Die lang pad van Stoffel Mathysen. Christiaan Mathys Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes страница 7

Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes

Скачать книгу

hoofsaaklik Duits, maar met Lena se hulp en na ’n paar biere gesels ons aanmekaar.

      Die son sak en die kliprantjies om ons word rooi. Die bier laat my ontspan en ons eet brood en kaas. Ek en Hans ruil jagverhale uit. Katrina vertel van dansproduksies. Sy is oorwerk en ek sien dat sy ook ontspan. Elke nou en dan flikker haar groot bruin oë na my kant toe en dan glimlag ons vir mekaar.

      Aand word nag en daar word Afrikaanse, Duitse en Nama-liedjies gesing. Hans is uitgehonger vir geselskap en elke nou en dan gooi hy sy kop terug, lag uitbundig en klap sy hande. Ek kan my voorstel dat hy nie baie vriende onder die dorpenaars het nie. Ek vra nie uit oor sy vrou en kinders in Frankfurt nie.

      Dis laat toe ons ophou kuier. Hans wys ons die badkamer en neem ons na ’n slaapkamer met ’n dubbelbed. Hy en Lena verdwyn in ’n ander slaapkamer en trek die deur toe. Katrina gaan bad en ek staan buite en kyk na die sterre. Katrina maak klaar in die badkamer en ek spring onder ’n warm stort in. Dis ’n lafenis.

      Katrina sit op die bed toe ek die kamer inkom. Sy het ’n lang T-hemp aan. Haar hare is los en sy kyk my van onder haar krulle aan. Ek gaan sit by haar. Sy begin oor my kaal bolyf streel.

      “Ek hou van ’n man met littekens,” sê sy.

      “Ek dink ek oordoen dit so ’n ietwat,” sê ek.

      “Ek dink dis sexy.”

      “Ek is nie trots daarop nie, Katrina.”

      Sy streel die knoetserige litteken wat oor my regterskouer strek. Met haar voorvinger trek sy ’n lyn oor die beskadigde weefsel, waar my bisepspier eens op ’n tyd was. Haar hand volg die litteken tot waar dit by my voorarm stop. Sy rus haar hand op myne. Met haar ander hand streel sy oor my linkerboarm. Haar hand raak aan my kunsvoorarm. Sy streel die sintetiese materiaal asof dit vlees en bloed is. Sy hou die vlekvryestaalhaak, wat my linkerhand vervang, vas.

      “Ek dink dis baie sexy,” fluister sy. Sy laat die band van my kunsarm, wat agter my rug oor my regterskouer vasgegespe is, van my rug afgly. Dan haal sy my kunsarm af sodat die kort stompie onder my linkerelmboog oop sit. Sy skuif die kunsarm eenkant toe en dit val van die bed af.

      “Stoffel, dis nie reg om met ’n mens se vriende te vry nie.”

      “Ek en jy sal altyd vriende wees, Katrina,” sê ek hees.

      Sy trek my na haar toe en hou my vas. Haar mond is nat en sag. Haar liggaam is warm.

      6

      James Mathebula, my kok en kampopsigter, maak keel skoon. Hy gooi warm water in die emaljewasbak op die staander buite my tent.

      “Auxeni, James,” mompel ek en sit regop in my kampbed.

      “Auxeni,” groet hy terug. Ek gaap, rek my uit en kyk op my horlosie. Vieruur in die oggend. Ek staan op en was my gesig. Dis nog stikdonker en James het ’n lantern langs die wasbakstaander neergesit. Ek stap terug in die tent in en begin aan te trek: ’n kakiekortbroek en groen boshemp met Parkeraad-epoulette op die skouers. Dis nie standaarduniform nie en die grootbase op Skukuza sal frons as hulle my so sien. Maar hulle kom in elk geval so min in die veld dat ek my nie aan hulle steur nie.

      Ek trek my stewels en kamaste oor wolkouse aan en gespe my lyfband om my middel vas. Dis ’n dik leerband waaraan ’n waterbottel, ’n mes en ’n rewolwerholster kan hang. Ek neem my .44 Magnum-rewolwer van die tafeltjie langs my bed, gaan hom na (hy bly altyd gelaai) en druk hom in die holster. Daarna vat ek my .458 Brno-geweer, trek die slot oop en maak seker dis gelaai. Ek neem vyf addisionele rondtes van die tafeltjie af en druk dit in die leerogies aan my lyfband. Ek druk my boshoed in my lyfband en hang my verkyker om my nek.

      Toe ek by die tent uitstap, lê die eerste rooi van die nuwe dag agter die Lebomboberg in die ooste. Langs die kampvuurtjie op gloeiende kole staan ’n ketel koffie en op die tafeltjie het James bekers, melk, suiker en beskuit uitgesit. Ek skink my eerste koppie koffie en gaan sit op ’n kampstoel by die vuur en tuur uit oor die donker bosveld. Ek luister.

