veroorsaak het, te dokter. Ons gaan speel elke aand snoeker in die Springbok Hotel. Ek speel nie meer so goed soos vantevore nie, maar is tevrede om ’n paar balle te sink voordat hy my wen. Voorheen was hy ’n luitenant in die weermag se pantserkorps en het ’n tenk aangevoer. Tot hulle hom nie meer nodig had nie. Hy haat sy huidige lot as pakkamervoorman. Ons kuier tot laat elke aand in die hotel. Teen die Vrydag bied hy aan om my na my vriend Nakkie op Port Nolloth te neem. Nakkie is my en Bok se ander groot maat.

      Die pakkamervoorman laai my af by Port Nolloth se hotel. Daar vertel iemand my dat Nakkie eintlik in McDougalbaai bly, so drie kilometer met die kus langs. Ek stap soontoe. By McDougalbaai moet iemand my nog verduidelik waar sy woonstel is.

      “Hoe lykit, my Tjaina?” roep Nakkie uit toe hy my sien aankom. Ons val mekaar om die nek. Agter hom kom sy vrou met hul dogtertjie op die heup uitgestap.

      2

      Dit was laat in ons standerdsewejaar dat ek een Vrydagmiddag in die agterplaas ’n vriend van my se been flenters geskiet het met ’n tuisgemaakte bom. Maandag word dit voor die hele skool afgekondig. Lekker vir my. Die skoliere word gewaarsku om nie met plofstowwe en chemikalieë te speel nie. Daarna word ek na die skoolhoof se kantoor ontbied.

      By die kantoor wag Nakkie en Bok alreeds voor die deur. Hulle is Vrydag gevang stokkiesdraai. Ons kry elk ses houe met ’n rottang. Toe ons uitstap, is daar respek vir my in Bok en Nakkie se houding. Die feit dat ek mense se bene afskiet, het my aansien in hul oë laat kry. Ons stap na die kleedkamer toe en vergelyk die blou hale oor ons boude. Net daar sluit ons ’n verbond. Fok skool. Skool is sommer kak.

      Daardie middag onttrek ons ons aan die skool se waterpolospan, onder groot protes van ons spanmaats en ten spyte van dreigemente van ons afrigter. Ons sluit aan by ’n buitemuurse waterpoloklub en kry plek in die B-span. Spoedig speel ons wedstryde teen myners op die Oos-Rand, spanne van weermageenhede en studente. Ons is skoolseuns wat teen groot manne speel. Ons raak fiks en taai. Teen die einde van standerd nege is ons ’n hegte, onoorwinlike driemanskap.

      Na skool gaan doen ek my eie ding. Bok studeer argitektuur en breek vroueharte. Hy vestig hom as argitek in die Kaap en verskyn elke week met ’n ander meisie aan sy arm. Nakkie doen sy diensplig en word ’n valskermsoldaat. Hy is vir agtien maande in Angola en is nie heeltemal dieselfde toe hy terugkom nie. Na sy diensplig verwerf hy sy industriële duiklisensie en word ’n diamantduiker in Port Nolloth. Toe ek ’n paar jaar gelede saam met Nakkie vakansie hou in Knysna, vertel sy meisie ons op ’n dag dat sy swanger is. Hulle is ’n maand later getroud.

      Vir die volgende twee weke kuier ek saam met Nakkie en die diamantduikers van Port Nolloth. Ek gaan saam uit op die bote en sien hoe manne gruis van die seebodem pomp. Dit word gesif totdat die diamante tussen die fyn gruis verskyn.

      As die see rof is, gaan vang die manne snoek of kuier hulle in die kroeg. Dit is harde manne wat harde werk doen. Almal lyk dieselfde. Lang hare en baarde. Wolmusse en truie teen die Weskus-koue. Daar word kwaai gedrink. Almal het ongeneeslik diamantkoors. Almal hoop vir die jackpot, die dag wanneer jy ’n diamantpyp onder die see raak pomp. Dit is die dag wanneer jy ophou duik. Dan pak jy jou goed, roep Port Nolloth en die Weskus vaarwel toe en gaan vestig jou op ’n rustige vissersdorpie, maak ’n seekosrestaurant of ’n viswinkel oop en begin ’n normale bestaan voer. Vir die oorgrote meerderheid is dit ’n dag wat nooit kom nie.

      Een oggend vroeg kom Nakkie se duikmakkers hom haal. Die see het kalmeer en hulle moet gaan duik. Ons groet en hy spring agterop die bakkie op pad kaai toe. Later neem sy vrou my na die taxi-staanplek. Ek klim op ’n minibus en sit my reis voort.

      3

      Die minibus neem my van Port Nolloth na Steinkopf. Dis die laaste dorp voordat ’n mens die Namibiese grens bereik. Ek laai my rugsak op my rug en stap in die rigting van die N7. Ek is nou gretig om die grens oor te steek – stof van my voete . . . Ek kan al klaar voel dat die stap en klim van die afgelope weke en die swemmery in Port Nolloth se koue Weskus-see my liggaam goed gedoen het. Ek voel asof ek my stamina begin terugkry. Van seelug en son is my gesig nie meer bleek nie. Ek kyk af na my bene en sien die spiere begin weer vorm kry en bult.

      By die N7-aansluiting staan ’n ryloper langs sy rugsak. Ek is nie lus om saam met iemand anders te reis nie. Hierdie reis moet ek alleen onderneem. Die ryloper is geklee in ’n neon-oranje sweetpakbroek, ’n pienk T-hemp met ’n visnetfrokkie bo-oor. Hy het ringe in albei ore. Onder sy teruggestote tartan-petjie is sy hare borselkop geskeer. Sy gesig helder op toe hy my sien. “Ek is bly om jou te sien,” praat hy in Engels met ’n Australiese of Nieu-Seelandse aksent. “Ek staan nou al van sonop langs die pad en niemand wil my oplaai nie.”

      “Ek wonder hoekom?” sê ek in Afrikaans.

      “Ek is op pad Namibië toe. Waarheen gaan jy?”

      “Ook op pad Namibië toe.”

      “Dan kan ons saamreis. Ek is nou al ’n maand lank in Afrika, die meeste van die tyd in Kaapstad. Ek is op pad Nairobi toe. Ek moet oor drie maande daar wees. Ek is eintlik ’n bietjie verlore. Ek sukkel verskriklik om ’n geleentheid te kry. Die

Скачать книгу