Die lang pad van Stoffel Mathysen. Christiaan Mathys Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes страница 4

Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes

Скачать книгу

hok vir ’n tweede keer gestel. Nog drie dae later het ek ’n bruin hiëna gevang. Dié het ek ook op die wildplaas gaan loslaat.

      Aan die einde van daardie jaar moes ek vir twee jaar weermag toe. Eers was ek teensinnig. Maar wat kon ek doen? Almal moes gaan. Bo almal se verwagting is ek na my basiese opleiding gekeur vir die junior leierskursus. Na ’n jaar se opleiding is ek as tweede luitenant na die operasionele gebied gestuur. Toe my dienstydperk verstryk, was ek lief vir die soldatelewe. Om na ’n lang en uitputtende patrollie terug te kom na die geselskap van makkers in die offisiersmenasie was altyd vir my spesiaal.

      Na ons militêre diens het ek en ’n medeoffisier in die Wes-Caprivi agtergebly. Ons het aangesluit by Namibië se Departement van Natuurbewaring en met teenstroper-operasies begin. Ons het Boesman-oudsoldate gewerf, opgelei en as teenstropereenhede aangewend. Vir ’n jaar lank het ons oorlog gemaak teen mense wat onwettig olifante jag vir hulle ivoor. Die opwinding van rivier- en voetpatrollies op die spoor van stroperbendes was groot en die uiteindelike sukses wanneer ons hulle in die bos in ’n hinderlaag betrap.

      Maar ek wou Krugerwildtuin toe. In hierdie tyd het ek aansoeke gerig, maar ek is elke keer afgekeur. Ek het besluit om terug te gaan na Suid-Afrika. Na ’n jaar in die Caprivi het ek my vriende gegroet en weer begin werk op wildplase in die Noord-Transvaal. Dit was egter nie meer dieselfde nie. Die wildernis van die Caprivi met sy vloedvlaktes en sy groot troppe wild het in my lyf kom lê. Ek het verlang en toe ek na ’n onderhoud weer eens ’n pos in die Wildtuin misloop, het die frustrasie hoog geloop. Maar daarmee saam die vasberadenheid.

      Ek het uiteindelik aansoek gedoen as gids en veldwagter in ’n groot wildreservaat wat aan die Wildtuin gegrens het. Hier moes ek ryk, verveelde buitelandse toeriste te voet of met ’n Land Rover grootwild wys. Dit was nie vir my die ideale situasie nie, maar nou was ek nader aan die vuur en ek het bly aansoek doen. En uiteindelik het die owerhede besluit dat ek nou groot en ervare genoeg is om by hulle aan te sluit. Hulle het laat weet dat ek op Skukuza moes aanmeld. My vreugde het geen perke geken nie.

      Toe die rooibosvuur se kole dof begin gloei, die rooibokvleis opgeëet is en die veldwagters na hul bakkies toe begin aanstap, kom Mick by my staan en plaas iets in my hand.

      “Dra dit met trots,” sê hy, “jy verdien dit.”

      Hy stap weg in die nag. Ek maak my hand oop en kyk. Die geelkoperkenteken glim dof in die laaste lig van die vuur. Ek moet dit saam met my uniform dra. In groen letters staan daarop geskryf: Veldwagter.

      5

      Ek word wakker op my seegrasbaal. Die trok skommel steeds voort. Die dag het goud gebreek oor die woestyn. Vir ’n rukkie lê ek en kyk na die duine wat voor die oop skuifdeur verbydryf. Ek haal my beursie uit my hempsak en vou dit oop. Binne-in vasgespeld is die geelkoperplaatjie met groen letters op. ’n Gevoel van matelose verlies kom oor my.

      Anthony Breslin begin roer op sy baal. Hy lig sy kop en knip sy oë. “Is ons amper daar?” vra hy.

      “Breslin,” sê ek, “jy is eintlik olraait. As ons in Lüderitz kom, koop ek vir jou ’n bier.”

      “Ek drink nie bier nie. Ek rook net boom.”

      Die vragmotor trek Lüderitz binne en ek en Anthony spring af by die Zum Sperrgebiet Hotel. Ons gaan binne en sit aan vir ’n hartlike ontbyt teen ’n redelike prys. Vir die personeel en gaste moes ons na ’n eienaardige paar gelyk het, een in ’n helderkleurige uitrusting en die ander in kakie.

      Vir die res van die dag drentel ons deur die strate van Lüderitz en besoek besienswaardighede. Dit neem nie lank nie. Ons gaan na die openbare kampplek op ’n klein skiereiland in die baai en rol ons slaapsakke uit aan die voet van die monument vir Adolf Lüderitz, die handelsreisiger uit Bremen, op wie se aandrang Von Bismarck uiteindelik die hawe by Angra Pequena in die naam van Duitsland geannekseer het. Ons besluit om die volgende dag besoek af te lê by Kolmanskop, die spookdorp in die woestyn wat deur diamantdelwers gebou en uiteindelik agtergelaat is. Daarna wil ons terug Keetmanshoop toe ryloop. Anthony wil die Visrivier-skeurvallei verken. Ek wil noord. Windhoek toe.