      Ver na die suide weerklink ’n enkele brul uit die donker op. ’n Mannetjie wat alleen loop. Byna onmiddellik antwoord twee leeus saam, nader aan die kamp na die suidooste toe. Daar’s die trop nou. Ek skat hulle so drie kilometer weg.

      ’n Stil, groot figuur sluit uit die donker by my aan. Dis Filliosse, my Shangaan-assistent, geklee in ’n groen oorpak en boshoed, met sy geweer oor sy skouer en die mediese sak op sy rug. Hy luister ook. Die leeus brul weer.

      “Hulle is op die Guwenispruit. Dis naby, ons sal hulle kry,” sê hy in Shangaan en skink vir hom koffie in.

      Die staptoerlede sluit stuk-stuk by die vuur aan en skink vir hulle koffie. Hulle is vol afwagting. Hulle het ook die leeus gehoor. Dit word nou vinnig lig. Dit is die eerste dag van die staptoer. Die stappers praat gedemp met mekaar. Hulle is onseker oor wat om te verwag. Party twyfel aan hul fiksheid, ander wonder hoe hul sal optree in geval van ’n konfrontasie met wilde diere. Die vrouens sit stil om die vuur. Die mans probeer hul onsekerheid agter bravade verskuil. Toe hulle klaar koffie gedrink het, is dit lig genoeg om te stap.

      Ons verlaat die kamp in enkel gelid. Direk agter my loop Filliosse, met die agt staptoerlede agterna. Gisteraand om die kampvuur het ek aan die stappers verduidelik waarom Filliosse agter my loop: In die bos kom gevaar meestal van voor. As iets mý onderstebo loop, is Filliosse nog daar om die staptoerlede te beskerm.

      Dis ’n koel oggend en ek rek my treë. Oor ’n halfuur gaan die son oor die Lebombo’s verskyn en dadelik begin bak. Dan wil ek reeds op die leeus se spoor wees. Klein troppe sebras en wildebeeste hardloop uit ons pad uit en hou ons van ’n afstand dop. ’n Ent weg bekyk ’n kameelperdbul ons uit die hoogte. Dit het die vorige nag liggies gereën en die nat gras deurweek my stewels. Ek stop vir ’n oomblik om vir die stappers twee reuse-ooruile uit te wys wat in ’n njalaboom hul tuisgemaak het na ’n lang nag se jag.

      Net soos Filliosse voorspel het, kry ons die leeuspore op die Guwenispruit. Daar is drie volwasse wyfies, ’n paar groot welpe en vier jong welpies. Ek en Filliosse hurk by die spore. Hulle is omtrent ’n uur voor ons. Dis nog nie te warm nie en hulle sal nog ’n ruk loop voordat hulle vir die dag sal rus. Ek wys die spore aan die staptoerlede en verduidelik dat ons hulle gaan volg. Dit kan ’n lang dag word en ek wil ’n bietjie aanstoot voor dit te warm word. Ek toets die wind. Die leeus loop suid met die spruit langs. Daar stoot ’n ligte suidoostebriesie. Hulle sal ons nie ruik nie.

      Op die klam grond is die spore maklik sigbaar. Filliosse is ’n ervare spoorsnyer. Ek leer nog. Spoorsny is spanwerk. Ons los mekaar af. Eers loop Filliosse op die spoor en ek hou die bosse voor ons dop. Dan sny ek spoor. Ek moet veel meer konsentreer as Filliosse en neem langer, maar hy loop geduldig agter my, sy oë soekend na leeus voor ons.

      Die leeus is duidelik nie haastig nie. Hul spore kronkel heen en weer oor albei oewers van die droë rivierloop. Telkens wyk hulle af, maar bly rofweg in lyn met die spruit. Enkele steen-bokkies wip voor ons uit, maar verder is die veld stil. Die Laeveldse somerhitte neem toe en ek voel hoe die sweet by my rug begin afloop. Agter Filliosse blaas en steun die stappers.

      Filliosse kry die plek waar hulle eerste gaan lê het. Die welpies word nou moeg. In ’n oop turfkol kan ek net-net die dowwe kolle sien waar hulle gerus het. ’n Paar graspolle is ook platgestoot. Hulle het sekerlik aangestoot na die fontein in die rivierbedding waarvan ek en Filliosse albei weet. Hulle kan dus nie meer ver wees nie.

      Ons hoor die leeus voor ons hulle sien. ’n Dowwe gegrom uit ’n rosyntjiebos links voor ons. In een beweging

Скачать книгу