      Om my bak die woestyn in ’n ongenaakbare hitte. Dit is namiddag. Die vel op my bene is rooi geskroei. My hoed is skamele verweer teen die son. Noord en suid van my strek die teerpad loodreguit en eindeloos. Daar is nie ’n skadukol in sig nie. Ek sit kop onderstebo op my rugsak langs die pad. In die verte hoor ek ’n voertuig. Vol verwagting spring ek op. Die klank kom nader. Die spikkeltjie op die teerpad word groter – ’n Mercedes. Ek steek my duim uit. Op ’n afstand sien ek dis net die bestuurder in die kar. Baie plek vir my en my pak. Die voertuig het ’n Windhoek-registrasienommer. Die blonde man agter die stuurwiel draai sy kop nie eers effens in my rigting nie en jaag verby.

      “Ag, gaan kak, man!” vloek ek die voertuig agterna.

      Gistermiddag het ’n meubelwa vir my en Anthony Breslin op Keetmans afgelaai. Anthony het amper onmiddellik ’n geleentheid Ai-Ais toe gekry. Ek het met die hoofpad verby die dorp gestap in ’n noordelike rigting. Aan die ander kant het ek gewag. Die paar karre wat verbygekom het, het beswaarlik van my notisie geneem. Ek het daar gestaan tot sononder. Toe het ek terug dorp toe gestap. In die verlate woonwapark het ek my op ’n grasperk tuisgemaak.

      In die nag het dit begin reën. Toe ek wakker skrik, was my slaapsak al klaar halfnat. Ek het alles opgeraap en in die ablusieblok ingetrek. Daar het ek gewag dat dit moet ophou reën. Slaap het nie weer gekom nie en vir die res van die nag het ek op en af deur die ablusieblokke geloop en vir myself in die spieëls gestaar. In die vroeë môre-ure het ek my derde warm stort geneem en teen halfvyf het ek my pak op my rug gelaai, die dorp uitgestap en langs die pad gaan staan.

      Die enkele motors wat verbygery het, het my geïgnoreer. Teen sewe-uur het ’n plaasboer in sy bakkie stilgehou.

      “Kom kyk na die kokerbome op my plaas.”

      Ons is na sy plaas toe, dertig kilometer buite die dorp. Daar het ons rondgeloop en hy het aan my verduidelik dat die kokerbome op sy plaas baie groter en indrukwekkender is as die kokerbome in die kokerboomwoud nader aan die dorp. Ek het hom geglo. Hy het my kom aflaai langs die grootpad. Waar ek nog steeds staan. Omtrent elke uur kom daar ’n kar verby, gewoonlik met genoeg plek vir my en my rugsak. Maar nie een stop nie.

      In die verte kom weer ’n voertuig aan. Dit word ’n bakkie. Die man trek van die pad af. Pine Pienaar is met sy bruin vrou en hulle kind op pad Gobabis toe en ry deur Windhoek. Ek kan agterop klim, sê hy, maar waarsku dat hy nie haastig is nie. Ek laat my nie twee keer nooi nie. Hy maak vir my plek agterop tussen sy bagasie. Nou is ek weer op koers Windhoek toe. Daar wil ek twee dinge doen. Vir werk gaan soek en vir Katrina opspoor.

      Dis na middernag toe Pine Pienaar my by ’n woonwapark buite Windhoek aflaai. Ek is doodmoeg. Ek betaal by die ingang vir kampplek en stap in die rigting wat die hekwag my beduie. Iewers vanuit een van die hutte hoor ek musiek en mense wat sing en lag. Iemand hou groot partytjie. Ek is te moeg om my daaraan te steur. Ek soek vir my ’n graskolletjie uit en rol my slaapsak oop. Ek slaap dadelik.

      ’n Skok ruk deur my bene en my voete voel asof hulle vergruis word. Verward sit ek regop. ’n Minibus vol singende Duitsers ry in die rigting van die uitgangshek. Hulle het bo-oor my voete gery. Ek wil opspring en agterna hardloop, maar my voete is te seer. Ek weet nie of hulle gebreek is nie. Ek sit my tone en wikkel en dit voel asof alles nog funksioneer. Na ’n lang ruk, nadat ek redelik seker is my voete is nie gebreek nie, is die minibus reeds ver weg. Ek skuif my slaapsak verder van die pad af en slaap weer.

      Dis Sondagoggend in Windhoek en die strate is doodstil. Ek soek na Katrina. In haar laaste brief aan my, ’n jaar gelede, het sy geskryf dat sy dansklasse

Скачать книгу